“Julle sal My soek en nie vind nie;
en waar Ek is, kan julle nie kom nie.”
(Joh. 7:34, OAV)
Die vraag tans op die ondersoektafel is: Is daar ‘n verskil tussen die begrip ‘die koninkryk van God’, en die begrip ‘die koninkryk van die hemele’? In die vorige Manna het ons belowe om onder andere Ian Clayton se misverstaan en gepaardgaande “geestelike” aksies om die transisie daartussen te maak, Skriftuurlik te toets.
Die Bybel is altyd die eerste wegspringplek as daar ‘n dispuut oor enige saak is. 2 Tim. 3:16-17 bly ‘n bakermatteks oor die sentrale rol wat die Bybel oor ‘n saak te sê het en as bepaler van hoe ons verskillende sogenaamde geestelike realiteite, of argumentasies oor ervaringe, of botsende geestelike sieninge, moet beoordeel: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Híérdie Woord staan vas (2 Pet. 1:19), al kan dit verdraai word: “wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf” (2 Pet. 3:16). Daarom moet ons “die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim. 2:15), of soos die NASB dit stel: “accurately handling the word of truth”, want dit is immers “die woorde van God” (Rom. 3:2).
Geen persoonlike ervaringe wat NIE met die Skrif korrespondeer nie, mag gebruik word om te bepaal wat die waarheid is nie. Dit maak die ervaringe nie noodwendig verkeerd of verdag nie, maar die basis van hoe dinge uiteindelik getoets moet word, is onteenseglik die Bybel, en nie subjektiewe ervarings nie. Rom. 15:4 – “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”
Rondom Ian Clayton se hemelse ervaringe kan Kol. 2:18 van groot belang wees: “Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid.” Die Amplified omskryf die laaste frase soos volg: “vainly puffed up by his sensuous notions and inflated by his unspiritual thoughts and fleshly conceit”. Al lyk die ervaringe op die oog af baie geestelik, kan dit – ironies genoeg – as dit aan die Woord getoets word, ervaringe wees wat eerder getuig van ongeestelike gedagtes en vleeslike eiewaan.
Die kernprobleem is – omdat gelowiges ‘n diep hunkering het na ‘n groter geestelike realiteit en manifestasie van God se heerlikheid, Sy teenwoordigheid, en sogenaamde bonatuurlike ervarings, word hulle mislei om op onBybelse manier daarna te soek. Die soeke is dikwels nie soseer om God in ‘n dieper dimensie te vind nie, maar om die ervaring te soek, en die belewenis as ‘n barometer vir ander voor te hou oor hoe geestelik mense moet wees. Hos. 5:6 is steeds ‘n moontlikheid vir die praktyke van vreemde vuur: “hulle … sal heengaan om die HERE te soek, maar Hom nie vind nie. Hy het Hom aan hulle onttrek.”
In Joh. 7:34 maak Jesus dié belangrike opmerking: “Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie.” In die volgende vers bespiegel die dissipels hieroor, duidelik op ‘n vleeslike wyse: “En die Jode sê onder mekaar: Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie?” In vers 36 vra die dissipels dan spesifiek: “Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?” Daar word nie ‘n direkte antwoord op gegee nie, maar die volgende twee verse vervat die grootse geheimenis van die Nuwe-Testamentiese bedeling: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (vers 37-38).
Ons sal Hom nie meer hier op die aarde óf die hemele VIND nie, want Hy sal IN ons as gelowiges woonagtig wees – Hy, Jesus, nóú die Lewendmakende Gees (1 Kor. 15:45), “die Here (Jesus) wat (nou) die Gees is” (2 Kor. 3:18). Die uitspraak van Joh. 3:13 bly vasstaan, ook tot vandag: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.” Nie fisies nie, nie geestelik nie. Punt.
Die paradoks van die Seun wat in die hemel is, MAAR terselfderyd ook by ons, IN ons woning maak, hier op die aarde in ons vleeslike liggame (Joh. 14:23; 17:23;; 2 Kor. 6:16; Ef. 3:171 Joh. 4:4), is die saak wat grootliks die verwarring skep. Rom. 10:6b-8 waarsku en verduidelik dit eksplisiet: “Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.”
As Jesus die Lewendmakende Gees nou in die hemele is, maar ook in my as gelowige se hart, beteken dit bloot dat ons definisie van die hemele as iets ver buite ons en as ruimtelike entiteit steeds deel van ons foutiewe verwysingsraamwerk is! Daar is verskeie misleide gelowiges wat soos Thomas steeds die “weg” na die hemele deur allerlei nuwe vreemde geestelike poorte wil vind – Jesus is en bly die enigste poort (Joh. 14:6). Alhoewel Thomas en die ander dissipels uiteraard nog nie in die hemele is nie, spel sy onsekerheid uit dat hulle ook nie die pad daarheen ken nie. Dit lyk egter of mense soos Ian Clayton die pad soontoe ontdek het, maar ons weet uit die Skrifte dit kan nie wees nie! Maar Jesus sê eintlik – julle behoort reeds te verstaan waarheen Ek gaan – en Joh 14:18 spel dit ondubbelsinnig uit: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Vers 23 maak dubbeld seker dat niemand kan misverstaan dat die dissipels (of enige gelowige) “opgaan hemel toe” nie: “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Gaan lees asseblief weer Manna Dag 587-589.) Joh. 14 sê dat Jesus gegaan het om vir ons ‘n plek te gaan voorberei, maar dis nie ‘n ruimte in die hemel nie, dis ‘n plek in Hom. “Hemel” is niks anders as God (en Jesus) se staat van heerskappy nie (Jes. 66:1; Hand. 7:49), onafhanklik van plek.
