Dag 1516

 

“Die beginsel van die wysheid …”

(Spr. 9:10, OAV)

Ons is besig om die tweede Gees van die sewevoudige Gees te bestudeer, naamlik die Gees van Wysheid. In die laaste Manna is die voorkoms van hierdie Gees in die Ou Testament nagespeur. In hierdie Manna wil ons kyk wat die Nuwe Testament daaroor te sê het:

  • In Luk. 2:40 word daar oor Jesus as jongeling gesê: “En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.” Dit word nie pertinent die Gees van Wysheid genoem nie, maar uit Jes. 11:2 en Joh. 3:34 weet ons dat Jesus ál die Geeste van God gehad het. Dit verklaar ook die woordjie “vol”, die Griekse woordjie plēroō wat volgens Thayer beteken: “fill to the full”. Die spesifieke noem van wysheid impliseer ook iets anders as sou dit net ‘n besondere kwaliteit van die Heilige Gees wees, byvoorbeeld bloot ‘n “woord van wysheid” as geestelike gawe (1 Kor. 12:8). Nee, die “woord van wysheid” is net ‘n manifestasie van die Heilige Gees. Die “Gees van wysheid” is ‘n manifestasie van die Gees van Christus (Rom. 8:9).
  • As daar vir die nuwe ekklesia diakens gekies moet word, berig Hand. 6:3 – “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel …” Dieselfde linguistiese patroon, met dieselfde redenasie as hierbo, word gevolg.
  • Die Skrif wat wel die volledige frase bevat, en ‘n sleutelskrif oor hierdie onderwerp is, is Ef. 1:17-19. In hierdie Skrif bid Paulus “dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte …” Hieruit wil dit voorkom asof: die Gees van wysheid en … “die Gees van … kennis” en (die Gees van) verstand sáám verligte geestelike oë meebring! In vers 19 word daar voorts ook gepraat van (die Gees van) krag en (die Gees van) sterkte. Ses van die sewe Geeste van die sewe Geeste is dus in hierdie gedeelte eksplisiet teenwoordig; die enigste een wat op die oog af ontbreek, die Gees van die vrees van die Here. Maar neem ‘n mens Spr. 9:10 in ag: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE …” dan is die Gees van die vrees van die Here by implikasie ingesluit by die Gees van wysheid, want die beginsel (archē, “beginning”, oorsprong) van Wysheid bevat reeds die kiemsel van dit wat eventueel die vrees van die Here sal word.

Die gelowige kan dus nie die Gees van die vrees van die Here ontvang sonder dat hy/sy die Gees van wysheid ontvang het nie! Dieselfde beginsel is ook waar vir die “Gees van die Here”, wat dus die archē is van die ander ses Geeste van God. Dit lyk derhalwe asof daar ‘n bepaalde ontvouing is in die orde waarin die sewe Geeste ontvang word.

  • Wat dink jy is/behels die Gees van Wysheid?
  • Lees: 11-13
  • Memoriseer: 13:14 (Hoekom is hierdie vers in hierdie gesprek belangrik?)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Sleutel tot die ontvouing van die

Goddelike Natuur in jou