“ook julle sterflike liggame lewend maak”
(Rom. 8:11, OAV)
Ter afsluiting van hierdie subtema in die Manna wil ons in dié aflewering ‘n enkele Skrif probeer peil wat lyk asof dit presies die teenoorgestelde sê as wat die slotsom tot dusver was. Die vers is Rom. 8:11 – “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”
Hierdie Skrif word wyd deur sekere ultraprogressiewe geloofsgroepe gebruik om te bewys dat daar ‘n era op aarde sal kom waar die mens nié meer aan die dwingende verganklikheid deel sal hê nie, en in ‘n staat van “deathlessness” (egter glad nié soos die filosoof Karl Jaspers dié term gemunt het nie) sal verkeer. Henog en Elia (wat klaarblyklik nooit gesterf het nie) word as prototipes van hierdie nuwe bedeling voorgehou, en veral word Heb. 11:5 ter stawing gebruik: “By faith Enoch was translated so as not to see death …” (CAB). Dit is egter glad nie wat hierdie Skrifgedeelte sê nie, en die voorbeelde wat hulle prototipies gebruik, is ook nie teologies verdedigbaar nie. [Gaan lees asseblief weer Manna Dag 572-577 waar hierdie voorbeelde in detail verduidelik is.]
‘n Mens kan nie anders nie as om hiperbewus te wees van die noodwendige aard van jou aardse liggaam. Dit is des te meer so, omdat hierdie aardse, vleeslike liggaam in stryd is met die geestelike liggaam waarin jy óók woon. Paulus noem dit in Fil. 3:21 (ERRB) tereg: “our vile body of humiliation”. Hierdie aardse liggaam noem Job (4:19) ‘n kleihuis, “van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot”. Elders beskryf hy die menslike liggaam raak as iets “wat verval soos hout wat weggevreet is, soos ‘n kleed wat die mot verteer” (Job 13:28). Die vleeslike liggaam is uitgelewer aan pyn en lyding. Dit is per definisie sondig, en kan nie anders funksioneer nie.
Onteenseglik is ‘n lewende vleeslike mensliggaam nié ‘n geestelike liggaam nie, en kan hy dit ook nie word nie. 1 Kor. 15:50 (AMP) hou dit onteenseglik soos volg voor: “But I tell you this, brethren, flesh and blood cannot [become partakers of eternal salvation and] inherit or share in the kingdom of God; nor does the perishable (that which is decaying) inherit or share in the imperishable (the immortal).”
In Rom. 8 is Paulus GLAD NIE besig met ‘n onderskeid tussen hierdie twee liggame nie, anders as byvoorbeeld in 1 Kor. 15. Lees nou weer die onderhawige vers in Rom. 8:11, en dan gaan lees jy die voorafgaande tien en die opvolgende vyf verse. Die grootste probleem met die misverstaan van Rom. 8:11 is dat die vers totaal uit die konteks van die hoofstuk geneem word, en dan gebruik word om iets totaal anders te sê.
Die hoofstuk begin in vers 1 met die belangrikste onderskeid wat in hierdie perikoop getref word, naamlik “die(gene) wat na die vlees wandel” en “die(gene wat) na die Gees (wandel)”. Wit waarheid – Jy kan onmoontlik aan albei beslag gee. Volgens vers 2 werk die wet van die sonde en die dood in die wat na die vlees wandel, en die wet van die Gees van die lewe in Christus in dié wat na die gees wandel. Paulus spel dit uit dat Jesus jou vrymaak van die wet van die sonde en die dood. In verse 3 en 4 verduidelik hy hoe Jesus se dood en opstanding dit enigsins moontlik gemaak het, hoe die eise van die wet oorspan is vir diegene “wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees”.
