“Hy, wat die afskynsel is van (God se) heerlikheid
en die afdruksel van (God se) wese …”
(Heb. 1:3, OAV)
Wat presies die Gees van wysheid is, hoe dit werksaam is en wat dit veral doen, met ander woorde ‘n ontginning van “die verborgenhede van die wysheid” (Job 11:6), is tans ons onderwerp.
In hierdie Manna wil ons vir eers wys wat die Woord van God sê die wysheid van die wêreld is, in kontras met die wysheid wat in die Gees van wysheid gesetel is.
Paulus was geweldig bekommerd oor die gemeente van Korintiërs as hy skryf: “But I fear, lest by any means, as the serpent beguiled Eve through his subtlety, so your minds should be corrupted from the simplicity that is in Christ.” (2 Kor. 11:3, KJV). Die woordjie beguiled beteken in die oorspronklike taal dat die slang haar van iets spesifieks beroof het. As ons na die Griekse woordjie kyk, exapataō, bestaan dit uit twee semantiese onderdele: ek of ex (uit) en apataō (mislei/”cheat”), of dan: uit iets mislei word. Dit het die emosionele bybetekenisse van “thoroughly deceived”, of “sold short”. Waaruit is Eva gecheat?
Die antwoord lê in die bekende Rom. 3:23, wat dit uitspel: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Ons totale oningeligte verstaan van die heerlikheid wat ons verloor het, beteken dat ons nie die koste daarvan regtig kan bereken nie. Ons gaan mank aan “die kennis van die heerlikheid” (2 Kor. 4:6), sonder dat ons besf dat die profetiese woord waarop die laaste Reformasie gerugsteen is, eksplisiet praat van “die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14).
Rom. 9:23 praat oor “die rykdom van sy heerlikheid … wat Hy voorberei het tot heerlikheid”. God, die Vader van die heerlikheid (Fil. 4:20), roep jou tot sy heerlikheid (1 Thes. 2:12). Derhalwe staan die ganse evangelie in die teken van “die hoop op die [herwinning van] heerlikheid” (Rom. 5:2), wat benoem word as die “evangelie om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry” (2 Thes. 2:14). Derhalwe moet ons verstaan waaroor gaan die “heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word” (Rom. 8:18). Net twee fasette daarvan, ter illustrasie:
- Die “slawerny van die verganklikheid” waaraan die ganse mensdom deel het, kan byvoorbeeld nét opgehef word deur “die vryheid van die heerlikheid van die seuns van God” (Rom. 8:21). Sela!
- Volgens 2 Kor. 4:17 bewerk selfs “ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, … vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid”!
Neem in ag – dit is “die Vader van die heerlikheid” wat aan ons “die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom” (Ef. 1:17) gee. Kol. 1:27 noem dus Christus “die hoop van die heerlikheid” IN ons. Uit Kol. 3:4 verstaan ons: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Onthou: dit gebeur nie in ‘n ongedetermineerde eendag in die toekoms nie – dit gebeur vandag as Hy parousia, verskyn. (Gaan lees weer Manna Dag 1340-1341.) Die kennis van die heerlikheid lei uiteraard tot die manifestasie van dié heerlikheid: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Kor. 3:18).
Maar wat het die kennis en die manifestasie van die heerlikheid te make met die gees van Wysheid, sal jy dalk tereg vra. Die antwoord op hierdie belangrike vraag is te vinde in die gedeelte van 1 Kor. 2:4-10: “my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie— maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” Wat die oog nog nie gesien het nie, wat ons nog nooit gehoor of bedink het nie, is spesifiek die herstelde heerlikheid, en dit sal gestalte vind as ons die Gees van wysheid besit! Dit is ‘n wonderbaarlike sleutel vir die Laaste Reformasie!
Dit is interessant dat Paulus praat dat daar ‘n bepaalde sjarme en begeerlikheid lê in menslike wysheid – dis oorredende van aard, met ander woorde verlei jou maklik om dit te glo. Dit is selfs moontlik dat gelowiges hul geloof kan bou op die wysheid van mense. Dis verstommend hoe maklik mense “in hul gehoor gestreel wil wees”, en derhalwe “vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede” (2 Tim. 4:3). As aanloop hiertoe verduidelik Paulus dat dit dikwels die geval is “wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie”. Daar is byvoorbeeld dikwels in geestelike argumente ‘n aandrang oor die belangrikheid van liefde, en dat iemand sogenaamd “toegemaak” moet word. Maar die dekmantel van die liefde is nie ‘n skuilplek vir vals lering, ongeregtigheid, onwaarheid, slegte gesindheid, of wat ook al nie. Dit is menslike of wêreldse kwasiwysheid wat dikwels ‘n belangrike geestelike begrip soos liefde misbruik om alle ondeugde en gemene dade “toe te maak”. Paulus sê immers in Rom. 12:9 dat die liefde ongeveins moet wees; binne die liefde moet ons verafsku wat sleg is en die goeie aanhang. Daarom maak 2 Kor. 8:8 dit imperatief dat die egtheid van die sogenaamde liefde op die proef gestel moet word, anders kan ‘n humanitêre verstaan van ‘die liefde bedek alles’ ‘n manifestasie word van wat Spurgeon genoem het “the iniquity of holy things”.