Hierdie “Gees”, spel Joh. 14:17 uit: “die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom”, Hý sal by julle bly en in julle wees”. Dit is dus nie nodig om Hom te gaan soek in die hemele of probeer om Hom te sien nie. Dis tog so eenvoudig!
Uit die boek Efésiers kry ons dié twee belangrike aanduidings oor hierdie sogenaamde “heavenly places”:
- “which He brought about in Christ, when He raised Him from the dead and seated Him at His right hand in the heavenly places,” (1:20, NASB) – dit is die outoriteitstaat waarin Jesus saam met God verkeer;
- “and raised us up with Him, and seated us with Him in the heavenly places in Christ Jesus,” (2:6) – dit is die outoriteitstaat waarin die “oorwinnaars” verkeer, want Op. 3:21 sê eksplisiet: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” Dit gebeur reeds, in die hier en nou, en nie eers eendag nie.
Vir diegene wat sogenaamd indring in die hemele/die troonkamer/die derde dimensie/die (vyfde) hemel/die paradys, wat jy dit ook al wil noem, kan ‘n mens Neh. 6:8 se uitspraak (in ‘n ander konteks) hier aanbied: “Maar ek het hom laat weet: Daar het nie sulke dinge gebeur as dié waar jy van spreek nie, maar jy het dit self versin.”
Terug by die onderskeid tussen die begrip ‘die koninkryk van God’, en die begrip ‘die koninkryk van die hemele’. Laasgenoemde begrip kom net voor in een evangelie, naamlik dié van Matteus. Dit op sigself is geweldig interessant – die drie ander evangelieskrywers gebruik NOOIT hierdie begrip nie. Om dus nou ‘n teologie te bou rondom die begrip ‘die koninkryk van die hemele’ is op sigself vreemd. Die heel eerste keer dat “koninkryk van die hemele” in die Bybel voorkom, is in Matt. 3:1-2: “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Die eenvoudige rede hoekom Matteus in sy evangelie eerder die begrip ‘die koninkryk van die hemele’ gebruik, verklaar http://www.letusreason.org/Biblexp176.htm heel sinryk as volg: “Matthew avoids using the term ‘God,’ which was reserved, to be used in the their synagogues and religious meetings. The Jews in place of saying, ‘God,’ would substitute the phrase, ‘the name.’ Matthew, writing his gospel to Jews and aware of their culture, used the term ‘kingdom of heaven’ instead so it would be acceptable, not offensive to his Jewish readers. The kingdom of God and the Kingdom of heaven are used interchangeably in the gospels. It is only Matthew that substitutes the kingdom of heaven for the kingdom of God.” [Dit beteken egter nie dit is die enigste begrip wat Matteus gebruik nie – hy praat óók ‘n hele paar keer van “die koninkryk van God” (Matt. 6:33; 12:28; 19:24; 21:31 & 43.]
Die beste voorbeeld daarvan om aan te toon dat betekenismatig daar geen verskil is tussen hierdie twee begrippe nie, is om die twee begrippe in een konteks te vind: “En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.” (Matt. 19:23-24).
Nog ‘n klinkklaar bewys is om die gebruik van die twee begrippe in korresponderende gedeeltes in twee verskillende evangelies met mekaar te vergelyk:
- 19:14 – “Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.”
- 10:14 – “Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”
Daar is dus geen verskil tussen die begrippe ‘die koninkryk van die hemele’ en ‘die koninkryk van God’ nie. Trouens, daar is ‘n derde ekwivalent daarvan: Jesus praat byvoorbeeld oor die regverdiges wat skyn soos die son in “die koninkryk van hulle Vader” (Matt. 13:43), en elders oor “die koninkryk van my Vader” (Matt. 26:29).
Interessant genoeg, met Jesus se intog in Jerusalem, sing die mense Hom toe, en skreeu uit: “Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele!” (Mark. 11:10). Hierdie is ‘n weerklank van die profetiese belofte oor Jesus, wat in Jes. 9:6-7 voorgehou is: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid.” Dus: die koninkryk van die hemele = die koninkryk van God = die koninkryk van ons Vader = die koninkryk van Dawid op sy ewige troon. Die Bruid sit in Christus rééds daar (Heb. 12:22-24)!
- Sela: Maak weer vir jouself uit wat beteken dit om op die troon van Dawid te sit.
- Lees: 1-9 (Interessant dat ons nou spesifiek op hierdie plek in ons leesopdragte is!)
- Memoriseer: 3:2
- Delf dieper: Lees G.R. Beasley-Murray se boek: Jesus and the Kingdom of God met onderskeiding.