In verse 5 tot 8 bied hy verskeie kenmerke aan van hierdie twee leefmodusse, naamlik van diegene wat na die vlees wandel, en diegene wat na die Gees wandel. Dit is duidelik die hooftema van hierdie gedeelte. In vers 9 bied Paulus dan die praktiese sleutel tot onderskeiding aan sodat ons die onderskeid tussen hierdie twee groepe mense op aarde kan maak: “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon”. Maak dit vas! Ten spyte daarvan dat die liggaam volgens Rom. 7:14 steeds vleeslik is, “verkoop onder die sonde”, ten spyte van jou Geesvervuldheid, is jy helaas nié verlos van die vleeslike aard van jou liggaam en sy natuurlike luste en sensuele diktering nie. DIE ENIGSTE KRITERIUM VIR JOU GEESTELIKHEID IS DIE FEIT DAT DIE GEES VAN GOD IN JOU WOON, die stand van jou liggaam ten spyt! Jy wandel dus ook volgens Rom. 8:1 in die gees ten spyte van die sondige, vleeslike aard en geneigdheid van jou liggaam. Die “wandel” is geen eie poging om te probeer om goed en onberispelik te wandel nie – “Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel?” (Job 22:3). God het deur Jesus se sterwe almal wat dit aangeneem het (Joh. 1:12) “heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom” (Kol. 1:22) gestel! Wat ‘n aardskuddende waarheid! Daarom is dit nie eers nodig vir die saligheid van my siel nie, soos uitvoerig in Manna Dag 1410-1412 verduidelik. Volgens 1 Tim. 6:14 word diegene wat deur die Gees wandel, dus diegene in wie die Gees van God woon, “onberispelik bewaar tot by die verskyning (“an appearing” – The Complete WordStudy Dictionary) van onse Here Jesus Christus”.
As Paulus dan in Rom. 8:10 die volgende uitspraak lewer, is dit ‘n slotsom oor hierdie argument wat hy tot dusver gevoer het. Hy praat nou nét oor diegene wat “na die Gees wandel”, diegene wat ten spyte daarvan wel nog ‘n liggaam het “(wat) dood (is) vanweë die sonde”, maar waarvan “die gees … lewe vanweë die geregtigheid”.
Nou kom ons uit by die hooffokus van hierdie Manna, die Skrif wat dikwels verkeerd verstaan word, vers 11. Paulus se fokus is steeds nét op diegene wat “na die Gees wandel” (dus diegene in wie die Gees van God woon) en desnieteenstaande daarvan wel nog ‘n liggaam het wat dood is vanweë die sonde. Hy sê dan in vers 11: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” Die verkeerde afleiding skuil hier: As die Gees in ons woon, SAL Hy julle STERFLIKE LIGGAME lewend maak. Die woordjie “lewend” is hier die begin van die probleem. In verskillende vertalings word dit voorgehou as “restore” (ABP), “give life” (ACV), “restore to life” (AMP), “quicken” (BB), “will raise you to life” (CEV), “enliven” (ERRB), “make … alive (GW) en “vivify” (JMNT).
Hierdie Skrif dui beslis nie op die tradisionele leerstelling van die opstanding uit die dode nie, want daar is sprake van “sterflike liggame”, nie gestorwe liggame nie – die Heilige Gees kan tog nie in ‘n fisies dooie liggaam wees nie! Dus verwys Paulus na “your dying bodies”, soos YLT dit vertaal, met ander woorde die verganklike liggame waarin alle mense noodwendig woon, selfs dié in wie die Heilige Gees óók woon. Die MSG hou dit mooi voor as “delivered from that dead life”. Met dit as uitgangspunt, is dit duidelik dat die meeste vertalings hierbo deur hul woordkeuse noodwendig ‘n verkeerde persepsie by die leser laat. Paulus praat onteenseglik van ‘n nuwe vorm van lewe in die besig-om-stadigaan-te-vergaan liggaam. Maar dit is ook nie soos die ultraprogressiewe geloofsgroepe dit lees, naamlik dat die sterflikheid totaal in ons sterflike liggame opgehef word nie.
Ons moet die geheimenis verstaan van hoe 1 Kor. 15:53 prakties moontlik is vir elkeen van ons wat in die tronk van menslike verganklikheid moet leef: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.” Daar is geen uitsondering op die reël nie, want elkeen van ons moet steeds eet, slaap, toilet toe gaan, asemhaal; ja, ons elkeen maak steeds ons eie geraamte groot. Ten spyte van wat hierdie Skrif dan ook suggereer, is ons steeds dwingend durend die dood deelagtig. Ons kan nie in hierdie degeneratiewe staat met onverganklikheid beklee word nie, anders word die gebrokenheid van die mens in die tuin van Eden vir ewig perpetueer. Onthou God se woorde oor die mens se gevalle toestand in Gen. 3:22 – “As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!” Ek weet nie van jou nie, maar ek wíl onder geen omstandighede in ‘n ewige vleeslike liggaam van vernedering woon nie! Die blote gedagte van die deathlessness van hierdie vleisverpakking wat vir ewig steeds gebad moet word, wie se tande geborsel moet word (met flos en mondspoel) om dusdoende nie te verrot nie, deoderant vir die sweetreuk van Adam, nee! dis te moeisaam om vir ewig te spel aan hierdie kort sillabe: méns.
