Dag 1480-1482

 

“maar van die begin af was dit nie so nie”

(Matt. 19:8b, AOV)

Ons is op ‘n afdraaipad van ons hooftema, en gebruik die geleentheid om oor ‘n onderwerp te skryf wat deur die eeue geweldig aktueel gebly het, miskien veral omdat daar soveel verskillende menings uit geloofskringe daaroor gehuldig word. Die vorige Manna het grootliks gehandel oor die misterie van een-heid in ‘n huweliksverhouding, en moes toe noodwendig lei na die implikasies van seksuele gemeenskap buite die huwelik.

In ons verkenning is breedvoerig verduidelik waarom die begrip sielsbande foutief is om te gebruik, want dit wat met seksuele gemeenskap verenig word, is veel eerder liggaam as siel. Daar is dus eerder wat ‘n mens kan noem liggaamsbande, en ons gaan aan die einde van die Manna bietjie meer informasie daaroor bied. Gemeenskap buite die huweliksverbond het bepaald ook hierdie liggaamlike integrasie tot gevolg. Daarom het ons dit kategories gestel, uit Bybelse oogpunt, dat dit so is dat alle seksuele gemeenskap, selfs met ‘n hoer, noodwendig impliseer dat die persone een vlees met mekaar word.

Die vorige Manna is afgesluit met ‘n absoluut belangrike punt. Wat die Bybel in Ef. 5:32 oor die huwelik ‘n “verborgenheid” noem, daardie Goddelike eenwording tusssen man en vrou, is nié net seksuele verkeer nie, want dit is volgens Mark. 10:9 NET God wat hierdie samevoeging doen, en dit gaan nie net gemaklik gebeur met ‘n (on)willekeurige uitwoed van passie nie. Dit is uiteraard ook nie die formele huweliksbevestiging deur die staat, of die godsdienstige praktyk van egverbinding in ‘n kerk of tydens ‘n formele seremonie nie. Die deursnee kerk of geestelike leier glo egter nie dít is Bybels nie – ek haal Daniel Louw aan wat op die baie behoudende blog Glo Die Bybel oor die saak die volgende te sê het: “Ek dink ‘n mens moet dit sien dat ‘n seksuele verhouding gelykstaande is aan ‘n belofte voor God tussen ‘n man en vrou om lewenslank aan mekaar verbind te wees ‘tot die dood ons skei’. As ‘n mens die saak so sien, dan is daar werklik GEEN rede hoekom enige paartjie seks voor die huwelik hoef te hê nie. As ‘n paartjie seks het, en daarmee effektiewelik ‘n belofte aan God gemaak het om lewenslank aan mekaar getrou te bly, dan kan ‘n mens net sowel hierdie belofte in die openbaar maak. ‘n Mens moet onder geen omstandighede dink dat ‘n belofte aan God ligtelik gesien kan word nie.” (http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/76-huwelik-kat/56-die-bybel-oor-seks-voor-die-huwelik.html).

Ons verstaan van hierdie saak is egter duidelik glad nie só klinkklaar en eenvoudig nie. Maar dan, wat sou hierdie Goddelike “eenwording” tog impliseer?

In Manna Dag 429-432 is reeds uitvoerig oor hierdie geheimenis geskryf – gaan lees dit asseblief weer. Die geheimenis waarvan Paulus in Mal. 2:15 en Ef. 5:32 praat, is dat die twee, man en vrou, wat in die voortyd reeds verbind was, mekaar uiteindelik vind en dan verenig word tot een vlees en een gees, “een mens”, soos dit oorspronklik was. God het die onherroeplike eenheid van ‘n spesifieke man en ‘n spesifieke vrou voor die grondlegging van die aarde só as eenheid bedink. Nie elkeen met wie jy seks gehad het, is jou man/vrou nie. Nie noodwendig die man/vrou met wie jy voor die kansel of voor die huweliksbevestiger gestaan het en trou beloof het, is jou man/vrou nie. Uit die totale Bybelse perspektief is die vrou wat uit die man se sy gehaal is, “die vrou van jou jeug … jou metgesel …  die vrou van jou verbond” (Mal. 2:14).

Die openbarende gedeelte hier is die gedeelte in Mal. 2:15 waarin God die historiese konteks gee: “Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.” Hy het man en vrou uit een gees gemaak, nie aparte gees nie! Bedink dit vir ‘n wyle – dit wat hierdie wesens se fisiese én geestelike lewe rig, is uit dieselfde bron, of asem, of gees, rûach, geskep.

Die begrip “neem julle dan in ag ter wille van julle gees ” in hierdie vers, word in die KJV voorgehou as “take heed to your spirit”. Die woordjie “heed” is in Hebreeus die woordjie shâmar, wat volgens BDB ‘n uitgebreide betekenisregister beslaan, alles hier toegespits daarop om hierdie wonderbaarlike Godgegewe geskenk te vind en te bewaar: “to keep, guard, observe, give heed, have charge of, keep watch and ward, protect, save life, watch, to watch for, wait for, observe, to keep, retain, treasure up (in memory), restrain, celebrate, keep (sabbath or covenant or commands), perform (vow), preserve, protect, reserve, to be on one’s guard, take heed, take care, beware, to keep oneself, refrain, abstain, to be kept, be guarded, pay heed, to keep oneself from”. Hieruit is dit absoluut duidelik hoe ernstig God hierdie proses om jou man/vrou uit die voortyd te vind, bejeën, en hoe daar op alle vlakke gewag en teruggehou moet word (ook op seksuele vlak dan) totdat jy en hy/sy daaroor absolute sekerheid voor God het.

