“… die verborgenhede van die wysheid …”
(Job 11:6, OAV)
Ons is tans besig met ‘n dieper delf in die Skrif om te verstaan wat presies die Gees van wysheid is, hoe dit werksaam is en wat dit veral doen, met ander woorde ‘n ontginning van “die verborgenhede van die wysheid” (Job 11:6). Die sewe Geeste kan vergelyk word met die sewe kleure van die reënboog, elk het ‘n eiesoortigheid, manifestasie en heerlikheid, maar vermenging van verskillendes daarvan kan ‘n ander Gees laat manifesteer. Die kleure is egter één reënboog, hier tipologies die sewe Geeste wat die Christus vorm. As die sewe kleure deur ‘n prisma saamgetrek word, word dit wit lig, wat een van die wesenskaraktereienskappe van God is, soos 1 Joh. 1:5 (IAV) dit onomwonde uitspel: “Elohim is light …”
Dit is van groot belang dat gelowiges moet verstaan wat presies dit dan sou beteken as 1 Kor. 1:24 uitspel: “Christus … (is) die wysheid van God”. En bietjie verder, in vers 30: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God.”
Om dit na behore te verstaan, moet ons eers weet dat Jesus die beliggaming van God se wysheid is. In Spr. 8:12 begin Hy verduidelik deur ‘n duidelike posisie en identiteit as Wysheid in te neem: “Ek, Wysheid …” In vers 15 en 16 van dieselfde hoofstuk word die gelowiges wat as konings regeer hiermee gekwalifiseer: “Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is; deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.”
Wanneer Jesus dan vanaf vers 22 begin praat, en Hy Homself voorhou as die “eersteling van sy (God se) weg, voor sy werke, van ouds af”, is daar geen twyfel dat net Jesus alleen hierdie posisie kan inneem nie. Dit is immers wat Kol. 1:15 & 17 ook onomwonde getuig: “Hy is … die Eersgeborene van die hele skepping … En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” Vanaf vers 22 word ‘n lang, liriese passasie gebied oor Jesus as Seun, maar ook as die Wysheid van God: “Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af. Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie; voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore; toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie. Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy ‘n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed; toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het; toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het—toe was ek ‘n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.”
Dit is van groot belang dat ons verreken dat dit hier onomwonde gaan oor die sentrale handelende Persona wat die woord voer, naamlik Jesus. Maar dit is eweneens belangrik dat ons verreken dat in hierdie ewigheid voor tyd toe hierdie konsekutatief (opeenvolgend) gebeur het, die Christus óók reeds daar was, en meegedoen het as Homo Ludens, die spelende mens (die filosoof Johan Huizinga se bekende benoeming). Hierdie “mensekinders” was eweneens reeds daar in die oneindige eons voor die skepping, “in Hom”.
[Ons plaas ewigheid hierbo in kursief, want daar is dikwels groot verwarring oor hoe iets in die ewigheid volgens ‘periodes’ of markeringe kan verloop. So, byvoorbeeld, verklaar Keil & Delitzsch in hul Commentary on the Old Testament dit (verkeerdelik) as volg: “In order of time all His attributes are coincident and eternal as Himself. But to set forth the importance of wisdom as devising the products of benevolence and power, it is here assigned a precedence.” Ons wil hê die Mannalesers moet nie vergeet wat ons byvoorbeeld in Manna Dag 1468-1470 oor hierdie begrip ewigheid verduidelik het nie. Weer net Ellicott’s Commentary on the Whole Bible, wat dit onomwonde stel: “the Greek word which is rendered ‘eternal’ does not, in itself, involve endlessness, but rather, duration, whether through an age or succession of ages, and that it is therefore applied in the N.T. to periods of time that have had both a beginning and an ending (Rom. 16:25), where the Greek is ‘from aeonian times;’ our version giving since the world began.’ (Comp. 2 Tim. 1:9; Tit. 1:3)–strictly speaking, therefore, the word, as such, apart from its association with any qualifying substantive, implies a vast undefined duration, rather than one in the full sense of the word ‘infinite.’”
Hierdie is dieselfde ‘tydvak’, by gebrek aan ‘n beter woord, of eon, as waaroor Job 38:4-7 dit het: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? —jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?” Dit wat God vir Job vra, is nie sarkastiese vrae nie, maar werklike vrae oor die feit dat hy vergeet het dat hy deel was van die skepping van die aarde en die hemele.]
Hierdie beskrywing van Wysheid in Spr. 8 roep die karakteristieke van die ander sewe Geeste van God op: Ek, (die Gees van) Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind (die Gees van) kennis van (die Gees van) regte oorleg (= verstand). Die (Gees van die) vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek. (Die gees van) Raad en beleid is myne, ek is die insig, (die Gees van) sterkte is myne.” Uiteraard is al hierdie Geeste gevoed deur die “Gees van die Here”. Dit is absoluut merkwaardig dat die sewe Geeste van God dikwels in dieselfde perikoop voorkom!
[Ef. 1:4 verduidelik dat “Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees”. Sela net ‘n oomblik daaroor. Dit is dan beter verstaanbaar wat 1 Kor. 1:30 uitspel (let veral op die geskenk van al vier, en veral die volgorde daarvan: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Ons is nou tegnies besig met die Gees van Wysheid, maar die drie ander begrippe ontvang ons eweneens – en dit terwyl ons gekondisioneer is om te dink ons daarvoor werk! Ons verkondig graag die waarheid van 2 Kor. 7:1 – “laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring”, of ons waarsku met Heb. 12:14 – “Jaag … die heiligmaking (na) waarsonder niemand die Here sal sien nie …”. Jesus is nie net ons geregtigheid, of selfs ons verlossing nie – Hy is bepaald reeds ons heiligmaking ook! En jy erf dit die oomblik as jy “in Christus Jesus” bevind word!]
