“sodat die heerlikheid van die HERE aan julle kan verskyn”
(Lev. 9:6, OAV)
As ‘n kort, maar uiters belangrike afdraaipaadjie, ondersoek ons in hierdie en die volgende paar Mannas wát presies die heerlikheid van God behels, hoe verkry ons “die kennis van die heerlikheid van die HERE” (Hab. 2:14), met die belangrike doel wat Lev. 9:6 uitspel: “sodat die heerlikheid van die HERE aan julle kan verskyn”? In Rom. 9:4 sê Paulus dat slegs húlle (Nuwe-Testamentiese) Israeliete is aan wie die heerlikheid behoort. Derhalwe moet ons die heerlikheid soek (Rom. 2:7) “sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Pet. 4:13). Interessant genoeg noem Petrus homself ook “‘n deelgenoot …van die heerlikheid wat geopenbaar sal word” (1 Pet. 5:1). ‘n Paar verse verder noem hy dat ons “geroep is tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus” (vers 10), derhalwe kan ons ook deelgenote word aan die heerlikheid van die Here!
Die woordjie heerlikheid is miskien een van die mees misbruikte woorde in die praktyk van godsdiensbeoefening. Tot ‘n groot mate is die woordjie ‘n oorgebruikte, leë konsep wat sonder deeglike besinning as deel van die Christelike jargon gebruik word. As jy in die kerk kom, of na geestelike radio- of televisieprogramme of cd’s luister, of Christelike tydskrifte of webwerwe lees, kom jy agter die woordjie word frekwent ingespan. Dit is ‘n gunsteling woord in alle vorme van lofprysing, en word dikwels in refreine eindeloos herhaal. In die liturgie hoor ons dikwels: “Eer (heerlikheid) aan die Vader, die Seun en die Heilige Gees (“Glory to God …”)”. Ons gebede word dikwels afgesluit met: “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.” (Matt. 6:13). Die Heidelbergse kategismus leer ons dat die mens se vernaamste roeping is om God te verheerlik.
Maar wat sou dit beteken? As ‘n mens na van die bekende fundamentele of Protestantistiese leraars se uitsprake oor hierdie saak kyk, byvoorbeeld John F. MacArthur se How to Live for God’s Glory en John Piper se webwerf www.desiringgod.org, word algemene Christelike praktyk, byvoorbeeld gebed, getuienis, diensbaarheid, en so meer gelyk gestel aan ‘n manifestasie van heerlikheid. Die woorde van Jesus in Matt. 5:16 word ook dikwels as vertrekpunt gebruik: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Sien byvoorbeeld ook Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible in sy kommentaar op hierdie vers: “Our light must shine, by doing such good works as men may see. What is between God and our souls, must be kept to ourselves; but that which is of itself open to the sight of men, we must study to make suitable to our profession, and praiseworthy. We must aim at the glory of God.” Om “goeie werke” egter te koppel aan heerlikheid, hou eksegeties helaas geensins water nie.
In Pinkster- en Charismatiese geloofspraktyk word heerlikheid dikwels gekoppel aan sogenaamde bonatuurlike Geesmanifestasie. In die Christelike tydskrif Juig (September 2016) is ‘n artikel getiteld: ‘Gewild. Omstrede. Invloedryk’ oor die geweldige aanhang van die gewilde Charismatiese popgroep Bethel ̶ en hul gepaardgaande bediening, wat grootliks fokus op ‘n fisiese manifestasie van heerlikheid. Ter illustrasie word die volgende voorbeelde gebied: “laughing and jerking, waking up angels, fire tunnels, grave sucking (om op grafte van groot gelowiges te gaan lê en hul salwing in die gees op te suig), dead-raising teams, using tuning forks for prophecy, gold dust falling in the meetings, so-called drunken glory” (http://www.truthkeepers.com/?p=754). Daar is byvoorbeeld getuienisse dat mense tydens byeenkomste op ‘n bonatuurlike wyse goue en silwer tandstopsels en -vullings kry (https://www.ibethel.org/testimonies/silver-and-gold-teeth/). Voorts word die heerlikheid gesien as ‘n fisies manifestasie, wat manifesteer as “an occasional admixture of ‘angel feathers’ and a ‘Shekinah glory cloud’” (http://www.christianitytoday.com/ct/2016/may/cover-story-inside-popular-controversial-bethel-church.html). Is dit ware heerlikheid?
Dit is deurgaans belangrik om te verstaan ons dien “die onsienlike God” (Kol. 1:15). Deel van die ewige karakteristieke van God, volgens 1 Tim. 1:17, is die volgende: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.” Derhalwe, as ons ervaringe het met “die God van die heerlikheid” (Hand. 7:2), “die Here van die heerlikheid” (1 Kor. 2:8), die Gees van die heerlikheid (1 Pet. 4:14), sal die ervarings óók noodwendig onsienlik wees. Alle geloofservaringe word in Heb. 11:1 onteenseglik gekoppel aan “‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Kyk wat sê Paulus hieroor: “ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.” (Rom. 8:24-25).
As daar byvoorbeeld in Heb. 11:27 oor Moses gesê word: “Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.” Let mooi op – dit was allereers ‘n daad van geloof, dus was hy nie enigsins gerig deur fisiese manifestasies van God nie, anders was dit nie geloofsgebaseerd nie. Maar tweedens – God word in die proses steeds as die Onsienlike getipeer – die feit dat Moses volgehou het om te hoor en doen wat God sê, het hom laat beweeg SOOS een wat God sien, maar nié sien nie. Sien is nie glo, soos die spreekwoord sê nie, nee; glo is sien!
Soos Spr. 25:2 uitspel – die heerlikheid van God setel in verhulling (“concealing”), eerder as in manifestasie. Tog word heerlikheid in die Ou Testament onteenseglik gekoppel aan die fisiese, sigbare manifestasie van God se heerlikheid, veral deur sigbare wonders en tekens. In Deut. 29:2-3 praat Moses met die hele Israel en sê vir hulle: “Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders.” Trouens – God het sy volk Israel uitgelei uit Egipteland “deur tekens en wonders en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur ‘n groot verskrikking” (Jer. 32:21), wat ten nouste met ‘n manifestasie van sy heerlikheid geassosieer word. In Eks. 24:17 lees ons: “En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.”
Desnieteenstaande dit, spreek God in Num. 14:22 oordeel uit oor “al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie”. Wonders en tekens hang bepaald saam met die manifestasie van Sy heerlikheid, soos Joh. 2:11 die eksplisiete verband lê.
Maar die Nuwe Testament bring ‘n totaal nuwe bedeling rondom die heerlikheid. Jesus verklaar in Matt. 12:39 – “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.”
Die rede hiervoor is eenvoudig – die verskyning van die God van heerlikheid word in die nuwe verbond alleenlik deur die Seun gemanifesteer, “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Heb. 1:3). Sela! Ons vervat die gesprek in die volgende Manna.
- Sela: Lees weer Manna Dag 791-792.
- Lees: 2-7
- Memoriseer: 2:5 (wat beteken hierdie vers simbolies?)
- Delf dieper: Luister na die lering van Briers Uys: God se Oë Beweeg “Heen en Weer” om Sy
Heerlikheid tot Rus te bring