Dag 1537-1539

 

“Daar sal vir jou nooit ‘n man …  ontbreek

wat op die troon van Israel sal sit nie.”

 (1 Kon. 8:25, OAV)

 

In die vorige Manna het ons duidelik uitgewys dat daar geen verskil is tussen die begrip ‘die koninkryk van God’ en die begrip ‘die koninkryk van die hemele’ nie. Ons verstaan die koninkryk van die hemele is NIE ‘n ruimte wat ons tradisioneel as die hemel gesien het nie, en dat alle wedergeborenes reeds in Christus in daardie koninkryk is. “Hemel” is niks anders as God (en Jesus) se staat van heerskappy nie (Jes. 66:1; Hand. 7:49), onafhanklik van plek. Anders as wat mistici glo en propageer, gaan ons nie daarin nie – ons woon reeds daar. Dit is dus nie nodig om Hom te gaan soek in die hemele of te probeer om Hom daar te sien nie.

Voor ons verder na die hooffokus van ons huidige gesprek kyk – wat handel oor die heerlikheid en die manifestasie daarvan – is dit belangrik om net sekere slotbetoë oor die onderwerp van die koninkryk van God/die koninkryk van die hemele te maak, om dit af te rond.

In Ps. 145:11-13 praat Dawid oor hierdie koninkryk van God: “Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. U koninkryk is ‘n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.” Dit is belangrik dat ons Mannalesers sal raaksien dat Dawid nie net oor God se troon hier praat nie, maar insgelyks van sy eie troon as koning, “die troon van Dawid en … sy koninkryk” (Jes. 9:6).

Hierdie belofte het God aan Dawid gemaak – “Hou nou ook, HERE, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit ‘n man voor my aangesig ontbreek wat op die troon van Israel sal sit nie as jou seuns net hulle weg in ag neem deur te wandel voor my aangesig soos jy voor my aangesig gewandel het.” (1 Kon. 8:25; ook herhaal in 1 Kon. 2:4; 9:5 en 2 Kron. 6:16; 7:18). Die profeet Jeremia (33:17) bevestig dit later in die geskiedenis baie duidelik: “Want so sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie ‘n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie …” Let op – “Daar sal vir jou nooit ‘n man … ontbreek nie …” Wie is hierdie “decendants” (soos die GNB dit vertaal) wat op die troon in die koninkryk sit, wat die heerlikheid deelagtig word? Natuurlik húlle wat uit die nageslag van Dawid kom, met ander woorde hulle wat uit Jesus die Christus gebore is, wat ons na aanleiding van Matt. 1:17 se geslagsregister van Jesus, die 42ste geslag noem. (Lees weer Manna Dag 364-365 om die simboliese betekenis van die 42ste geslag te begryp.)

[Daar sal seker puntenerige lesers wees wat sou wou redeneer dat hier sprake is van “die troon van die huis van Israel”, en dat dit nié noodwendig na ‘die troon van die koninkryk van God’ verwys nie. En ja, dit is waar, maar ‘n mens moet onthou al bogenoemde Skrif gaan rondom God se prototipiese verbondsvolk van die ou verbond, naamlik die volk Israel. Hierdie definisie van die huis/koninkryk van Israel word verruim om in die nuwe verbond die ganse geestelike Israel as ‘n nasie van wedergeborenes voor te stel (Rom. 2:28-29). Die mens van die nuwe verbond wat allereers op die troon gaan sit het, is “die mens Christus Jesus” (1 Tim. 2:5). Om hierdie rede verduidelik Luk. 1:31-33 deur die engel vir Maria: “En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” In Hand. 2:30 verduidelik Petrus aan die mense op die dag van Pinkster dat Dawid “‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit …” Ons weet dat Christus hier dui op die Verlosser, Jesus, maar ook dan veral ook op die Christus – die Hoof Jesus en sy liggaam (Ef. 1:22), “die ekklesia, sy liggaam … , die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (vers 23)!

Daar behoort dus geen twyfel te wees dat alle wedergeborenes in Christus Jesus geroep is om op die troon van die koninkryk van God te sit nie. Jesus spel dit uit in Luk 22:29-30 (NIV): “And I confer on you a kingdom, just as my Father conferred one on me, so that you may eat and drink at my table in my kingdom and sit on thrones …” Dat dít nie eers ééndag gaan gebeur nie, is so duidelik uit Gal. 4:4 waar Paulus praat van die tyd toe God sy Seun gestuur het, wat toe reeds  “die volheid van die tyd” genoem is. Die ontvouing hiervan vandag is STEEDS binne die volheid van die tye, soos Ef. 1:10 ook uitwys, dat God “die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig. Dit is met ander woorde dieselfde epog van die volheid van die tye waarbinne ons ons bevind, en dit het begin toe Jesus aarde toe gestuur is, en dit sal eindig as Ef. 4:13 plaasgevind het: “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus”.]

Hierdie “koninklike priesterdom” (1 Pet. 2:9) is reeds besig om in die (koninkryk van die) hemele te regeer. Dat dit nog nie die volheid van die openbaring is oor hoe presies daardie heerskappy die aarde verander nie, is bepaald so, dit is ook deel van die openbaarmaking (“unveiling”) van hierdie konings se identiteit in Christus Spr. 25:2). Onthou: naby jou (NIE in die hemel soseer nie) is die ontvouende rhema-woord waardeur Hy, deur heerskappy, “eons” of wêrelde volledig maak (Heb. 11:3).

Een van die ander misverstande wat oor die koninkryk van die hemele/van God bestaan, is dié woorde van Jesus in Matt. 24:14 – “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”

Die koninkryk van God word gedra deur ‘n bepaalde evangelie daaroor, genaamd die evangelie van die koninkryk. Daar is verskeie verse oor hoe Jesus spesifiek hierdie evangelie verkondig het, selfs dat Hy spesifiek dáárvoor gestuur is: “Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.” (Luk. 4:43). Later in die boek, in Luk. 16:16, word dit uitgespel: “Die wet en die profete was tot op Johannes (die Doper); van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.”