Maleági hoofstuk 2 se uitvoerige verduideliking van hierdie saak toon onteenseglik aan dat hierdie besluit van God oor “een mens” wat “een gees” dra baie belangrik is, ook vir die nageslag wat uit hulle moet voortkom. Dit beteken dat geslagslyne hierdeur bepaal en gerig word, want in dit alles het Hy “’n geslag van God” gesoek! Hy ag dit ook van baie groter waarde as gelowiges self, want Hy koppel hierdie heilige, ewige verbond boonop met hulle verbond met Hom! Verse 13 en 14 verduidelik dit só: “En boonop doen julle dít: julle bedek die altaar van die HERE met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie. En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.”

Inaggenome dan die absolute geperverteerdheid en gebrokenheid van hierdie wêreld se oorlewering en tradisies, gewoontes, blootstellinge, omstandighede, gebrek aan kennis, en uiteindelik ook persoonlike keuses, kan ‘n mens verstaan waarom huwelike as ‘n instelling deur die eeue totaal teleurstel, misluk, en desnoods enorme gebrokenheid veroorsaak het – nié net by die betrokkenes nie, maar ook in hul nageslagte.

Mal. 2:16 word dikwels beperkend en dreigend aangehaal deur diegene wat die huwelik en egskeiding dogmaties sien, maar in bogenoemde lig behels dit veel, veel meer: “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ‘n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.” Dat dit nie net dui op egskeiding soos ons vandag populêr daarna verwys nie, is absoluut so, en dit sien ons duidelik in Jesus se gesprek met die Fariseërs in Matt. 19:3-11: “Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit ‘n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei? En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ‘n skeibrief te gee en van haar te skei? Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk. Sy dissipels sê vir Hom: As die saak van ‘n man met ‘n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie. Maar Hy sê vir hulle: Almal vat hierdie woord nie, maar net dié aan wie dit gegee is.”

Selfs Jesus se dissipels kan die strengheid van God se perspektief op hierdie saak nie net aanvaar nie, daarom sê hulle – As die saak van ‘n man met ‘n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie. Baie min mense sien kans vir hierdie verordening van God; die meeste mense se lewens is reeds op te veel verkeerde paaie gewees om enigsins te kan terugkom; selfs die meerderheid gelowiges se lewens is só geperverteer deur omstandighede en verkeerde keuses dat hierdie volmaakte wil van God kwalik ooit in hul lewens beslag kan kry.

Die feit dat ons genade en vergifnis deur Jesus se bloed kan ontvang vir ons sonde, oortredinge en ongeregtighede wat in die toekoms bly voortplant, is ‘n absoluut gerusstellende feit. Paulus, in 1 Kor. 6:10-11 spel uit: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” TOG beteken dit helaas nie dat die verwoestende gevolge van ons vroeëre keuses nie alreeds ons pad tot ‘n groot mate bepaal het nie. Helaas: “wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7).

As Mal. 2:16 praat van “dat ‘n mens sy kleed met geweldpleging bedek”, gebruik dit ‘n metafoor wat Asaf byvoorbeeld ook in Ps. 73:6 gebruik: “Daarom is die trots om hulle soos ‘n halssieraad, die geweld bedek hulle soos ‘n gewaad.” Indien dít die geval is, het dit bepaalde en noodwendige gevolge, soos Ps. 109:18-19 dan ook uitspel: “Hy het die vloek aangetrek soos ‘n kleed en—dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente. Laat dit vir hom wees soos ‘n kleed waarin hy hom toedraai, en ‘n gordel wat hy altyddeur ombind.”

In ons eietydse terme sou ons hierdie geweldmetafoor byvoorbeeld beskryf as: emosionele geweld, of seksuele geweld, of finansiële geweld, manipulasiegeweld, strukturele geweld, stadige geweld, of verbale geweld. Soos egskeiding, haat God eweneens ook geweld van enige aard. Sela. Die tipes geweld in huwelike is dikwels die noodwendige vrug van huweliksperversies.

Jesus se sterk uitsprake hierbo maak dit duidelik dat Jesus nie enigsins losweg en gemaklik met die begrip een vlees omgaan nie. As Hy byvoorbeeld sê dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg ook egbreuk; en die wat die geskeide vrou trou, pleeg egbreuk, sluit dit aan by die ander kategoriese takserings wat eweneens vir die mens aan die onmoontlike grens, byvoorbeeld Matt. 5:28 – “Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” Daarbenewens hou Paulus in 1 Kor. 7 allerhande geestelike seksuele etiket voor wat die saak nog baie meer kompleks, en dikwels verwarrend, maak. Tog laat dit alles by ‘n mens ‘n dwingende bewussyn wat die omvang en impak van een vlees is.

Om hierdie kort studie af te sluit – die nuutste navorsing toon aan dat vroue in hul DNS onteenseglik die neerslag van manlike chromosome dra. Die Fred Hutchinson Cancer Center in Amerika het bevind: “that the possible sources of male michrochimerism included known pregnancies, miscarriages, vanished male twins, or sexual intercourse. This means that through intercourse alone there is a potential for women to hold onto male genes and DNA within their organs and blood stream for their entire life!” (http://www.amjmed.com/article/S0002-9343%2805%2900270-6/abstract asook http://jenapincott.com/do-you-carry-the-dna-of-your-former-lovers/).

Wat die Bybel nog altyd voorgehou het, begin langsamerhand deur die mediese wetenskap uitgevind te word.

  • Sela: Beredeneer die saak van “een vlees” met iemand.
  • Lees: 31-33
  • Memoriseer: 32:8
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Goddelike Impuls en die

Pervertering daarvan