Ek wil saam met Paulus in Fil. 3:21 (AMP) vra: “Who will transform and fashion anew the body of our humiliation to conform and be like the body of His glory and majesty, by exerting that power which enables Him even to subject everything to Himself?”
Om hierdie geheimenis na behore te verstaan, en te begryp hoe die verganklike met onverganklikheid beklee word TERWYL ONS IN HIERDIE VERGANKLIKE LIGGAAM IS, en hoe hierdie sterflike met onsterflikheid beklee moet word, moet ons na die grondslae van die natuurlike lewe en daardie lewe se regulerende wette gaan. Ek baseer die inleiding tot hierdie geheimenis grootliks op die insigte van Henry Drummond in sy klassieke boek: Natural Law in the Spiritual World, wat meer as ‘n eeu en ‘n half gelede al geskryf is.
Soos daar in die natuurlike wêreld ‘n onoorbrugbare kloof tussen die lewende en die nie-lewende bestaan, is daar eweneens ‘n onoorbrugbare kloof tussen geestelike dood en geestelike lewe, en tussen die vleeslike (“carnal”) manier van dink en die geestelike manier van dink.
In die wetenskap is daar ‘n wet wat genoem word die Wet van Biogenese. Die HAT verklaar dit eenvoudig as: “Leer dat lewe slegs uit lewe gebore word.” Hierdie wet demonstreer dat deur alle opgetekende eeue heen, lewe nét tot stand kan kom as dit gegenereer word deur iets wat lewe. ‘n Klip kan byvoorbeeld nie lewe skenk aan ‘n meerkat nie, om ‘n banale voorbeeld te gebruik. Dit is hoekom geen mens of eksperiment daarin kon slaag om organiese lewe uit chemiese basisstowwe tot stand te bring nie. Selfs as ek presies die lewelose chemiese stowwe waaruit die menslike liggaam bestaan in die regte verhoudinge in ideale omstandighede bymekaarsit, kan daar nie ‘n mens uit ontwikkel nie. As ons die moderne biologiese wetenskappe moet glo, weet hulle te vertel dat die lewe op die aarde nie oorspronklik hier gegenereer is nie, en dat dit afkomstig is uit vorme van lewe uit ‘n voorafbestaande lewe elders in die heelal. Die anorganiese wêreld is totaal afgeskei van die organiese wêreld deur oneindige afstande wat nooit van die een na die ander kan reik nie. Geen verandering van substansie, geen modifikasie van die omgewing, geen chemie, elektrisiteit, of enige vorm van energie, enige evolusie van enige aard kan enigsins selfs ‘n enkele atoom van die minerale stratum die attribuut van lewe toevoeg nie. Slegs as daar daadwerklik ingegryp word in hierdie doodsrealm van sekere anorganiese entiteite kan die dooie atome perdalks die eienskappe van lewe herhaal of vertoon, maar sonder daardie direkte ingrype van die lewende sal hul vir ewig onveranderd en as ’t ware dood in die anorganiese sfeer verkeer.
Hierdie misterieuse wet bepaal derhalwe alle poorte van die lewende wêreld. Van absolute belang vir my en jou is die wetmatigheid wat dan gestel word – dat dié totaal hulpelose sfeer van die “bestaan” van die dode onherroepelik van die lewende afgeskei is deur die Wet van Biogenese. Die dode het as gevolg van hierdie wet geen kans ooit om lewe of opstanding in sigself te produseer nie. Hier kom ons te staan by wat die Skrif in die gelykenis van die Ryk Man en Lasarus noem “‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie” (Luk. 16:26). Hierdie onoorbrugbare kloof (“chasm” – ABP; “gulf” – ASV; “a deep division” – BBE; “a deep ditch” – CEV; “a deep rift” – CJB; “a great chaos” – DRB; “a big pit” – ERV) simboliseer die onmoontlikheid van die wetmatigheid. Dit is bepaald “a great gulf fixed”(HNV).
Oor hierdie onoorbrugbare geheimenisafstand strek tussen hierdie Manna en die volgende ‘n duidelike cliff-hanger!
- Sela: Verduidelik aan iemand die Wet van Biogenese.
- Lees: 13-21
- Memoriseer: 13:18
- Delf dieper: Kyk die dvd-lering van Tom Gouws: Hoe raak ek van my donker natuur ontslae?