“Gee julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer …”
(Rom 12:1, NLV)
Daar is ‘n groot stuk lering wat nog moet plaasvind rondom altare en rituele, maar dit is nie hier die plek daarvoor nie – dit sal aan bod kom wanneer ons later uitkom by die goue wierookaltaar. Die altaar waarop ons nou fokus, is die koperaltaar in die Voorhof van die tabernakel; ons het net die konsep altaar effens wyer verduidelik om dit hier beter te verstaan.
Die oomblik as ‘n persoon deur sy bewustelike keuse instep in die afgebakende gebied van die tabernakel, is hy nie meer daarbuite nie, maar binne. Dit kan op die oor af klink na overstating the obvious, maar daar lê ‘n groot waarheid verhul daarin. Die pale van die buitehofgordyne was ongeveer sewe en ‘n half meter hoog, derhalwe kon mense nie van buite af insien wat binne gebeur nie. Dieselfde is met mense die geval wat in die wêreld is en dan allerhande uitsprake het en maak oor die lewe in die koninkryk van God. Hulle het nie ‘n clue nie. Eers as jy wedergebore is, gaan jou geestelike oë oop (Joh 3:3) en kan jy die koninkryk begin sien! As jy buite is, is jy buite, en dan sluit die buitehofgordyne jou uit. Maar as jy besluit het om in te stap, is jy binne, dan hou dit dit wat buite is, uit! Daarom is dit so dat ons nie net in en uit die koninkryk val nie. As jy binne is, is jy binne, ten spyte van sonde, en so meer.
Nou as ‘n persoon ingestap het deur die hek van die Voorhof, was die heel eerste ding waarmee hy gekonfronteer is, die koperaltaar. Dit was duidelik ‘n eerste konfrontasie met dit wat God nodig ag om jou natuur van buite te verander tot ‘n nuwe natuur. Immers, dit is een van die belangrikste oogmerke van redding: om deelgenote te word aan die natuur of karakter van God (2 Pet 1:4). Die koperaltaar simboliseer allereers die geregtigheid én die genade van God. Die bloed van slagoffers is op die altaar geoffer om vir sondes, oortredinge en ongeregtighede te betaal en dit deur die offer uit te wis. God het nie die mens se donker kant net kon oorsien nie – Hy kan die sonde nie ongestraf laat bly nie (Eks 34:7; Nah 1:3), want dit het die mens van Hom verwyder (Jes 59:2; Spr 15:29; Jer 5:25). Maar in die koperaltaar het die mens die geleentheid gehad om versoening met Hom. Rom 3:26 (MSG) stel dit raak: “God sets things right. He also makes it possible for us to live in his rightness.”
Die koperaltaar was die grootste van die tabernakel se sewestuks ameublement – dit was bykans so groot dat al die ander stukke daarbinne sou inpas. Dit was geplaas regteenoorstaande die deur as jy sou inkom van buite af (Eks 40:6), net binnekant die Binnehof (vers 33). Die koperaltaar (Eks 38:30) is ook die “brandofferaltaar” (Eks 30:28) genoem. Nou behoort jy die belangrikheid van hierdie altaar, maar ook van “lewende offer” baie beter te verstaan. Sela.
- Sela: Wat beteken dit om ‘n “lewende offer” (Rom 12:1) te wees?
- Lees: 2 Sam 4; Spr 8; Heb 2
- Memoriseer: Spr 8:30-31