Dag 1484-1485

 

“Kom op hierheen …”

(Op. 4:1, AOV)

 

Met dit wat ons in die vorige manna geleer het, is dit van groot belang om te besef op wie hierdie fusie tot eenwording op van toepassing is. Weliswaar is dit nie op alle gelowiges nie, alhoewel alle gelowiges daartoe geroep is.

In die tabernakeltipologie het ons reeds uitvoerig gewys op die onvouing van die geloofspad, en die tabernakel bied ‘n eenvoudige skematiese voorstelling van daardie ontvouing. Die eerste dimensie bedien die evangelie van redding (Ef. 1:13), waar die kruis absoluut sentraal staan. Deur wedergeboorte kry ons daarna toegang tot die ontvouende tweede dimensie, waar die evangelie van die koninkryk van God (Hand. 8:12) bedien word. Die geestelike ruimte wat ons betree as die voorhangsel in ons skeur, is die derde dimensie, of die Allerheiligste, waar nét hoëpriesters mag ingaan. Hier word die evangelie van heerlikheid (2 Kor. 4:4) bedien.

Die boek Openbaring, weet ons al op hierdie stadium, is ‘n gids vir gelowiges oor hierdie ontvouing in die drie dimensies. Op. 2 en 3 bevat sewe briewe wat aan die kerklandskap (in die breedste sin bedoel) van die eerste en tweede dimensie geskryf is.

Tradisioneel word Op. 3:20 op twee foutiewe wyses verklaar. Die vers lui só: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”

  • Eerstens word dit voorgehou as Jesus wat by die deur van jou hart staan en klop, en vra om in te kom. Dit is byvoorbeeld die verklaring van ‘n gesiene teoloog soos Matthew Henry: “Christ still graciously, by his word and Spirit, comes to the door of the hearts of sinners. Those who open to him shall enjoy his presence.” (Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible). Die frase “the hearts of sinners” is egter ‘n byvoeging, en verander die vers tot ‘n mooi evangelistiese hulpmiddel, maar dit is ongelukkig nie wat daar staan nie. [Dit hang ook saam met die uitdrukking wat dikwels hiermee saam gebruik word, naamlik: nooi/vra Jesus nou om in jou hart(tjie) te kom woon. Jesus kom woon nie in jou hart nie, want elke mensehart is volgens Jer. 17:9 bedrieglik bo alle dinge, en moet vervang word (Eseg. 36:26). Jesus kan nie in daardie hart woon nie.]
  • Tweedens word dit voorgehou as Jesus wat by die deur van ‘n spesifieke kerk of kerkgroepering staan, en klop. Dit beteken die kerk het Jesus uitgesluit, en Hy vra om terug te keer. Die bekende prediker John MacArthur, sê byvoorbeeld die volgende in The MacArthur New Testament Commentary: Revelation 1-11 (p. 140): “Though this verse has been used in countless tracts and evangelistic messages to depict Christ’s knocking on the door of the sinner’s heart, it is broader than that. The door on which Christ is knocking is not the door to a single human heart, but to the Laodicean church. Christ was outside this apostate church and wanted to come in—something that could only happen if the people repented. / The invitation is, first of all, a personal one, since salvation is individual. But He is knocking on the door of the church, calling the many to saving faith, so that He may enter the church. If one person (anyone) opened the door by repentance and faith, Christ would enter that church through that individual. The picture of Christ outside the Laodicean church seeking entrance strongly implies that, unlike Sardis, there were no believers there at all.”

Die implikasie van die tweede verkeerde lesing van hierdie vers is dat Jesus Hom buite die kerk van Laodicense bevind. Volgens MacArthur is daar dan geen gelowiges in hierdie kerk nie! Dít kan tog nie wees nie, want in die eerste gedeelte van die brief in verse 15-16 word hul beskryf as “lou” gelowiges. Hul is bepaald nie “koud”, met ander woorde totaal afsydig teenoor die evangelie nie; tog is hulle in ‘n groot mate soos die mense  waarna Sef.1:12 verwys – “die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie”.

Kom ons maak hierdie saak duidelik met mekaar uit. Jesus kan nooit buite die kerk wees nie, nie eens buite die louwarm gemeente van Laodicense nie. Die kerk of ekklesia, van eerste tot derde dimensie, is duur gekoop deur die bloed van Jesus Christus. Die kerk is die huis van God. Die gelowiges, hoe gebrekkig hul geloofslewe ook al is, is lewende stene waardeur dié geestelike huis gebou word tot ‘n woonplek van God in die geesdimensie (1 Pet. 2:5). In 2 Kor. 6:16 spel Paulus dit aan die erg vleeslike (1 Kor. 3:3-4) Korintiërs uit: “Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Jesus is wel totaal los van al die mensgemaakte sisteme van kerkspeel, maar ekklesia word geskep deur die gelowiges wat in sy Naam byeenkom (Matt. 18:20), “almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep” (1 Kor. 1:2), nie deur die gebou (Hand. 7:48) of die aktiwiteite nie.

In Op. 1:20 word Johannes op Patmos die sewe goue kandelaars gewys, en dan word dit soos volg verklaar: “die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes”. Hierdie sewe gemeentes verteenwoordig die ganse kerklandskap dwarsdeur die totale kerk-era, alle groeperinge, alle denominasies, “hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is”, al kan dit ook ‘n rowerspelonk (Jer. 7:11) genoem word. Ons wil heeltyd ander kriteria en voorwaardes vir redding voorhou, maar onthou: Hand. 2:21 (in navolging van Joël 2:32) is duidelik– “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Onthou wat Dawid in Ps. 86:5 gesê het: “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.”

Die Nuwe-Testamentiese kerk deur die eeue lyk soos die sewe gemeentes van Asië lyk – hulle is die prototipe van alle permutasies van gemeentekenmerke, goed en sleg. Almal van hulle het ‘n vreemde vermenging van vleeslikheid en geestelikheid gehad. Vir elkeen word vermanings en bestraffings aangebied, maar ook aanprysings, bemoedigings, raad en wysheid, hoop, en beloftes. Elke brief eindig met “Aan hom wat oorwin …”, “To him that overcometh …”, met ander woorde ‘n aanmoediging om “ons ook elke las (te laat) aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop (te) loop wat voor ons lê” (Heb. 12:1). Let asseblief mooi op – dit is TEN SPYTE VAN DIE REDDING EN DIE TWEE EVANGELIES VAN DIMENSIES EEN EN TWEE. Daar is iets anders, iets veel meer, as wat die kerklandskap gelowiges kan bied. Jesus herrys tipologies vanuit die Allerheiligste en klop sodat daar vanuit die eerste twee geloofstoestande ‘n inkom, ‘n inbeweeg in die derde dimensie van die geloof kan kom.

Om hierdie rede, nadat Op. 2 en 3 se briefboodskappe aan die universele kerk aangebied is, word hulle almal genooi na ‘n ander dimensie. Hoofstuk 4:1 is die stem van die Bruidegom aan die kinders en die seuns van die geloof om nou Bruid te word: “Ná hierdie dinge het ek gesien – kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen …”

  • Sela: Hoekom dink jy jy is deel van die Bruid?
  • Lees: 37-42
  • Memoriseer: 42:11
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Erfdeel van die Bruid