Dag 152

 

“die altaar wat die gawe heilig”

(Mat 23:19, OAV)

Van drie dinge kon jy seker wees ten opsigte van die koperaltaar: daar het deurgaans ‘n vuur daarop gebrand (Lev 6:13), dit was verseker altyd bloedbevlek, maar jy kon ook verseker wees van die teenwoordigheid van die Here daar (Eks 29:11; 33:9; Lev 15:14). Offers bied toegang tot God se teenwoordigheid!

Die altaar was van akasiadoringhout gemaak, ‘n vierkant van vyf el in lengte en breedte, en drie el hoogte (Eks 27:1) en met koper oorgetrek (vers 2). Soos goud spreek van heerlikheid, silwer van verlossing, is koper altyd ‘n aanduiding van oordeel – byvoorbeeld, die koperslang van Num 21, die koperhemel in Deut 28:23 en die kopervoete van Christus as Hy terugkeer om die nasies te oordeel in Open 1:15. Die eerste verwysing na koper in die Bybel is in verband met die oordeel op die nakomelinge van Kain (Gen. 4:22)! Simson was gebind deur koperkettings (Rigt 16:21) en Saul se wapenrusting was van koper (1 Sam. 17:38). In Jes 48:4 word die rebelse mense se voorhoof koper genoem.

Om hierdie meubelstuk van die voorhof te verklaar, is voor die hand liggend. Onthou dat elke onderdeel van die tabernakel na Christus heenwys. Die akasiahout is ‘n duidelike teken van Christus se menslikheid, en dié word oordek met koper, wat dan op oordeel dui. Nie net is dit duidelik dat die koperaltaar ‘n heenwysing na die offerdaad van Christus aan die kruis is nie; Christus dui ook op die offergawe! Hy is met ander woorde Altaar én Offer. As die hardste van alle metale, bied koper die sterkste toleransie vir vuur. Dis by uitstek die metaal wat kan verduur (Deut 33:25; Jer 1:18). As God as verterende vuur (Heb 12:29) oordeel bring, is sy Altaar en Offer die enigste moontlike aanbod om Sy toorn én straf te verduur. Hý is die enigste Een wat nié verteer sou word nie! Terselfdertyd demonstreer God hier sy oordeel en sy genade.

Hierdie altaar se oppervlakte was genade (=5) maal genade; en om die volume te kry van God se genadegawe in Christus, is dit met 3 vermenigvuldig, wat die getal is van manifetasie! Boonop: 5 kwadraat beteken ‘n voltooide werk!

Eks 29:37 maak hierdie belangrike stelling: “elkeen wat aan die altaar raak, word heilig”. Elkeen wat die Naam van Christus aanroep, sal gered word. (Hand 2:21). Die toegang tot die Teenwoordigheid van God kan net gebeur deur die “Lam van God wat die sonde van die wêreld af wegneem” (Joh 1:29) – wonderbaarlik beliggaam in die koperaltaar.