Dag 1526

 

“totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry”

 (Gal. 4:19, OAV)

Dit is baie belangrik om te besef – die sewevoudige Gees van God word nie soseer deur handoplegging ontvang nie. Weliswaar word die saad van Christus met wedergeboorte (deur die handoplegging) in jou geplant, maar die groei en wasdom daarvan is ‘n proses van geestelike volwassewording, rypwording, totdat die Christuslewe IN jou gestalte vind. Daarom bid Paulus vir sy geestelike seuns “vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry” (Gal. 4:19).

Die eenvoudige rede hiervoor, is dat die Gees van Christus die manifestasie is van die goddelike natuur. Hierdie geheimenis word aan ons verduidelik in 2 Pet. 1:3-4: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”

Let wel mooi op die herstelde progressie (dis in die vers nie ontvouend aangebied nie): nádat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is → ontvang julle DIE KENNIS VAN HOM wat julle geroep het → ontvang julle DIE HERE JESUS SE GODDELIKE KRAG → WAT ALLES (grootste en kosbare beloftes) SKENK → ontvang julle dít wat tot DIE LEWE EN DIE GODSVRUG dien → sodat julle daardeur die DIE GODDELIKE NATUUR kan ontvang.

Ons gaan nie nou hierdie progressie verduidelik nie, maar sela asseblief daaroor – dit is byvoorbeeld baie belangrik om te verstaan wát presies die begeerlikheid van/in die wêreld is (1 Joh. 2:15-16 is reeds ‘n goeie aanduider); besef dat hierdie begeerlikheid verdorwenheid IN jou veroorsaak (“rottenness and corruption” volgens die Amplified), selfs al is jy wedergebore; die kernrol wat kennis hierin speel; dat die roeping sentraal staan; alles wat jy ontvang deur bloot in posisie te wees; en dat wat jy ontvang het, die goddelike natuur IN JOU bewerk. Maar niks kan gebeur en tot stand kom sonder dat jy “die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” nie!

Die begeerlikheid van/in die wêreld verklaar die Amplified as “lust and greed”. Die BBE noem dit sagter “the desires of the flesh”, die NJB “disordered passion”. Maar dit is duidelik dat dit iets is wat ons baie ernstig moet ondersoek in ons lewe, want die aanwesigheid daarvan verhoed die ganse sinergie wat in effek moet kom alvorens die goddelike natuur gestalte vind.

Dit behoort duidelik te word vir Mannalesers hoekom ons nou hierdie verduideliking moes gee – enigeen van die ses ander Geeste van die sewevoudige Gees, ook die Gees van wysheid, kan nie in werking kom sonder die gebruiksvoorwaardes wat die Skrif stel nie. Daar is bepaalde geestelike wetmatighede wat die totstandkoming van hierdie Gees van Christus reguleer, en dit word nie alles bymekaar in die Skrif gegroepeer nie – ons moet eers daarna sóék.

  • Sela: Hoekom moet jy daarna soek? Hoekom word dit nie net netjies in die Bybel gelys nie?
  • Lees: 1-3
  • Memoriseer: 2:14
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Stryd tussen vlees en gees in jou – die

worsteling vir ‘n Goddelike natuur