Dag 1507-1509

 

“sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring”

(Joh. 4:14, OAV)

Steeds besig in hierdie subtema van die Manna om die begrip “die Gees van die Here” te ondersoek, die onderpand wat ons van die volle “lewendmakende Gees”, Christus, met die wedergeboorte ontvang.

Hoe min wedergeborenes besef egter hierdie ontsaglike diep waarheid – jy dra die self-genererende lewe van die lewende God in jou rond! Die meeste gelowiges hardloop soos afkop-hoenders rond, van byeenkoms tot byeenkoms, herlewing tot herlewing, wonder en teken na teken en wonder, op soek na ‘n fall afresh oh Holy Spirit, wat dít ook al mag beteken. Die Heilige Gees is een keer 2000 jaar gelede reeds klaar en finaal uitgestort, weet ons. Die drie Skrifte wat hierdie begrip “uit(ge)stort” in die Nuwe Testament gebruik: Hand. 2:33; 10:45 en Tit. 3:5-6 het dit nét oor daardie historiese, epogmakende gebeurtenis. Die Heilige Gees word nie weer en weer uitgestort nie.

Die volwasse gelowige het ontdek dat hy nié soseer geestelike energie ontvang deur ander of deur ander bedien te word nie, maar deur self uit die Kragbron IN hulle te lewe en daaruit te deel. Hulle moet wees soos die prototipe van Jesus, van wie in Matt. 20:28 gesê word: “net soos die Seun van die mens (wat) nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie”. Ons moet opgroei om “‘n volwasse man” te word wat “in alles … opgroei in Hom” (Ef. 4:13 & 15). Dít kan net gebeur deur te begin lewe uit hierdie bron van self-genererende lewe wat reeds IN ons is.

Hierdie ontsagwekkende waarheid word vir die eerste keer in die woorde van Jesus in ‘n uitsonderlike verhaal aan ons gebied. In Manna Dag 418 het ons bietjie oor hierdie geheimenis verduidelik aan die hand van die beendere van Josef en die simboliese betekenis van die vrou by die put in Joh. 4. Ons het daarin uitgewys dat die apostel Johannes ‘n literêre stilis is wat geen detail sonder rede weergee nie. Die verhaal begin só: “Hy kom toe by ‘n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. En die fontein van Jakob was daar.” (Joh 4:4-5).

Die fontein van Jakob … Die mannaleser behoort op hierdie stadium al agter te kom dat veel dinge verskuil lê in die alledaagse leeslandskap van die Bybel. Er staat niet net wat er staat! Sien dit raak: ons het hier te doen met die profetiese beloftes wat God aan die aartsvader Jakob gemaak het. Jesus kom sit by wyse van spreke by sy oervader se skeppingsdoelfontein. En onthou: Jakob het beslag gegee aan Israel, nadat hy met God geworstel het om ‘n nuwe identiteit. Dit gaan dus by hierdie fontein oor al die profetiese beloftes wat God aan Israel/ons gemaak het!

In Gen. 48:22 word vertel van Jakob se sterfte en dat hierdie spesifieke grond aan Josef oorgegee word. Hierdie erfdeel grens aan die ander stuk grond wat Jakob in Sigem (later Sigar) gekoop het (volgens Albert Barnes’ Notes on the Bible). Hierdie merkwaardige plek was vroeër ook, toevallig J, die plek waar Abram die eerste keer gestop het op sy pad van Haran na Kanaän (Gen. 12:5). Dit was ook die plek waar God die eerste keer aan die patriarg verskyn het en hom beloftes teenoor sy nageslag gemaak het (Gen. 12:7). En dis die plek waar Abram ‘n altaar vir die Here God gebou het (Gen. 13:18). Hierdie fontein het ‘n geskiedenis!

Met die dood van Josef lees ons van ‘n baie interessante gebeurtenis: “En Josef het die seuns van Israel laat sweer en gesê … Bring my gebeente hiervandaan op.” (Gen. 50: 25). In Eks. 13:19-20 hervat die verhaal: “En Moses het die gebeente van Josef met hom saamgeneem; want hy het die kinders van Israel plegtig laat sweer en gesê: God sal eindelik op julle ag gee; bring dan my gebeente saam met julle hiervandaan op.” En in Jos. 24:32 vind ons dat Josua profeties die belofte volvoer: “Ook die gebeente van Josef wat die kinders van Israel uit Egipte saamgebring het, het hulle begrawe in Sigem, op die stuk grond wat Jakob van die kinders van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke gekoop het, en wat die kinders van Josef as erfdeel ontvang het.”

Die vrou by die put sit by die mees historiese fontein van die ganse geskiedenis, gereed om die belangrikste openbaring en vervulling van al die beloftes van God aan Israel te hoor.

