“en daar sal geen dood meer wees nie”
(Op. 21:4, OAV)
In die vorige Manna het ons geëindig met die wonderbaarlike belofte van 2 Kor. 5:4 – “sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word”. En toe het ons gevra: Kan dit nog in hierdie lewe gebeur?
Daar is gelowiges wat ‘n baie sterk oortuiging huldig dat ons nog in die toekoms sal beleef dat mense nie meer siek sal word, verouder of selfs sterf nie. So ‘n geloofsgroepering, byvoorbeeld, is SpiritWord, wat op hul webwerf die volgende voorhou: “Mortality which is the reason for death, mortality which means ‘liable to die,’ the possibility or probability to die is swallowed up by life. Therefore God gave us the Holy Spirit as a guarantee that mortality will be swallowed up by life. It is written, ‘For the law of the Spirit of life in Christ Jesus has made me free from the law of sin and death.’ Rom. 8:3. The life you have now in Christ Jesus attracts the Spirit. And by the law of the Spirit, the life of Christ in you has set you free from the power of sin and death. Anything that could lead to the death of your mortal body can be swallowed up by the life of Christ in you, through the Holy Spirit. Therefore your body should never be subject to sickness and diseases, or any other negative influences. The law of the Spirit of life in Christ Jesus elevates your body above mortality.”
(https://spiritworddevotional.wordpress.com/2015/07/16/mortality-swallowed-up-by-life/.) Is dit die waarheid wat hierdie gelowiges glo en verkondig? Ís daar ‘n profetiese belofte dat die bedeling waarin die mens sedert Adam vasgevang is – die bedeling van “siekte … tot die dood toe” (Joh. 11:4) – opgehef sal word en dat ons triomfantlik op die aarde waaragtig eendag sal kan jubel: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55). Wanneer breek die einde van die eerste dinge aan, wanneer Op. 21:4 volledig beslag kry: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig dat ons allereers Rom. 8:2 verreken, want dit wys pertinent uit wat die verband is tussen siekte en dood enersyds, en die onoorwinlike lewe IN ons andersyds. Hierdie ongelooflike Skrif lui soos volg: “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.”
Die onderwerp waaroor ons nou in die laaste paar Mannas skryf, die onverganklike en onoorwinlike lewe, het volgens hierdie Skrif ‘n wet wat dit reguleer ten grondslag. Dus sou ons Rom. 8:2 soos volg kon uitbrei: die wet van die Gees van die onverganklike en onoorwinlike lewe in Christus Jesus.
Die wet van die sonde en die dood word die beste verduidelik deur Rom. 3:23, wat uitspel: “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”, met Rom. 6:23 daarmee saam: “die loon van die sonde is die dood”.
Hierdie wet van die Gees van die onverganklike en onoorwinlike lewe in Christus Jesus maak my vry van die wet van die sonde en die dood wat met Adam se val in die paradys ‘n aanvang geneem het, en tot vandag toe ‘n wet is wat op alle mense van toepassing is.
Die volgende noodwendige vraag is: van wanneer af is hierdie wet van die Gees van die onverganklike en onoorwinlike lewe in Christus Jesus in werking? Duidelik is dit werksaam vandat Jesus as die “lewendmakende Gees” (1 Kor. 15:45) in mense kom woon het, en dit gebeur wel met hul wedergeboorte. Hulle is immers, volgens 1 Pet. 1:23, nie “wedergebore … uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike [saad], deur die lewende LOGOS-woord van God wat tot in ewigheid bly”. Nét daarna, in nét die volgende vers, stel Petrus die gevolge van die wet van die sonde en die dood: “Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af …” (vers 24), en dan jukstaponeer hy dit met die gevolge van die wet van die Gees van die onverganklike en onoorwinlike lewe in Christus Jesus: “maar die (lewende) RHEMAwoord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die RHEMAwoord wat aan julle verkondig is.” (vers 25).
Dit is nou verstaanbaar dat die lewe in CHRISTUS Jesus so vooropgestel is in hierdie wet, want die rhema-identiteite bevat hierdie lewe.
Nou – ten spyte van die feit dat alle gelowiges vanaf hul wedergeboorte hierdie onverganklike en onoorwinlike lewe in Christus Jesus ontvang het, is hulle steeds onderwerp aan die wet van die sonde en die dood. Rom. 8:10 spel die toestand absoluut duidelik uit: “Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid.” Derhalwe hierdie baie belangrike slotsom: die wet van die sonde en die dood bly steeds in my fisiese liggaam, siel en gees (= asem) werksaam nádat “die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood”.
Die woordjie “vrygemaak” hier is uiters belangrik. In Grieks is dit eleutheroō, wat volgens Strong beteken “to liberate, that is, (figuratively) to exempt … deliver, make free”. Die een wet VERVANG nie die ander wet nie! Die wet van die lewe maak my vry van die wet van die dood. Die onverganklike lewe maak my vry van die dood, nie die ander kant om nie! Dit is nie die wegdoen met die dood wat my in staat stel om te lewe nie! Slegs die ewige lewe kan jou van die ewige dood bevry. Die dood wat werksaam is in iemand word nie doodgemaak om hom te laat lewe nie; jy bied hom die onoorwinlike lewe om die dood te verslind. As gevolg van die Christus-in-my word die Adam-in-my doodgemaak, maar EK bly desnieteenstaande lewe! Ten spyte van die Christus-in-my sal ek egter steeds by wyse van spreke soos gras verdor en sal my metaforiese blom noodwendig afval, want DAARDIE BEDELING WAT AAN DIE OU ADAM GEKOPPEL IS EN WAT IN VLEES LEEF EN BESTAAN, MOET TOT NIET GAAN. Heb. 9:27 (NLV) staan vas: “It is in the plan that all men die once.” Die Amplified-vertaling stel dit só: “it is appointed for [all] men once to die”. Hierdie sterfte gebeur in al drie fasette van die natuurlike mens: as jou asem/gees weggeneem word, sterf die siel en die liggaam noodwendig. Of: soos die liggaam aan die noodwendige eise en aansprake van sonde, siekte en verwering uitgelewer is in ‘n noodwendig gebroke wêreld, sal dit noodwendig in die dood kulmineer. Ten spyte dan daarvan dat iemand Geesvervuld die kennis van die waarheid van hierdie onverganklike lewe gesnap het, sal sy intelleksfunksie (deel van sy natuurlike siel) steeds deur byvoorbeeld Alzheimers vernietig word, maar sy deelwees aan die korporatiewe siel in Christus sal nog steeds daardie wet van die Gees van die onverganklike en onoorwinlike lewe in Christus Jesus in sy geesmens werksaam hê! Sela!
Onthou – as gevolg van die die wet van die sonde en die dood leef ek en jy sedert ons geboorte in die doderyk, wat ons die wêreld noem, omdat die dood daarin heers (Rom. 5:17). [Gaan lees weer Manna Dag 1304-1307.] Ná ons wedergeboorte leef ons stééds in die fisiese daar, maar ons wedergebore geesmens leef in ‘n ander realm waar die lewe heers.
- Sela: Verduidelik hierdie twee wette aan iemand.
- Lees: 3-5 & Eseg. 1-3
- Memoriseer: 3:23
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Koninkryk van God is in Jou