“Want as ek swak is, dan is ek sterk.”
(2 Kor. 12:10, OAV)
Die opmerksame Mannaleser sal agterkom dat ons die Gees van wysheid nie benader rondom vaste, konkrete feite nie, maar amper in konsentriese sirkels daar rondom loop, asof ons die onderwerp uit baie hoeke moet belig alvorens ons enigsins tot die kern kan deurdring. Die hoofrede hiervoor is natuurlik dat gelowiges omtrent altyd ten alle koste probeer om van ‘n bepaalde saak of beginsel ‘n wet van Mede en die Perse te probeer maak. Wanneer ‘n mens byvoorbeeld ‘n gedig op die analisetafel oopspalk om te kyk waar die wonder van die literêre teks verskuil is, sterf die onomvatbare onder die meedoënlose skalpels wat alles tot feit wil verstil. Dit is ook waar van geestelike beginsels – “Moenie jou verwonder … nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.” Dis ewenwel waar van die Gees van wysheid.
Ter illustrasie – in 1 Kor. 1:27 maak Paulus ‘n gelykstelling rondom wysheid, maar hy voeg dit saam met nog vier aforismes wat in hierdie passasie saam voorgehou word:
- maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam
- en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam
- en wat onedel is by die wêreld, … het God uitverkies (om wat edel is, te beskaam)
- en wat verag is by die wêreld, … het God uitverkies (om dié wat verag, te beskaam)
- en wat niks is nie, (het God uitverkies) om wat iets is, (te beskaam en) tot niet te maak.
Hier word ook ‘n vyfvoudige bediening aan gelowiges voorgehou, maar nie enigsins die vyfvoudige bediening wat soos die genadegawes van Christus in Ef. 4:11-13 getipeer kan word nie. Die kragtige vyfvoudige bediening wat die roepings van apostel, profeet, herder, evangelis en leraar dek, het baie bepaalde funksies en verantwoordelikhede in die opbou van die Liggaam, “the perfecting of the saints”. Maar dié vyfvoudige bediening wat hier uitgespel word, is egter nie ‘n kragtige bediening nie, dog letterlik ‘n bediening in geminagtheid, of weerloosheid; dit dui nie op kragtige Geeswerking nie, maar op ‘n ontdane en weerlose Goddelike natuur. Dit is gebaseer op die paradoksale beginsel van 2 Kor. 12:10 – “Want as ek swak is, dan is ek sterk.”
Die vyfvoudige bediening soos ons dit tradisioneel ken, is verreikend en kragtig, maar die vyfvoudige bediening van onverwagte krag is seer sekerlik óók enormlik kragtig! Die groot verskil is dat die 5-voudige Éfesiërs-bediening nét gestalte vind deur die Liggaam van Christus, terwyl die 5-voudige weerloosheidsbediening in alle mense kan manifesteer! Ja, lees dit weer! Dit is God se absolute prerogatief om sy karakterkenmerke in alle mense gestalte te kan laat kry – dit is dus universeel menslik in skopus. Onthou: God was nog altyd inklusief! Oor hierdie waarheid sal ons later veel meer te verduidelik hê, en in die volgende Manna meer oor die onverwagte verborge geheimenis van die gees van Wysheid.
- Sela: Probeer die 5-voudige weerloosheidsbediening deurgrond.
- Lees: 1-3
- Memoriseer: 1:12
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Word deel van die Naelstring van Christus