“die erfdeel van die heiliges”
(Kol. 1:12, AOV)
Die afdraaipad wat ons in die laaste paar Mannas geneem het, wat oor die menslike seksualiteit gehandel het, en die implikasies van eenwording, is nou afgesluit.
Oorkoepelend gesien, is ons steeds besig om die wesenseienskappe van “die Gees van die HERE” (Jes. 11:2) te ondersoek en te probeer bepaal hoe dié eerste van die sewe Geeste van God distinktiewe funksies het. Die syspoorgesprek vanaf Dag 1474 was na aanleiding van ‘n bespreking van 1 Kor. 6:17 (ASV): “But he that is joined unto the Lord is one spirit.”
Ons wil net vir ‘n wyle nog stilstaan op hierdie allerbelangrike konsep van fusie van my wedergebore gees met die Gees van God. Fusie is die samevoeging, vermenging, vereniging, amalgamasie of vereniging van twee of meer dinge. Hierdie twee-heid kleef nie net aanmekaar nie, en word nie net vasgegom nie; ons praat van versmelting tot een-heid. 2 Kor. 5:17 se “nuwe skepping” is presies dit, ‘n totaal nuwe wese.
Die meeste gelowiges sien hulleself helaas as ‘n blote houer waarin die Heilige Gees woon. ‘n Mens sou dié siening kon vergelyk met ‘n houer waarin petrol gehou word. Daar is weliswaar ‘n gemeenskaplikheid tussen houer en inhoud, maar nooit word hulle tot een eenheid deur fusie versmelt nie. Die geheimenis “dat hulle ook in Ons een mag wees” (Joh. 17:21), is veel meer as die verstaan van ‘n leë houer wat met Gees gevul word. In hierdie geval is daar steeds ‘n skeiding of afstand tussen jou wedergebore gees en die Gees van God. Die twee entiteite raak bloot gedeeltelik aan mekaar; daar is geensins sprake van vermenging of fusie nie – petrol bly petrol en houer bly houer. Ons kan in teologiese terme eintlik praat van ‘n inkarnasie. Soos wat God Homself tot ‘n mens verander het, so verander Hy die mens om God te bevat en één met Hom te word. Die Gees is nie net in jou nie, in jou geesrealm is Hy en jy nou een nuwe skepping!
Soos wat die hoëpriester in die ou verbond toegang tot die Allerheiligste gehad het, is dit vir elkeen in Christus moontlik om na hierdie dimensie van intimiteit te beweeg. Waar hy beweeg het was dit nie iemand wat noodwendig bloot die teenwoordigheid van God gesimboliseer het nie, nee. Hy het die mense inbeweeg in die teenwoordigheid van God IN hom. God het Homself sigbaar gemaak deur die teenwoordigheid van die hoëpriester. Lev. 9:23 praat van Moses en Aäron se verskyning “en (dat) die heerlikheid van die HERE … aan die hele volk verskyn (het)”. Hulle, doodgewone mense soos ek en jy, was soos Jesus: “ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid”.
Die diensroeping “volgens die orde van Melgisédek” (Heb. 7:11) is die bediening van die versoening “en dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus” (2 Kor. 5:18). Dit is God se “ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here” (Ef. 3:11) om mens en God te verenig. Besef die geweldige implikasies hiervan – dit gaan nie oor ons uitgediende idee van God “dien” nie, maar oor die integrasie met God. Dít is “die erfdeel van die heiliges” (Kol. 1:12).
- Sela: Is dit jou verstaan ook?
- Lees: 34-36
- Memoriseer: 34:10
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Bruid se Erfdeel: The Enterprise
of your Calling