Dag 1540-1542

 

“And to whom He gave clear and certain signs that he was living, after his death; for he was seen by them for forty days, and gave them teaching about the kingdom of God …”

 (Hand.1:3, BBE)

Met die skryf van die vorige Manna oor die koninkryk het ek gemeen dat dit net sekere slotbetoë oor die onderwerp van die koninkryk van God/die koninkryk van die hemele sou wees, om dit af te rond, maar dit blyk toe dat hierdie onderwerp vir veel meer toeligting vra. Die masskrif hierbo aangehaal, toon onteenseglik aan dat dit miskien die heel belangrikste saak is wat Jesus deeglik wou toelig. Hy het immers in Matt. 6:23 uitgespel: “soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”.  Derhalwe sal ons vir ‘n wyle eers bietjie dieper delf rondom die beslaggewing van die koninkryk van God sodat ons verstaan daarvan korreleer met dít wat Hy verduidelik het.

Ons hoop dat ons Mannalesers teen hierdie tyd al deeglik die vleeslike manier van dink en beredenasie oor die koninkryk van God te bowe gekom het. Daar is soveel vals idees, interpretasies, visioene, belewinge en ervaringe wat gelowiges gebruik om ‘n koninkryk te bedink en te konstitueer, maar wat glad nie korrespondeer met wat die Skrifte daaroor te sê het nie. Die hoofrede hiervoor is dat Jesus dit self, in sy verduideliking van wat die koninkryk van God is, deurgaans aan die hand van gelykenisse gedoen het. En omdat hierdie verhale oop tekste is wat dikwels nie simbolies een-eenduidig verklaar kan word nie, dui dit ontsettend baie fasette aan van wat en waar die koninkryk van God is, hoe dit funksioneer en wat ons moet doen om die koninkryk te sien en daarbinne te gaan. Helaas is baie van hierdie versinsels gebaseer op menslike ervarings of idees, of sogenaamde mistieke belewinge. Dit mislei baie mense wat weliswaar ‘n dieper soeke het na God en sy koninkryk, en hulle word deur verleidende geeste afvallig gemaak (1 Tim. 4:1).

Dit is egter nie net nuwe new age-leringe met ‘n Christelike fineer en ‘n nuwe mistisisme wat ‘n verkeerde verstaan van die koninkryk veroorsaak nie. Die oorgrote meerderheid gelowiges glo dat Jesus óf deur die wegraping óf deur die wederkoms gaan verskyn en hul na die koninkryk van die hemele gaan neem, en dat daardie koninkryk niks met die aarde te doen het nie. Sommige glo dat Sy (letterlike) duisendjarige vrederyk of koninkryk nét op aarde gaan plaasvind; ander weer dat die herstelde Israel die koninkryk van Dawid is wat aan God se uitverkore volk belowe is. Almal wat vashou aan die kataklismiese gebeurtenisse wat voorspel is vir die einde van die wêreld, onder andere ‘n aarde wat met vuur sal vergaan, die stuur van ongelowiges hel toe vir ‘n ewige straf, die veilige, salige hawe van die hemel vir die wat dít beërwe, en veel meer mitologiserings van hierdie aard, toon onteenseglik óók dat die meeste gelowiges eintlik die konsep van die koninkryk van God totaal misverstaan.

Nóg ‘n groepering hier te lande wat ‘n miskonsepsie het van die koninkryk van God is die kultus wat as die Brits-Israelisme of die Israelvisie bekend staan. Daar is verskeie groeperinge hierbinne, maar losweg glo hulle dat die Anglo-Saksies-Keltiese nasies die verlore tien stamme van Israel is, die noordelike stamme van die destydse Israel wat in ballingskap geneem is. Hulle voer argumente aan dat die moderne blanke groeperinge in Brittanje, die Verenigde State van Amerika, Australië, Nieu-Seeland, noordwes Europa, Suid-Afrika, en enkele ander, hierdie verlore stamme vorm. Hulle beskouing is dat die Britse Koningskap ‘n direkte voortspruitsel van die Huis van Dawid is en dat hierdie volkere die nasionale grondslag van die Koninkryk van God op aarde sal vorm. Volgens hulle kom Jesus terug aarde toe om deur hierdie blanke volkere oor sy nuutgevonde koninkryk op aarde te regeer, en dit sal spesifiek gebaseer wees in Londen as hoofstad, volgens hulle die konkrete Nuwe Jerusalem. Hierdie groepering praat met absolute minagting van die Jode – húlle beskou hulleself as die ware Israel. Hierdie wit koninkryk sal volgens hulle polities, wetlik en militêr regeer. [Ons het reeds op Dag 176 baie kortliks oor hierdie mistasting geskryf, vir diegene wat verdere toeligting hieroor soek.]

Bepaalde ander kultusgroepe, soos Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, oftewel die Mormone, glo dat hulle groepering die koninkryk van God op aarde verteenwoordig. Hul skrifture, byvoorbeeld Die Boek van Mormon, noem somtyds die Kerk die koninkryk van die hemel, wat beteken dat die Kerk die koninkryk van die hemel op aarde is. Ons bespreek hierdie dwaling nie verder nie, maar dit is baie belangrik om aan te stip dat enige groepering wat op grond van hulle openbaring of ras of kennis of afkoms of geloofsleer, of wat ook al, hulleself eksklusief beskou as ‘n uitverkore groepering met ‘n Messiaanse belangrikheid, reeds op grond van hierdie eiewaan verdag moet wees.

