“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?”
(Ps. 2:1, OAV)
Gelowiges se groot vrees vir ‘n eenwêreldregering is ‘n baie algemene verskynsel. MAAR dit beteken nie noodwendig dat dit gaan gebeur nie! Ps. 2:1 se vraag is steeds vandag geldig: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?”, want dit word in Hand. 4:25 deur die apostel herhaal, en daarby word gevoeg: “Die konings (lees ook: heersers) van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.”
Besef asseblief op hierdie punt dat die beeld wat koning Nebukadnésar in sy profetiese droom gesien het, en wat Daniël so histories korrek verklaar het, presies hierdie begeerte tot die opbou van ‘n eenwêreldregering deur die eeue verduidelik het. (Ons het hierdie oorsig in detail gevolg deur die laaste Mannas.) Die laaste aardse koninkryk – waarvan ons tans histories gesproke deel is – wat in die beeld voorgestel word deur die voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei (Dan. 2:33) – is ook ‘n aardse koninkryk wat erg verdeel is, maar waar daar die intense strewe is om dit onder een wêreldse hoof/organisasie/regering te verenig.
MAAR minder nog as met die vorige vier koninkryke is dit absoluut onmoontlik om hierdie koninkryk te verenig, want yster en klei kan per definisie nie mekaar aankleef nie! Daniël verklaar dit self onomwonde in hoofstuk 2:41 & 43: “dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees”, “die yster gemeng met kleigrond … sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie”. Volgens hierdie profesie KAN daar nie ‘n eenwêreldregering wees nie!
Dit is belangrik om Daniël se uitspraak oor leiers en leierskap, wat duidelik in die konteks van wêreldleierskap geprofeteer is, voor te hou oor hierdie saak: “Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.” (Dan. 2:21-22).
Gelowiges se onversadigbare aptyt vir klandestiene wêreldgebeure wat ten alle koste profeties verklaar wil word, veral uit die Ou Testament, en gemaak-pas word op eietydse gebeurlikhede, meestal gebaseer op ondergrondse en geheime organisasies, veroorsaak dat hulle oog dáárop gevestig is, nié met “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:2) nie. Die KJV noem Hom “the author and finisher of our faith”. In Hom, en nie in wêreldgebeure of ekologiese krisisse, setel ons voleindiging. Dit is ‘n ontsaglike troos. Matt. 11:13 speel klaar met al die toekomsgerigte profesieë wat gelowiges op die Nuwe-Testamentiese tyd wil maak pas: “Want al die profete en die wet het tot op Johannes (die Doper) geprofeteer.” Dit is ALLES klaar vervul in Jesus.
Daarbenewens – ons moet onderskei tussen feit en waarheid. Waarheid is in wese ‘n Persoon, sy Naam is Jesus die Christus (Joh. 14:6). Alle feitelike waarheid dra egter nie sý waarmerk van Lewe nie. Daar is waarheid wat nie die Waarheid is nie, en derhalwe is dit bepaald waarheid wat dood bring – nie alles is nuttig of stig mens nie (1 Kor. 10:23).
- Sela: Maak seker van hoe jy die Ou Testament behoort te lees.
- Lees: 4-6
- Memoriseer: 4:4
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Bruid se Identiteit van Waarheid.