Dag 1549

 

“… they will try to join with one another.

But they will not stay together …”

 (Dan. 2:43, NLV)

 

Dit is absoluut merkwaardig dat die groot koninkryke wat mekaar in die geskiedenis sou opvolg deur die profeet Daniël in besondere detail en met takserende juistheid voorgehou is. Ons is tans besig om die veelseggende beeld wat koning Nebukadnésar in ‘n droom gesien het, te ondersoek en is besig met die vyfde en laaste deel van die beeld, naamlik die “voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei” (Dan. 2:33). In die vorige Mannas is uitgewys dat hierdie verdeelde koninkryk van tien groeperinge oorkoepelend as Europa bekend staan. Die simboliek van die yster en die klei dui op ‘n vermenging van burgelike mag en Christelike heerskappy. Deur die beeld wat koning Nebukadnésar gesien het, het God reeds vir ons uitgespel hoe Hy die Christelike geloof gaan grondves binne burgerlike heerskappy, maar dit sou helaas nie suiwer wees nie, maar gekontamineer en vermeng.

In die laaste Manna is ook verduidelik dat die samesweringsteorieë die afgelope tweehonderd jaar in ‘n groot mate glad nie gerealiseer het om ‘n eenwêreldregering onder die Antichris te vorm nie. [Uit baie vorige Mannas is in detail verduidelik die Antichris is nie net een persoon nie – gaan lees weer byvoorbeeld Manna Dag 853, 854, 1453 en 1454.] Ten spyte dat daar oor eeue heen sekulêre geheimenisse geweef is rondom hierdie vals verwagtinge, en baie vrees daardeur geskep is, het die godsdienstige, politieke, finansiële en sosiale voorspellings bykans nooit gebeur nie. Keer op keer het tyd uitgewys die samesweringsparanoia totaal onnodig was, en heelwat energie en tyd geroof het van God se ware openbaring oor die tye. Net in die laaste tweehonderd jaar is die wêreld deur verskeie oorloë, insluitend twee wêreldoorloë, depressies, die opkoms en die verval van kommunisme, en steeds word nuwe kandidate gesoek wat nou uiteindelik vir hulle die ware jakob-antichrisprofiel sal pas. Die Christendom is telkens hierdeur belaglik gemaak deur telkens die koms van die fisiese merk van die dier te antisipeer.

Die waarheid is – die wêreld is nie besig om te verenig nie; die wêreld is besig om algaande al hoe meer te fragmenteer en te diversiviseer. Hierdie laaste menslike koninkryk van die voete van yster en klei is gefragmenteerd – “they will try to join with one another. But they will not stay together …” (Dan. 2:43, NLV). Daar was deur die eeue baie pogings om hierdie tien tone van die beeld wat Nebukadnésar van gedroom het, te verenig – Gengis Khan, Charlemagne, Napoleon, Buffalo Bill (Wilhelm III), Louis XIV, Napoleon, Hitler, die Kommuniste, Isis, noem maar op. Elke poging in die verlede is deur God tersyde gestel en kragteloos gemaak, en elke poging om dit in die toekoms te doen, sal eweneens geen vrug oplewer nie.

Helaas doen die kerk oorywerig mee aan hierdie sensasionele opruiery, sonder om te weet en te verkondig wát die ware apokalips is.

  • Sela: Jy moet teen hierdie tyd weet wat is die ware apokalips.
  • Lees: 12-14
  • Memoriseer: 12:27
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die antichris bewoon reeds die tempel