Terug by 2 Kor. 11:3 wat ons hierbo begin ondersoek het. Dít waaruit Eva, én die ganse mensdom, uitgeknikker is, is die heerlikheid van God. Daarom hou 2 Kor. 4:4 voor dat “die god van hierdie wêreld” steeds “die sinne verblind”, “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie”. Ons sou hierdie gedeelte taalkundig soos volg op drie maniere gelees kan lees:
- Christus, wat die beeld van God is
- die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is
- die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is
Die heerlikheid wat die mens verloor het, is die Beeld van God, is die Christus (die heerlikheid van die Christus, asook die evangelie wat hierdie heerlikheid van die Christus bevat). Ons kan die verlore beeld van God wat ons met die sondeval verloor het, terugwin deur die KENNIS van die evangelie van die heerlikheid van die Christus. (Interessant genoeg is daar nie een enkele Skrif wat uitspel dat die mens die beeld van God verloor het met die sondeval nie. Party teoloë sal selfs op grond van Gen. 9:6 en Jak. 3:9 beweer dat die gevalle mens steeds die beeld van God dra, maar dit is in konteks gelees Skriftuurlik ‘n onhoudbare siening.) Die verlies van die beeld van God in die gevalle mens word dus des te duideliker hierdeur gekoppel aan die verlies van die heerlikheid van God, of dan – die verlies van Christus! Hierdie siening of interpretasie word netjies gerugsteen deur Heb. 1:3, wat van Jesus die Christus sê: “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel (beeld) van sy wese …” Sien hier hoe heerlikheid en beeld naasmekaar gestel word!
Na ons die heerlikheid verloor het, is dit die teenstander se grootste wapen om mense onbewus van hierdie waarheid te hou. Die vind van hierdie waarheid sal ‘n Goddelike sinergie van verandering in jou lewe meebring wat alles totaal sal verander! Die herstel van die kennis of die evangelie van die heerlikheid van Christus in ons IS terselfdertyd ook die herstel van die beeld van God, wat ons in die voortyd gehad het (Gen. 1:27), maar verloor het met die sondeval.
[Belangrik om te onthou – volgens Kol.1:15 is Jesus gestuur om die herstel van die heerlikheid moontlik te maak vir die gevalle mens, want Hy alleen “is die Beeld van die onsienlike God”. Dis ‘n ontsagwekkende waarheid – God het sy uitverkorenes “vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun” (Rom. 8:29). Hoe gebeur dit? Terwyl “ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor. 3:18). Let wel – ons word vernuwe tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:10). Die Arameense Lamsa-vertaling van hierdie Skrif stel dit uitsonderlik: “And put on the new life which is renewed in knowledge after the pattern in which it was originally created …” Sien dit raak – die gedaanteverandering deur vlakke van heerlikheid is: (to be) renewed in (and through) knowledge, dus die kennis van die heerlikheid.]
Weer eens terug na 2 Kor. 11:3 – die wyse waarop die ou slang, die teenstander, vir Eva mislei het, word voorgehou in die KJV as “beguiled”. Ander vertalings bied dit aan as: “cheated” (ABP), “enticed” (ACV), “deceived” (ALTNT), “tricked” (BBE), “seduced” (CJB). “misled” (Lamsa), “led away” (NCV), en hy het dit deur “SUBTILITY” gedoen. Een van Strong se sinonieme hiervoor is “sophistry”, wat kom van die Griekse woordjie vir wysheid: sophia. In Engels kry ons baie afgeleide woorde wat hieruit spruit, soos byvoorbeeld: sophomore (“wise fool”), sophistry (“the art of deception through perverted logic”), en sophisticated (“worldly wise”). Dit is duidelik dat elkeen van hierdie woorde dui op ‘n wysheid wat aanloklik is vir die natuurlike mens, die vleeslike (“carnal”) denke. Paulus druk sy opstelling teenoor hierdie natuurlike wysheid baie sterk uit in 1 Kor. 1:20 – “God (het) die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak.” Twee hoofstukke verder verduidelik hy meer: “Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang; en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is.” (1 Kor. 3:18-20). In 2 Kor. 1:12 spel hy dit uit dat die wysheid van die wêreld is “vleeslike wysheid”. Die woordeboek Webster gee die mooi definisie van sophistry: “Reasoning that is superficially plausible but actually fallacious.”
In Manna Dag 1405-1406 het ons tot ‘n belangrike slotsom gekom: Alhoewel dit wel so is soos die slang aan Eva gesê het, naamlik dat die mens se oë oopgegaan het na hy van die boom van kennis van goed en kwaad geëet het (Gen. 3:22 – “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.”), was DIT nie die misleiding nie – die misleiding was dat die mens ‘n onsterflike siel het! Dit het meegebring dat die ganse mensdom se “mind” “corrupted” geword het, en dat hy aardse wysheid begin aanhang het, wat Jak. 3:15 noem “aards, natuurlik, duiwels”. Hoe ironies is dit nie – die mens is juis beroof van die spesifieke ding wat hy in die Paradys begeer het!
- Sela: Hoeveel menslike wysheid rig wat jy glo?
- Lees: Jona 2-4; Miga 1-7
- Memoriseer: Miga 4:2-3
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Ondersoek Jouself of jy in die Geloof is