“… die Vader (het) lewe in Homself …”
(Joh. 5:26, AOV)
Oorkoepelend gesien, is ons steeds besig om die wesenseienskappe van “die Gees van die HERE” (Jes. 11:2) te ondersoek en te probeer bepaal hoe dié eerste van die sewe Geeste van God distinktiewe funksies het.
‘n Belangrike saak wat ‘n mens rondom hierdie eerste Gees, “die Gees van die Here”, moet vestig, is dat die woordjie Here in Hebreeus die Naam Jehova, of dan YHWH is, dus is dit “the Spirit of Yahwe” (NJB). As ‘n mens na die sewevoudige kandelaar as simbool van die sewevoudige Gees sou verwys, is hierdie Gees die middelste posisie, met drie ander Geeste aan weerskante daarvan. Die ander ses Geeste vloei voort, of word gevoed, uit hierdie sentrale Gees van Jahwe.
Miskien sal dit ons loon om bietjie meer inligting te kry oor hierdie ankerNaam van God. In die OAV en die KJV, albei vir ons doeleindes standaardvertalings van die Bybel, word Jehova vertaal as Here, maar dit word in hoofletters geskryf, met ander woorde: HERE en LORD. Dié Naam word van al die name van God die mees frekwente in die Ou Testament gebruik, naamlik 6832 keer.
Die Naam is afgelei van die Hebreeuse werkwoord hâyâh, wat volgens BDB beteken: “to be, become, come to pass, exist, happen, fall out”. Hierdie woordjie korrespondeer met ‘n ander werkwoord, havvah of chavvah, “to shew, to discover”. (Webster verduidelik dan dat die naam van Eva afgelei is uit hierdie werkwoord, “the manifester”! Eva was ‘n beeldende manifesteerder van wie Jehova is!) Daar is ‘n verband tussen “being” en “life”, daarom word Jehova dikwels vertaal as “the existing One” (BDB), of “(the) self Existent or eternal” (Strong). Hy is die Een wat die essensiële oorsprong van alle lewe is; die bron, nie afhanklik van iets anders of iemand nie. Dit is ‘n eienskap wat NET in Jahwe alleenlik setel, soos Jesus dit in Joh. 5:26 uitspel: “Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.” Sy lewe is dus nie ontvang van iets of iemand anders nie; Hy is van niks of niemand afhanklik nie; Hy is die oorsprong van wat ons lewe noem.
Die werkwoorde “to be” en “to live” waaruit Jahwe se Naam geneem is, verwys na essensiële lewe, asook bestaan as sodanig. Derhalwe is Jehova nie net ewig in sigself nie, maar al sy karakteristieke en natuureienskappe is ewig en onveranderlik – “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Heb. 13:8). Dit hou ook in dat Hy nie kan verander nie, want net dit wat tydelik is, beperkend, onvolmaak of onontwikkeld, kan verander. Daarom spel Mal. 3:6 (ASV) dit uit: “For I, Jehovah, change not.” Jak. 1:17 spel dan uit dat by “die Vader” is daar “geen verandering of skaduwee van omkering” nie. God word nooit onkant gevang nie; Hy leer nie nuwe dinge nie; Hy is nooit verras deur enigiets wat gebeur nie – “Hy weet alles” (1 Joh. 3:20). Hy eksperimenteer nie; Hy word nie sterker of meer magtig nie.
As Moses vir God vra wie moet hy sê het hom gestuur, en “hoe is sy Naam?”, antwoord God: “EK IS WAT EK IS”. Hierdie is net ‘n omskrywing van dieselfde betekenisse as die Naam Jehova.
- Sela: Is jy ‘n manifestasie van die lewe wat daar in God is?
- Lees: 43-45
- Memoriseer: 44:18
- Delf dieper: Luister na die cd van Les Cloete: Shofar for His Glory.