“sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word”
(2 Kor. 4:4b, OAV)
In die laaste Manna is gesê dat vir ons in die nuwe verbond, die tradisionele fees van Pinkster ‘n heenwysing dat die Heilige Gees die eerste vrugte (Eks. 34:22; Rom. 8:23) van ons erfenis in God is, ‘n blote onderpand waarmee ons verseël word (2 Kor. 1:22; 2 Kor. 5:5), tot wanneer ons instap in ons volle erfenis.
Die woordjie onderpand, in Grieks arrhabōn, kom net drie keer in die Nuwe Testament voor. In 2 Kor. 5:5 word gestel: “Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het.” Dit word duidelik – die Gees van die Here wat gelowiges met wedergeboorte ontvang het, is net ‘n “pledge” (ACV), ‘n “down payment” (CAB), ‘n “deposit” (ABP), ‘n “guarantee” (AMP), ‘n “witness” (BBE), “the first payment” (ERV), “a foretaste” (WNT) en die mooi “the first installment” (WMSMT). Die KJV vertaal die Griekse woordjie as earnest, wat Webster verklaar as: “that which is in advance, and gives promise of something to come”. Hier nou blyk dit duidelik – die Heilige Gees is ongetwyfeld NET een onderdeel of faset van die sewevoudige Gees van God WAT MOET KOM!
In die voorafgaande vers 4 is dit duidelik dat die onderpand van die Heilige Gees ons wel in baie opsigte as gelowiges bemagtig het, maar dat dit die volheid van die sewevoudige Gees is wat ons sal lei daartoe dat “die sterflike deur die lewe verslind kan word”, dit wat die heerlike nuwe openbaring is wat in Manna Dag 1501-1503 voorgehou is! Ons moet baie goed verstaan dat die sewevoudige Gees die meganisme is waardeur God “die volheid van die tye … reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Ef. 1:10).
Die tweede vers waarin die woordjie onderpand voorkom, is Ef. 1:14. Let op die duidelike progressie wat dit vanaf vers 13 voorhou: “nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het (EERSTE DIMENSIE), in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte (TWEEDE DIMENSIE), wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid” (= evangelie van heerlikheid, DERDE DIMENSIE).
In 2 Kor. 1:21-22 word die begrip ‘n derde keer gebruik: “Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.” Dit is hieruit duidelik – die salwing in Christus het reeds met die wedergeboorte plaasgevind (Gal. 3:16), met die Gees as belofte en die sewevoudige Gees as eventuele volvoering van die volheid van ons erfenis. Die sewevoudige Gees is uiteindelik “die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:23)!
Wanneer “Christus deur die geloof in julle harte kan woon”, sal “julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God”. Hierdie openbaring lei tot ver meer as “wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Ef. 3:17-20). Christus is bepaald hierdie krag van God (1 Kor. 1:24) wat deur die sewevoudige Gees gestalte gegee word!
- Sela: Verduidelik aan iemand die verskil tussen die Gees van God en die Gees van Christus.
- Lees: 11-12; Hos. 1
- Memoriseer: 12:2-4 (hoe heerlik skakel hierdie verse in by die lering hierbo?)
- Delf dieper: Luister na die lering van Tom Gouws: Die vermeerdering van die heerskappy