Dag 1528

 

“van ewigheid af voorbeskik … tot ons heerlikheid”

 (1 Kor. 2:7, OAV)

Ons is tans steeds besig met die Gees van wysheid, as deel van die reeks oor die sewevoudige Gees van God. Die Message-vertaling hou 1 Kor. 2:7a soos volg voor: “God’s wisdom is something mysterious that goes deep into the interior of his purposes.” Om derhalwe die skeppingsdoel van alle dinge, God se groot raadsplan met die mens, die aarde, en alles daaromheen, te verstaan, moet ons in die Gees van wysheid onderlê word.

In die laaste Mannas het ons uitgewys hoe God dít wat die wêreld as wysheid waan, deur die wysheid van God beskaam word. Die wêreld ag die wysheid van God as dwaasheid.

Ter illustrasie is 1 Kor. 1:27 gebruik waarin Paulus sê: “maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam”. Dit is belangrik dat die wyse hier gekwalifiseer moet word in die konteks van ‘n paar verse vroeër: “God (het) … die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak” (1 Kor. 1:20). Met ander woorde ons moet onderskei tussen dié wat as wyses in die wêreld geag word, en diégene wat die wysheid van God het.

In die volgende hoofstuk van Korinthiërs word dit in ‘n nog groter reliëf gestel: “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid …” (1 Kor. 2:3-7).

Hierdie gedeelte noem belangrike en interessante dinge oor die wesensaard van Goddelike wysheid in mense teenoor die wesensaard van menslike of vleeslike wysheid:

  • menslike wysheid word dikwels gedra deur “oorredende woorde”
  • die “wysheid van mense” staan teenoor “die krag van God” (volgens 1 Kor. 1:24 is “Christus die krag van God”!)
  • die wysheid van God bestaan in verborgenheid (“mystery”)
  • die wysheid van God was “once hidden” (AMP)
  • God het reeds in die ewigheid hierdie wysheid vir ons voorbeskik, maar dit is nou openbaar gemaak
  • die wysheid van God is nodig om die “die geroepe heiliges” (1 Kor. 1:2) tot die staat van heerlikheid te bring. Maak hierdie belangrike gevolgtrekking vas.

 

In die lig hiervan is dit van uiterste belang om die Gees van wysheid te ontvang, want daar sonder kan God se plan met die mens en die aarde glad nie gebeur nie! Die groot probleem hiermee is dat die meeste mense eintlik ‘n baie verskraalde idee het van wat God se heerlikheid presies is – in die volgende Mannas moet ons dit dan eers ontgin.

  • Sela: Wat is die verband tussen die Gees van wysheid en die heerlikheid van God?
  • Lees: 1-2; Sag. 1
  • Memoriseer: 2:3 (Mooi sinchronisasie!)
  • Delf dieper: Luister na die lering van Hein Holm: Ons terugtog na Eden en die Herstel van ons

Heerlikheid