“sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word”
(2 Kor. 5:4, OAV)
Ons is steeds besig om die wesenseienskappe van “die Gees van die HERE” (Jes. 11:2) te ondersoek en te probeer bepaal hoe dié eerste van die sewe Geeste van God distinktiewe funksies het. In die vorige Manna is daar ‘n mooi verduideliking gegee van hoe hierdie lewe – wat in sigself bestaan en wat van God se wesensaard af kom – deel word van almal wat wedergebore is. Ons het afgesluit met Kol. 3:4 (MB): “The exact life on exhibit in Christ is now repeated in us.” Hierdie is miskien selfs ‘n groter en belangriker waarheid as die feit van jou redding, maar dit verander vir een of ander vreemde rede nie ons lewens nie! Ek wil graag bietjie meer hier stilstaan, want daar is baie gelowiges wat “die genade van God … tevergeefs … ontvang” het (2 Kor. 6:1). Soos Petrus moet ek ook vandag skrywe “om julle te vermaan en om te betuig dat dit die ware genade van God is waarin julle [reeds] staan” (1 Pet. 5:12).
Hierdie selfgenererende lewensbeginsel van die lewe van Jesus IN ons is dié waarmerk van die Christuslewe. Paulus noem dit in Fil. 3:10 “die krag van sy opstanding”, en in 2 Kor. 4:10 verduidelik hy hoe “die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word”. Jy, soos Hy, “lewe … tog [nou] uit die krag van God” (2 Kor. 13:4). Ons moet “dus … ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel” (Rom. 6:4).
Dit is hierdie lewe, “‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis” (1 Pet. 1:4) wat nou IN jou werksaam is (2 Kor. 4:12). Moet asseblief nie óór hierdie lees nie – dis miskien die belangrikste besitname van jou geloof wat jy óóit sal maak.
Hierdie onverganklike en onoorwinlike lewe is die hoop van die ganse skepping. Daar is ‘n Skrif wat ons so graag aanhaal, Rom. 8:19 – “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die seuns van God.” In vers 22 word die “reikhalsende verlange” geïntensiveer tot “barensnood”, en dit is spesifiek barensnood vir die openbaarmaking of verskyning van “die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (vers 21), oftewel hierdie Christuslewe, wat in gelowiges vrygestel word.
Helaas bly die meeste van ons steeds net gefokus op die tweede dimensie se genadegawes: profesieë, visies, gesigte, genesings, wonders en tekens, tydelike seëninge, en voorsienings in spesifieke behoeftes. Ons fokus is op verligting van die druk van die gewone lewe, en op fisiese en tydelike seëninge. Ons bid vir die genesing van siektes, sien soms wonderbaarlike genesings, net om later te beleef hoe dié persoon weer deur die een of ander lewensbedreigende siekte platgetrek word. Ons ken soveel Geesvervulde mans en vroue wat in openbaring en waarheid loop wat uiteindelik byvoorbeeld Alzheimers kry, en niks van daardie heerlike openbaring en waarheid kan onthou nie. What a waste!
As ek Rom. 8:23 reg verstaan, moet ons “wat die eerstelinge van die Gees het” noodwendig “die verlossing van ons liggaam” verwag, dat “die sterflike deur die lewe verslind kan word” (2 Kor. 5:4). Kan dit nog in hierdie lewe gebeur?
- Sela: Wat sou hierdie laaste paragraaf impliseer?
- Lees: 52 & Klaagl. 1-2
- Memoriseer: 1:6 (hoe gepas is hierdie vers nie!)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Hein Holm: Ons terugtog na Eden en die Herstel van
ons Heerlikheid