Dag 1531

 

“die verskyning van die heerlikheid”

 (Tit. 2:13, OAV)

 

Ons is tans in die Manna besig om die konsep van heerlikheid te ondersoek. In die vorige aflewering het ons na die konkrete manifestasie van die heerlikheid van God gekyk, en gesien dat dit ‘n fisiese ervaring in die Ou Testament was, vir gelowiges én ongelowiges. Die manifestasie van heerlikheid was hoofsaaklik veral gesetel in wonders en tekens. Maar, het ons gesê, die Nuwe Testament bring ‘n totaal nuwe bedeling rondom die heerlikheid. Jesus verklaar in Matt. 12:39 – “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.” Oor wat hierdie teken van Jona is, het ons al uitvoerig in die Manna bestudeer. Kortliks beteken dit om die opstandingskrag van Jesus te ken en daarin te leef. Jesus die Christus is immers “uit die dode opgewek … deur die heerlikheid van die Vader, (sodat) ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel” (Rom. 6:4).

Die verskyning van die God van heerlikheid word in die nuwe verbond alleenlik deur die Seun gemanifesteer, “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Heb. 1:3). Dit is om hierdie rede dat ons hierdie ontsaglik belangrike beginsel oor die manifestasie van God se heerlikheid in die bedeling waarin ons leef, baie goed moet verstaan. Die “kennis van die heerlikheid van God” gebeur nét “in die aangesig van Jesus Christus” (2 Kor. 4:6). Onthou net – dit is aanvanklik aan die fisiese realm gebied in die gestalte van die Seun:

  • “wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom” (Matt. 25:31)
  • “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” (Joh. 11:4)
  • “want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het” (2 Pet. 1:17).

Maar dit is baie belangrik om te onthou – een van die primêre fasette van Jesus se skeppingsdoel was “bringing many sons unto glory” (Heb. 2:10, ASV). Om hierdie rede is Kol. 1:27 (AMP) so pertinent belangrik dat die identiteit van Christus IN gelowiges die kulminering van hierdie skeppingsdoel van Jesus was: “the glory of this mystery, which is Christ within and among you, the Hope of [realizing the] glory”. Die kernproses hiervan is gesetel in Kol. 3:4 – “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.”

Heerlikheid is dus nie soos in die Ou Testament BUITE die gelowige nie; dit is BINNE in ons! Mense wat soek na heerlikheid in atmosfeer, in geleenthede, in plekke, op mense, deur spesifieke goed te doen, deur lofprysing, gebed, intersessie, wat ook al, het ‘n totale misverstaan van die aard van die Nuwe-Testamentiese “verskyning van die heerlikheid” (Tit. 2:13).

  • Sela: Lees weer Manna Dag 1131-1150 oor die simboolwaarde van Jona as teken.
  • Lees: 8-10
  • Memoriseer: 8:3 (hoe belangrik is hierdie Skrif nie vir dié lering nie!)
  • Delf dieper: Luister na die lering van Tom Gouws: Jý is ‘n Wonder-teken van die Heerlikheid van God

aan die Einde van die Tye