“Ek is … die lewe”
(Joh. 14:6, AOV)
Wat as lewe (h)erken kan word, het ‘n oorsprong in Jehova, the self Existent One, het ons in die vorige Manna oor God die HERE geleer.
In 1 Joh. 5:11-12 word hierdie aansluitende of ontvouende waarheid dan voorgehou: “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”
Dink vir ‘n verandering nié aan die begrip ewige lewe as iets soos die ewige voortsetting van lewe ná die dood nie (soos byvoorbeeld die bekende teoloog prof. Willie Jonker nie, sien http://williejonker.co.za/die-ewige-lewe-geborgenheid-god/), maar eerder as ‘n ontvangs van die lewe wat IN Jehova is. Om dus die Seun “te hê”, soos die apostel Johannes hierbo gesê het, beteken dat jy die lewe ontvang het wat nét die Seun vir jou kan gee. En hierdie Seun is nou “‘n lewendmakende Gees” (1 Kor. 15:45) – “die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18)!
Dit is duidelik dat alle mense eintlik in die realm van die dood leef totdat hulle hierdie genadegawe van die lewe van God deur die “gees van Jahwe” ontvang. Ons leef dus sedert Gen. 2:17 ironies genoeg in die doderyk, letterlik “lewendig (in) die doderyk” (Num. 16:33), die doderyk word jou huis, soos Job 17:13 soos in die vorige Manna genoem. Bepaald is dit soos Jes. 28:15 dit stel: “Ons het ‘n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan …” Maar Hy het “my siel uit die doderyk laat opkom” (Ps. 30:3), Hy het my “los(ge)koop van die mag van die doderyk” (Ps. 49:15), ja Hy proklameer: “Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop …” (Hos. 13:14).
Hierdie is ‘n ontsagwekkende waarheid om vas te maak. Die ganse bestel waarin ons lewe kan nooit onverwelklike lewe meebring nie. Selfs ‘n baba wat miskien dié toonbeeld van nuwe lewe is, is gedoem om verseker te sterf! Alle mense is bestem om een maal te sterwe (Heb. 9:27). Die natuurlike lewe skep en perpetueer nie lewe nie – dit skep en perpetueer op die duur net meer dood. Alle sogenaamde lewe buite “the Self-existing One”, is dood – “hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie” (Joh. 3:36). Daarom kan Jesus onomwonde sê: “omdat Ek lewe … (sal) julle … lewe”.
God is die enigste ewige, selfskeppende en selfonderhoudende lewe in die ganse universum. Hierdie lewe is nie geskep nie, en het derhalwe geen begin of einde nie. Daarom kon Jesus dit só eksplisiet voorhou: “Ek is … die lewe” (Joh. 14:6). En omdat Hy nou ‘n lewendmakende Gees is, kan ek en jy en wie dit ook al ontvang, dieselfde lewe deelagtig word!
Paulus verduidelik hierdie skynbare paradoks baie eenvoudig in Rom. 8:10-11: “Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” Sela!
- Sela: Het jy die getuienis dat God jou die ewige lewe gegee het? Wat?
- Lees: 46-48
- Memoriseer: 46:11 (hoe gepas is hierdie vers nie)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Briers Uys: (Weder)koms: Die Opstanding van die Dode
en die Ewige Oordeel