“flash floods on the earth’s surface”
(Hab. 3:9, NET)
Hierdie subtema van die Manna handel steeds oor “die Gees van die Here”, die onderpand wat ons van die volle “lewendmakende Gees”, Christus, ontvang met die wedergeboorte. Met die vorige aflewering oor die vrou by die put in Samaria het ons gefokus daarop dat die Heilige Gees ‘n standhoudende, blywende bron IN die wedergeborene is.
Ek beskou hierdie openbaring miskien as een van die grootste openbarings van die ganse nuwe verbond. Desnieteenstaande is dit asof die Christendom hierdie waarheid en die implikasies daarvan nie ten volle snap nie. Die Heilige Gees word IN jou as wedergeborene ‘n bron of fontein van die Heilige Gees wat durend en standhoudend uitvloei! Sela.
Die meeste gelowiges soek die bron van die Heilige Gees BUITE hulle! Hulle soek na ‘n Geesvervulde prediker, profeet, geloofsgeneser, wat ook al, wat daardie sogenaamde spesiale “salwing” het. Hulle gaan van bidsessie tot bidsessie, kamp tot kamp, opwekkingsdiens tot opwekkingsdiens, kerkdiens tot kerkdiens om “opgevul te word”, of “met geestelike petrol volgemaak te word”. Hulle hardloop agter mense aan, elke flavour of the month, en word sodoende aannemers van persoon (Hand. 10:34). Streng gesproke maak hulle vlees hul arm – “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.” (Jer. 17:5). Matt. 24:23 is wel in ‘n ander konteks bedoel, maar illustreer die beginsel duidelik: “As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie.” Soos Luk. 21:8 sê: “Gaan dan nie agter hulle aan nie.” Die geheimenis is en bly: “Christ in you, the hope of glory” (Kol. 1:27, ACV).
Ons hardloop dikwels van nuwe dam tot nuwe dam om ons geestelike dors te les, maar ons vergeet ons het ‘n lewegewende fontein aan die binnekant! Ons bly gefokus op ons dors (of dan behoeftes), en fokus nie om ‘n verskaffer van die lewende water te word nie. Dit beteken nie ons moet nie byeenkom as ‘n kreatiewe uitdrukking van God se lewende Liggaam nie, die teendeel is waar! Bepaald: “laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie …” (Heb. 10:25). Máár – diegene sonder die bewussyn van “Christus in ons” sal byeenkom met lekkende emmertjies waarmee hulle probeer opvang van wat die prediker/profeet/gesalfde ook al aanbied. Jer. 2:13 stel dit eksplisiet: “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” Diégene met die bewussyn van “Christus in ons” sal byeenkom met die ingesteldheid dat hul die lewendgewende Gees wil kom uitdeel, aanbied, dispense, en dat die byeenkoms die uitdrukking sal wees van ‘n lewende Liggaam.
Ons kom dikwels byeen met die jammerlike houding van die ou sekulêre liedjie: “There’s a hole in the bucket, dear Liza, dear Liza, there’s a whole in the bucket, dear Liza a hole!” Onthou eerder: “Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly …” – derhalwe profeteer Hab. 3:9 – “Tot riviere splyt U die aarde.” Ek roep uit tot die Bruid saam met Carly Simon: “Let the river run, let all the dreamers wake the nation!”
- Sela: Gaan lees die liriek van die lied hierbo genoem en probeer die profetiese daarin verstaan.
- Lees: 4-6
- Memoriseer: 4:2
- Delf dieper: Luister na die lering van Tom Gouws: ‘n Rivier vloei uit die Troon van God