Dag 1501-1503

 

“genade en vrede (sal) vir julle vermeerder word

deur die kennis van God en Jesus, onse Here”

(2 Pet. 1:2, OAV)

 

In die vorige Manna het ons uitvoerig die wet van biogenese uit ‘n geestelike hoek belig, daardie misterieuse wet wat die poorte van die lewende wêreld bewaar en reguleer. Ons het dit in besonder gebruik om te probeer illustreer hoe dit wat in die hulpelose realm van dit wat “dood” is, totaal afgesny is van die realm van die lewende. Ons het uitgewys daar moet ‘n oordrag wees van lewe voor die anorganiese, nielewende minerale elemente van die aarde OPgerig word in die organiese koninkryk van lewende dinge. In die saad is daar ‘n kiemsel van lewe. Die saad wat daardie kiemsel van lewe bevat, word IN DIE AARDE, in die lewelose minerale sfeer of realm, die koninkryk van die dode, geplant.

Geestelik gesproke is daardie saad wat ook in die lewend dooie, hulle wat “sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Ef. 2:12) is, geplant word, eweneens ‘n geheimenis. Hierdie saad wat die wedergeboorte bewerk, is Christus (Gal. 3:16)! Dit beteken nou dat Jesus, WAT ‘N LEWENDMAKENDE Gees is (1 Kor. 15:45), vanuit die geestelike realm die stoflike en sterflike liggaam van die degenererende mens penetreer – dit is die Kiemsel, die Lewende Hoop (1 Pet. 1:3) wat meebring dat “die dode [NOU REEDS] … onverganklik opgewek word” (1 Kor. 15:52). Die wedergeboorte kan dus onmoontlik geskied uit verganklike saad van enige aard, nee – nét uit onverganklike saad, wat 1 Pet. 1:23 noem “die lewende Logos-woord van God wat tot in ewigheid bly”. Maar vervat ín daardie Logos-saad (Jesus) is die volheid van die Rhema-sade (Christus)! (Later meer oor hierdie wonderbaarlike geheimenis.)

Ons moet hierdie spesifieke verborgenheid van God se wil (Ef. 1:9) baie goed verstaan, want dit is die meganisme waardeur Hy “die volheid van die tye … reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (vers 10).

Besin nou net weer saam met my hieroor, na aanleiding van die voorlaaste paragraaf – Jesus, WAT NOU IN DIE GESTALTE VAN ‘N LEWENDMAKENDE Gees beweeg, penetreer vanuit die geestelike realm die stoflike en sterflike liggaam van die degenererende mens, en dit bring mee dat die lewende dode NOU REEDS onverganklik opgewek word” (1 Kor. 15:52). Indien hierdie opwekking NOU REEDS gebeur met die wedergeboorte, is dit duidelik dat dit NOOIT werksaam kan wees in die sterflike en stoflike nie – die sienlike is altyd tydelik (2 Kor. 4:18). Deur die wet van biogenese moet dit noodwendig in die sterflike geplant word, maar DAARUIT ontvou ‘n nuwe skepping (2 Kor. 5:17). Soos 2 Pet. 3:11 sê: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan …” skep God deur Christus as lewendmakende Gees uit die verganklike ‘n ewige, onsienlike liggaam (2 Kor. 4:18)! Daarom kan Paulus sê: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.” (2 Kor. 4:16).

Nóú is dit eers absoluut duidelik wat Rom. 8:11 – waaroor hierdie lang relaas wat ons die afgelope paar Mannas gevoer het – presies bedoel: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” Die gelowige ontvang die Heilige Gees met wedergeboorte (deur handoplegging – Hand. 8:18; Heb. 6:2), en hierdie endow(n)ment uit die geestelike realm moet gegrond word in die fisiese sterflike realm IN jou. Die sterflike word egter nie nou verander om onsterflik te word nie – die sterflike word volgens 2 Kor. 5:2 “oorklee” met die onsterflike. Dit is nou absoluut helder en duidelik wat hierdie Skrifgedeelte (wat dikwels misbruik word om iets te sê wat dit bepaald nié sé nie) bedoel.

Hierdie waarheid oor die kiemsel van die Christus-lewe in jou is iets wat jy nie sal verstaan tensy jy waarlik wedergebore is nie. Daarbenewens is dit baie interessant dat as jy “meer en meer oorvloedig … word in (hierdie openbarings)kennis” (Fil 1:9), sal “genade en vrede vir (jou) vermeerder word deur die (openbarings)kennis van God en Jesus, onse Here” (2 Pet. 1:2)! Hierdie Manna kan dit nie laat gebeur nie, maar as hierdie waarheid wat in dié Mannas geleer is jou hart aangryp, soos met die Émmaüsgangers, en jy ruiterlik kan verklaar: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” (Luk. 24:32), het dit die inherente krag om jou ganse lewe te transformeer. Wanneer jy die openbaring van die teoretiese feit van sy “quickening spirit” (1 Kor. 15:45, IAV) waarlik verstaan, sal dit jou hart transformeer en sal jy kan begin om uit daardie bron van lewe te leef. Dit verander absoluut alles.