Ons moet egter net ‘n paar dinge van Samaria weet. Hierdie stukkie aarde lê tussen Judea in die Suide en Galilea in die Noorde, die land van die Samaritane, ‘n nasie wat die Jode gehaat het. Hulle het weliswaar Yahwe aanbid soos die Jode, maar hulle het hul eie tempel gehad, asook huleie priesterdom. Hulle het net die eerste vyf boeke van Moses erken as hul kanon Skrifte, want die res van die Ou-Testamentiese boeke was vir hulle verdag. Die twee geloofsgroepe het uit beginsel nie met mekaar gepraat nie as gevolg van ‘n diepgesetelde haat tussen hulle. Terwyl Jesus moeisaam moes gestap het oor die breë, warm plato van die opgaangedeelte van Lemonah, moes Hy verseker die laagliggende voetheuwels na die Ooste en die stadig-stygende opdraendes na die Weste gesien het. Hy het toe by Sigar aangekom, naby die ruïnes van die antieke Shegem. En hier, erg vermoeid deur die reis, het Jesus tot rus gekom by ‘n fonteinput. Hy was baie dors, maar het nie ‘n tou en ‘n skepding gehad om dit uit die fontein uit te hys nie. Daar kom toe ‘n vrou uit Samaría om water te skep. Natuurlik het die Jode nie met die Samaritane gepraat nie, daar was te veel sosiale, kulturele, geslagtelike en godsdienstige embargo’s op enige vorm van interaksie.

Jesus steur Hom geensins aan hierdie vooroordele en mensgemaakte wette nie. As Jesus haar dan vra vir water, antwoord sy hom direk en sonder omhaal van woorde: “Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.” Jesus se antwoord is ‘n absolute verrassing, want Hy verskuif die gesprek na ‘n nuwe geestelike plato, en maak dit onmiddellik ‘n geestelike interaksie: “Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

Sonder dat sy dit besef, bied God aan hierdie gemarginaliseerde vrou miskien een van die grootste geheimenisse van die evangelie van Jesus Christus. Sy probeer nog argumenteer, spesifiek uit ‘n eng godsdienstige konstruk, maar die goeie nuus wat Jesus bring, oorspoel letterlik en figuurlik haar intense geïsoleerdheid. Jesus gebruik die natuurlike realiteit om die geestelike realiteit te verduidelik: “Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Joh 4:13-14). Drink hierdie lewende water en word self ‘n franchise-fontein daarvan!

Die belangrike profetiese betekenis van wat hier gebeur, word eintlik eers in Joh. 7:37-39 uitgespel: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” Let wel – die Heilige Gees word gesimboliseer deur water; die Christus word gesimboliseer deur olie. Die Heilige Gees, nadat jy as wedergeborene dit ontvang het, is daarna ‘n konstante BRON wat uit jou ontspring en na buite vloei.

Job (32:18b-19) het iets hiervan voortydig al beleef: “die gees in my binneste dring my. Kyk, my binneste is soos wyn wat geen opening het nie, soos nuwe leersakke wil dit bars.” Jesaja (58:12b) profeteer mooi hieroor: “en jy sal wees … soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie”.

Jesus verduidelik aan die Samaritaanse vrou dat die evangelie na die ganse mensdom sal gaan, en dat dit van nou af nie meer gelokaliseerd is tot deiktiese ruimtes van aanbidding nie, maar dat die lokus van Goddelike kontak IN die gelowige sal wees: “Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.” (Joh. 4:20-21). Sy uitdrukking: “daar kom ‘n uur” word later onomwonde voltrek in vers 23 as: “daar kom ‘n uur, en dit is nou”! Let wel – dit is tóé reeds NOU gewees!

Die nuwe bedeling neem ‘n aanvang! Die bedeling waarin die Heilige Gees IN jou die voertuig word om DEUR jou en TOT jou die ganse aarde te bereik. Hieroor profeteer Esegiël in detail hoe hy vooruit sien hoe die waters uit die tempel (= die gelowige; die korporatiewe Christus) stroom en die heerlikheid daarvan die aarde oordek: “Daarna het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar. En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit. Toe die man na die ooste uitgegaan het met ‘n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan—waters tot aan die enkels. Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan—waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan—waters tot aan die heupe. Verder het hy nog duisend gemeet—’n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys—waters om in te swem, ‘n stroom waar ‘n mens nie deur kan loop nie.” (Eseg. 47:1-5). Let op:

  • die water kom uit die sy uit, die plek van geboorte van die Bruid (Gen. 2:21; Joh. 19:34; 1 Joh. 5:6 & 8; Hab. 3:4)
  • daar is ‘n stelselmatige verdieping van die waters vanaf eerste dimensie (“waters tot aan die enkels”), die tweede dimensie (“waters tot aan die knieë”), en die derde dimensie (“waters tot aan die heupe”). Daarna rys die waters op, en mens kan nie meer daardeur loop nie, maar net swem, wanneer “die aarde vol (sal) word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14).

In vers 7 word uitgespel: “Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ‘n menigte bome gesien, aan altwee kante.” Vers 12 voltooi hierdie restourasieproses: “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan—uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.” Jes. 61:3 (MSG) verduidelik wat het gebeur: “Rename them ‘Oaks of Righteousness’ planted by GOD to display his glory.” Ook Jer. 17:8  profeteer oor hierdie NOU-bedeling: “Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” Hierdie Ou-Testamentiese vergesig word ‘n NOU-realiteit in die Nuwe Testament in Op. 22:2  “In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” Inderdaad: daar kom ‘n uur, en dit is nou!

  • Sela: Funksioneer jy nou al as ‘n eikeboom van geregtigheid?
  • Lees: 43-48; Dan. 1-3
  • Memoriseer: 43:2 (hoe mooi is die sinchronisiteit!)
  • Delf dieper: Luister na die lering van Tom Gouws: To Know the Generosity of God and who I Am