Ons het reeds uitvoerig in die Manna geskryf oor die wye misinterpretasie van Matt. 24, en spesifiek dat dit allerweë gelees word as katalogus van die tekens van die einde van die tye. Hierdie begrip, die einde van die tye, weet ons, is eintlik verwarrend en uitgedien. Die hele gedeelte van Matt. 24 wat sogenaamde tekens en waarskuwings is, moet gelees word in die lig van vers 34: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Hierdie woorde van Jesus is uitgespreek in ongeveer 30 n.C., en een geslag word in Bybelse terme gereken as 40 jaar (op grond van Num. 32:13), dus praat Jesus daarvan dat hierdie geslag wat sy woorde aanhoor, nie verby sal gaan voordat die woorde vervul is nie. Derhalwe sê Albert Barnes’ Notes on the Bible oor hierdie vers: “A generation is about 30 or 40 years. The destruction of Jerusalem took place about forty years after this was spoken.” In John Gill’s Exposition of the Entire Bible maak hy hierdie belangrike stelling: “this is a full and clear proof, that not anything that is said before, relates to the second coming of Christ, the day of judgment, and end of the world; but that all belong to the coming of the son of man, in the destruction of Jerusalem, and to the end of the Jewish state”. Sela.

Myles Munroe, in sy basiese maar goeie oorsig oor die belangrikste doktrines rondom die koninkryk van God, Rediscover the Kingdom, trap egter netjies in hierdie vangstrik. Hy gebruik Matt. 24:14 om te sê dat die evangelie van die koninkryk eers verkondig moet word aan al die nasies in die hele wêreld, en lys dan almal wat nog nooit van Jesus gehoor het nie, wat nog van die koninkryk van God! Daarom is sy evangelistiese appèl dan dat daar nog baie tyd is voor die einde sal kom. Alhoewel Munroe duidelik uitspel: “God never promised man heaven, but earth” (p. 33), bring sy interpretasie van hierdie vers mee dat dit lyk asof die koninkryk eers teen die einde van tyd sal kom, met die spesifieke voorwaarde dat die evangelie van die koninkryk aan alle nasies gebring moet word. [Natuurlik – mense neem onmiddellik aan die evangelie moet aan alle mense gebring word, wat ook van inlegkunde getuig.] Die woordjie einde in die sin: “en dan sal die einde kom”, is die Griekse woordjie telos, wat wél end of termination kan beteken, “but not of the end of a period of time”! Volgens Thayer kan dit ook die volgende beteken: “the last in any succession or series, eternal, that by which a thing is finished, its close, issue, the end to which all things relate, the aim, purpose”. Dit is hoekom die DRB dit voorhou as “then shall the consummation come”, en die ERRB: “and then shall the end completion/shalom come”. Die mooiste vertaling is dié van die Accurate New Testament: “then will come The Result”!

Die koms van die koninkryk is ongesiens: “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie,” het Jesus dit eksplisiet uitgespel in Luk. 17:20. Daarom moet ons nie die koms van die koninkryk enigsins in manifestasies van Goddelike regering op die aarde en in wêreldse sisteme soek nie – “Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie …” (Joh. 18:36).

Een van die belangrikste boeke in die Bybel oor die koninkryk van God is die boek Daniël. In hoofstuk twee lees ons van die koning van Babilon se skynbaar onverklaarbare droom, en Daniël wat oorkoepelend verduidelik waaroor dit gaan: “Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.” (vers 28). Dink vir ‘n oomblik daaraan: dié wêreldse koning wat ongeveer 600 jaar voor Jesus se geboorte geleef het, word deur God ‘n droom oor die einde van die wêreld soos hy, en ons dit ken, gebied! En raai waaroor gaan die droom? Oor die totstandkoming van die koninkryk van God! Dit verduidelik ook die ontvouing van die mens se geskiedenis in verskillende wêreldse koninkryke, en dan hoe die koninkryk van God ál hierdie koninkryke vernietig. In Dan. 2:44 spel die profeet dit as volg uit: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—”.

Hoe mooi word hierdie einde dan verduidelik deur die beeld waarvan koning Nebukadnésar gedroom het, en Daniël verklaar: “net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud (van die beeld) verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.” (vers 45).

Die “klip” wat loskom van die berg is duidelik die “Hoeksteen” (Ef. 2:20), “ ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling (in Sion)” (Rom. 9:33), en dié Rots is Christus (1 Kor. 10:4). Let wel – dít wat die koninkryk naby laat kom het (Matt. 3:2), was die verskyning van Jesus, sodat Hy die grondlegging van hierdie ewige koninkryk van God kon grondves. En dit wat hierdie koninkryk van God sal voltooi of voleindig, is die openbaarmaking van die Christus!

Nebukadnésar se seun, Bélsasar, het ná sy vader se dood oor Babilon geheers, die eerste van die wêreldkoninkryke. In die eerste jaar van Bélsasar se heerskappy het Daniël ‘n droomgesig gesien van ‘n Ancient of Days, een van die Name van die Here Jesus. In Dan. 7:14 word hierdie merkwaardige saak geprofeteer: “En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” En dan in vers 18: “en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid”. Wat ‘n woord! Wat ‘n ongelooflike heerlike wete dat God tóé al op ons koningskap in die koninkryk van God besluit het.

  • Sela: Verduidelik aan iemand waar die konsep van die koninkryk van God vandaan kom.
  • Lees: 10-18
  • Memoriseer: 10:7 (Mooi!)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Koninkryk van God is in Jou