‘n Baie algemene wanpersepsie oor die koninkryk van God onder Christene is dat dit gelyk gestel kan word aan die breë sisteem van georganiseerde godsdiens wat ons die algemene, universele kerk noem. Daar word gemeen dat die verbondsbeloftes van God met Abraham en Dawid oorgedra is na die kerk en derhalwe geestelik deur hulle in die kerk vervul is. Volgens hulle is die kerk dus die Nuwe Israel op die aarde. In die Middeleeue het die Rooms-Katolieke pous, kompleet met fisiese kroon, troon, mantel, regering en weermag die nasies van Europa vir duisende jare as die sogenaamde koninkryk van God regeer. ‘n Bevestiging dat hierdie idee vandag nog geldig is, is die feit dat die Vatikaanstad as ‘n soewereine staat funksioneer. Wikipedia verduidelik dit soos volg: “the Holy See (is) the government of the Catholic Church and the temporal ruler of the Vatican City. Eighty countries currently maintain embassies to the Holy See. The Vatican City State, over which the Holy See is sovereign, is the smallest independent entity in the world and its size renders any resident diplomatic community impractical. Therefore, all embassies to the Holy See are located in Rome making Vatican City one of only two sovereign states, the other being Liechtenstein, with no resident embassies located within its territory.”

Die Rooms-Katolieke kerk is van ná die eerste eeu wyd beskou as die enigste ware kommunale en verteenwoordigende kerk van die wêreld, en vandag word dit steeds deur miljoene mense op die aarde geglo, in hulle eie woorde: “the universal sacrament of salvation for the human race” en “the true religion”. Met die Fourth Lateran Council van die kerk is onomwonde verklaar: “There is one universal Church of the faithful, outside of which there is absolutely no salvation.”  [http://www.catholic365.com/article/1723/5-reasons-the-catholic-church-is-the-true-church.html; http://www.vatican.va/archive/hist_councils/ii_vatican_coun-cil/documents/vat-ii_const_19641121_lumen-gentium_en.html; http://www.vatican.va/ roman_ curia /congregations/cfaith/documents/rc_con_cfaith_doc_20070629_responsa-quaestiones_en.html).]

Helaas was die tydperk toe die Rooms-Katolieke Kerk sigself tot die universele koninkryk van God verklaar het, in die geskiedenis as die Donker Eeue bekend. In plaas daarvan dat die kerk as heerskappy op aarde ‘n glansryke geskiedenis gelaat het van vooruitgang, progressief, vol genade en waarheid, gevul met voorspoed vir die wêreld, was daardie epog die donkerste van alle tye, vol ongeletterdheid an onkundigheid en skrikwekkende gebrek op alle vlakke.

Vandag nog glo gelowiges dat die koninkryk van God sal kom as die regte Christene/die Bruid in bepaalde sleutelposisies in die politiek, besighede, organisasies, en so meer, is. Dit is presies wat gebeur het in die tyd van die Romeinse Ryk, toe Konstantijn dramaties tot bekering gekom het en kerk en staat begin vermeng het met die slagspreuk: Een God, Een Keiser, Een Ryk. [‘n Baie insiggewende boekie hieroor is Richard Klein se Zum Verhältnis von Staat und Kirche in der Spätantike.] Die resultaat was egter nie ‘n goue eeu of Utopia soos voor gehoop is nie, maar ‘n simbolies-fisiese en geestelike donkerte wat oor die aarde gekom het, en wat beheer is deur die misterie van die koninkryk van die Grote Babilon, “a name of mystery [with a secret symbolic meaning]: Babylon the great, the mother of prostitutes (idolatresses) and of the filth and atrocities and abominations of the earth” (Op. 17:5, AMP).

Dit laat ons noodwendig terugkeer na koning Nebukadnésar en sy droom van die groot koninkryke wat mekaar sou opvolg. Dan. 2:31-33 gee dit soos volg in die profeet se woorde weer: “U, o koning, het ‘n gesig gehad—kyk, daar was ‘n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.”

Hieruit kan ons aflei dat daar vyf duidelik onderskeibare wêreldkoninkryke is wat mekaar deur die eeue sou opvolg. In vers 29 sê Daniël aan die koning oor sy droom: “die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur”.

Vanaf vers 36-45 word die volgende profetiese uitleg gebied: “Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê: U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het—ú is die hoof van goud. En ná u sal daar ‘n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ‘n ander, ‘n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis. En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was—dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is—’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ‘n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie. Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”

Dit is belangrik om te besef dat daar bepaalde koninkryke hier in die droom uitgesonder word, en die interpretasie daarvan deur Daniël se uitleg gerig moet word. Uiteraard was daar in die geskiedenis baie ander (magtige) koninkryke, maar hier word ter wille van God se koninkryk bepaalde koninkryke uitgehef wat die loop van die wêreld onteenseglik bepaal het (soos Matt. 1 se geslagsregister byvoorbeeld selektief ‘n genealogie saamstel).

Daniël identifiseer die eerste koninkryk as dié van Nebukadnésar en die Chaldeense of Babiloniese koninkryk. Uit die verloop van die geskiedenis kan ‘n mens die volgende drie koninkryke maklik ook identifiseer: die koninkryk van die (Meders en die) Perse, die koninkryk van die Grieke, en die Romeinse koninkryk. Die vyfde koninkryk neem ‘n informele aanvang in 476 n.C. toe barbare die Romeinse Ryk finaal oorgeneem het, en daaruit ‘n verdeelde koninkryk van tien groeperinge, onversoenbaar, maar met wankelrige alliansies, tot stand gekom het. Ons noem dit vandag oorkoepelend Europa. In die volgende Manna meer.

  • Sela: Kan jy redes verskaf waarom alle voorbeelde wat hierbo voorgehou is, nie Bybels
  • Lees: 13-21
  • Memoriseer: 13:3 (Hoe gepas!)
  • Delf dieper: Luister na Saar Zaayman se cd: Deelgenote aan die onwankelbare Koninkryk van God