Om ‘n natuurlike sterflike mens met sy vleeslike denke wat deurgaans dood bedink, oftewel “die dinge van mense” (Matt. 16:32), “nietige dinge” (Hand. 4:25), “aardse dinge” (Fil. 3:19), te kry in die hoër koninkryk, is menslik glad nie moontlik nie. Van nature is die mens “verduisterd … in die verstand en vervreemd van die lewe van God” (Ef. 4:18). Paulus stel dit só in Rom. 8:5-8: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie …”

Dit is noodsaaklik dat die onverganklike saad van God in die mens se aardsheid ingeplant word, en dit dan transformeer tot iets totaal nuut wat daardie hoërbewussynlewe bevat. Daarom benadruk Paulus dit telkens: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” (Kol. 3:2), asook in Fil. 4:8 – “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Onthou dan daarmee saam Spr. 23:7 (AMP): “For as he thinks in his heart, so is he.”

Dit is voorts ook baie belangrik om te onhou dat die ganse skepping, wat volgens Rom. 8:20 “aan die nietigheid onderworpe (is)”, “made subject to futility” (ACV), “subjected to frailty (to futility, condemned to frustration)” (AMP), “made subject to imperfection” (TCNT), juis in hierdie toestand is, sodat die ganse skepping deur die seuns van God bevry kan word. Vers 21 in die Amplified Bible vertaal helaas parafraserend die verkeerde orde van hierdie bevrydingsproses: “That nature (creation) itself will be set free from its bondage to decay and corruption [and gain an entrance] into the glorious freedom of God’s children.” Dit is onmoontlik vir die gevalle, dooie en gekorrupteerde wêreld “to gain an entrance”. Daar moet uit ‘n hoër realm, hier deur die verligte seuns van God, na die laer realm, gehandel word.

Om hierdie rede weet ons dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe (vers 22). In die verdorwenheid en doodsheid van die ganse skepping word die seuns van God as “lewende hoop” (1 Pet. 1:3) geplant sodat deur die geestelike toepassing van die wet van biogenese daar verlossing van die aarde kan plaasvind. Dit is die meganisme wat God beskik het!

Die feit dat ons steeds vandag, tweeduisend jaar ná die krag van die opstanding aan die mens beskikbaar geword het (Fil. 3:10), stééds nie daarin beweeg nie (vers 11), beteken dat ons die bron en omvang van daardie ontsagwekkende krag nog nie verstaan en kan gebruik om die aarde te bevry nie.

Verstaan dit asseblief goed – die nuwe skepping is veel meer as die ewige en ongekorrupteerde lewe wat in mense gestalte vind. Dit is ook die nuweskeppinglewe wat in die aarde geplant word, wat van die aarde besit neem en indring en dit verander en transformeer om sodoende dit ook tot volle opstandingskrag van volle herstel volgens God se oorspronklike plan te bring. Hiervan is Jesus die patroon. Jesus se verlossingswerk was nie net om die mens te kom red van ewige dood nie, maar ook om die vleeslike, gevalle natuur van die mens te laat verslind deur die onoorwinlike lewe van die Goddelike natuur! Dáárdeur het God dit ook so bewerk, dat die ganse gevalle aarde óók bevry word. [Die stof van die aarde waaruit die mens geformeer is, waarna Gen. 2:7 verwys, was onbevlekte, ewige stof – dit was nog geensins deur die sonde en die dood gekontamineer nie! Dít het eers later gebeur, ná die sondeval – “vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe” (Gen. 3:17; sien ook Gen. 5:29). Dit is die mens wat die aarde se kontaminasie veroorsaak het; daarom moet die hoërfunksielewe via die herstelde mens terugkeer na die laerfunksiebestaan van die aarde.] Weliswaar – “Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai …” (Matt. 13:31)!

Daar lê dus ‘n bedeling voor waarin die gemanifesteerde opstandingskrag dramaties gestalte moet verkry. Dit moet onteenseglik in ons epog gebeur! Ons verwagting is, volgens die profesie van Hos. 6:1-3, dat dit na twee profetiese dae ná dié dood van Jesus sal wees, op die derde profetiese dag van onbeperkte opstandingskrag. Ons weet uit 2 Pet. 3:8 “dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag”, dus bevind ons ons in die sewende dag na Adam, en op die derde dag na Jesus, die laaste Adam, die lewendmakende Gees.

Die profeet Hosea (6:1) spel dit vir ons uit: “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.” Hierdie afgelope tweeduisend jaar was daaraan gekenmerk dat die Christendom swaar onder God se teer hand van genade geleef het. Hy het ons soms verskeur, maar ook verbind. Hy het ons weliswaar geslaan, maar ons ook verbind, soos wat Hy met seuns maak in hul opvoedingsproses tot volwassenheid: “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?” (Heb. 12:5-9).

Maar nou, op die derde dag van opstandingskrag moet die korporatief volwasse seuns (met al die voorgangers wat in die wolk van getuies ons aanmoedig – Heb. 11:39-12:1) in ‘n hoërbestaansmodus begin funksioneer, waarvan Hos. 6:2-3 profeteer: “Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe. En laat ons ken—laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.” Na hierdie ontsaglik belangrike tema sal ons straks terugkeer!

Om dus ons aanvanklike vraag oor Rom. 8:11 weer te probeer beantwoord – tot nou toe, tweeduisend jaar na die opstanding van Jesus uit die dood, het daar ‘n belofte gelê dat “He that raised up Christ from the dead shall also QUICKEN YOUR MORTAL BODIES by His Spirit that dwelleth in you”. Deur die wet van biogenese besef ons dat dit nou moontlik kan begin gebeur, op die derde dag!

  • Sela: Miskien is hierdie die mees ontsagwekkende waarheid van die Manna tot dusver!
  • Lees: 25-33
  • Memoriseer: 26:5 (wat is die tipologiese betekenis hiervan!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Geheimenis van die Herstel van die

Heerlikheid oor die hele Aarde