Dag 153

 

“Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde ‘n lamp toeberei.”

(Ps 132:17, OAV)

 

In Eks 27:2 gee God hierdie opdrag aan Moses oor die oprigting van die brandoffer-altaar: “En jy moet sy horings op die vier hoeke maak; sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees; en jy moet dit met koper oortrek.”

Die horing speel ‘n baie belangrike rol in die Skrif. Benewens dat dit as shofar (1 Kon 1:39) en derhalwe as musiekinstrument (Lev 25:9), aankondigingsmiddel (Eks 19:3), ook van bepaalde feeste (Lev 23:24; Ps 81:4), proklamasie-instrument (Lev 25:8-10), met feeste en optogte (2 Sam 6;15; Ps 47:6), as waarskuwingsteken (Neh 4:18, 20) of oorlogswapen (Jos 6:4-5), ook met die troonbestyging van konings (2 Sam 15:10) gebruik is, kon dit ook ‘n salfinstrument (1 Sam 16:1) of ‘n inkhouer (Eseg 9:3) wees. (Ons gaan later op hierdie betekenisse terugkom as ons by die goue wierookaltaar stilstaan.)

Die horings aan die koperaltaar het vier funksies vervul. Eerstens, volgens       Lev 8:15 is die altaar ontsondig deur bloed aan die horings te stryk. “So het hy (=Moses) dit dan geheilig deur daar versoening voor te doen.”  Tweedens, volgens Eks 29:12: “moet jy van die bloed van die bul neem en dit met jou vinger aan die horings van die altaar stryk”. As ons weet dat in die Hebreeus dieselfde woordjie vir ramshoring, yovel, ook “to bring forth” beteken, dan weet ons dat die bloed op die horings verlossing voortgebring het. Die simboliek van horings is krag, sterkte en heerskappy (Deut 33:17; Job 16:15; Klaag 2:3). Derdens: van die belangrikste offers is aan die horings vasgemaak. Ps 118:27b sê dit só: “Tie the sacrifice with cords, to the horns of the altar.” (LITV). En vierdens: mense wat die dood verdien het, kon vlug na die altaar toe en aan die horings kom vashou, en so vryspraak vra (Eks 21:13). Dit het byvoorbeeld met Adónia (1 Kon 1:50) en Joab (1 Kon 2:28-29) gebeur.

Al hierdie funksies van die horings aan die koperaltaar is in Christus vervul; ons word “geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus” (Heb 10:10). Daarom profeteer Sagaria in Luk 1:68 soos volg: “Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, en ‘n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg – “! Dit wat God in Ps 132:17 hierbo belowe het, het in Christus ‘n realiteit geword! Kyk hoe Hy die profesie van Hab 3:4 (KJV) laat gebeur het: “And his brightness was as the light; he had horns coming out of his hand: and there was the hiding of his power.” Dít is die krag en die lig: Hy, “wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.” (1 Tim 6:16).

 

  • Sela: Verbind al vier funksies van die horings meer spesifiek aan Christus.