Met die ontvangs van die Gees van Christus, verkry die wedergeborene “al die skatte van wysheid en kennis (wat in Hom) verborge is” (Kol. 2:3). Ons kom later in hierdie subtema uit by wat dit prakties impliseer.
Die boek in die Bybel wat miskien die heel meeste die Gees van Wysheid vooropstel, is die boek Spreuke. Dit is te verstane, want Salomo word ten nouste met wysheid geassosieer, meer as enige ander persoon in die ganse Bybel. Tog word ons deur oorlewering verkeerd geleer dat Salomo nadat hy koning geword het, wysheid van God gevra het. Nee, dit is nié wat hy gevra het nie: “Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer? En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het. En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ‘n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor, so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ‘n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie.” (1 Kon. 3:9-12).
Salomo het ‘n opmerksame hart gevra, nie soseer wysheid nie. Hierdie woordjie opmerksaam in Hebreeus, shâma‛, word deur Strong mooi verklaar as: “to hear intelligently (often with implication of attention, obedience, etc.; causatively to tell”. Dit beteken dan nie dat ‘n opmerksame hart jou eie insig of wysheid is nie, maar bepaald God s’n, soos Spr. 3:5 dit ook uitspel: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Om opmerksaam te wees, beteken dat jy fyn kan luister na wat God oor die saak sê, en op grond daarvan die situasie beoordeel. Spr. 2:6 spel dit uit dat wysheid van God kom: “want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand”. Dit is hoekom die AMP se vertaling hiervan so raak is: “So give Your servant … a hearing heart …” Dit is nie net ‘n “understanding mind” soos die meeste vertalings dit voorhou nie, want die denke is deel van die sielsdimensie, terwyl die hart siel en gees albei insluit. (Lees weer Manna Dag 1419-1421, presies 100 Mannas terug!)
Uit hierdie Manna verstaan ons nou dat die siel én die gees met wedergeboorte salig word, en sodoende word die middelmuur van skeiding daartussen stelselmatig verwyder. Dít is presies wat Heb. 5:14 uitspel: “Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” Rom. 16:19 stel dit net in ander woorde: “Want julle gehoorsaamheid het algemeen bekend geword. Daarom verbly ek my oor julle, en ek wens dat julle wys mag wees teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is.” Om hierdie rede verduidelik die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible die antieke Hebreeuse piktograaf van die woordjie hart as “the shepherd staff representing authority”, wat gejukstaponeer word met “a picture of a tent representing what is inside”. Die verklaring daarvan is as volg: “Combined these mean ‘authority inside’.” Die Gees van Wysheid is ‘n hartsfunksie van die salige siel en salige gees van die geestelike mens.
Vir baie jare is verkondig dat ons nie meer dinge moet onderskei as “reg” of “verkeerd of “goed” en “kwaad” nie, dat dit tuishoort by die boom van die kennis van goed en kwaad, waarmee ons niks te doen behoort te hê nie. Maar nou weet ons dat dit ‘n baie belangrike fakulteitsfunksie van die sielsdimensie wat ons sedert die sondeval wel ontvang het, is, MAAR ons het die Gees van Wysheid nodig om werklik só te kan heers en leer besluite maak volgens God se perspektief.
Dat Salomo die Gees van wysheid ontvang het, is onteenseglik so. Ons lees byvoorbeeld ‘n kort wyle nadat hy dit ontvang het, die volgende in 1 Kon. 3:28 – “En die hele Israel het gehoor van die vonnis wat die koning uitgespreek het, en was bevrees vir die koning; want hulle het gesien dat daar goddelike wysheid in sy binneste was om reg te doen.” In die volgende hoofstuk lees ons: “En God het aan Salomo wysheid gegee en ‘n baie groot verstand en ‘n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê …” (1 Kon. 4:29). In die Nuwe Testament word berig van die koningin van die Suide – “sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor …” (Matt. 12:42). Ons keer straks terug na haar tipologiese betekenis.
Met die Gees van wysheid het Salomo ‘n formidabele koning en wêreldheerser geword, en het hy byvoorbeeld die majestueuse tempel van Israel gebou.
Maar die feit dat iemand die Gees van wysheid besit, beteken nie dit is ‘n ewige besitname nie; dit kan van jou weggeneem word. In 1 Kon. 11:3-4 lees ons van die latere verloop van sy lewe: “En hy het sewe honderd vroue, vorstinne, gehad, en drie honderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het. En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.” Let op – dit word herhaaldelik gespesifiseer: sy hart is verlei.
Die geweldige waarskuwing wat hiermee saamhang, is Heb. 6:4-6 “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie rhemawoord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” Dit is te verstane dan dat hierdie eens formidabele man uiteindelik ná hy die Gees van die Here én die Gees van Wysheid (en alles wat daarmee mag saamhang) verloor het, die boek Prediker kon skryf, waarvan die slagrefrein is: “Alles is tevergeefs.”
- Sela: Dit is dus moontlik om jou redding te verloor?
- Lees: Amos 3-9; Obad. 1; Jona 1
- Memoriseer: 3:3
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Kan Ek van God se Genade Verval?