Dag 1553-1554

 

“… they spread a negative report …”

 (Num. 13:32, CJB)

 

Daar is leraars en gelowiges wat ‘n mens baie herinner aan diegene van wie Num. 13:32  (CJB)  praat, dié wat ná die deurtog van die woestyn uiteindelik gekom het by die drumpel van die beloofde land, en desnieteenstaande: “they spread a negative report”. Hulle verklaar onomwonde dat dit ‘n wêreld is “wat sy inwoners verteer”. God het hul presies die teenoorgestelde beloof, “‘n buitengewoon goeie land … ‘n land wat oorloop van melk en heuning” (Num. 14:7-8). Dít was presies wat Josua en Kaleb kom getuig het. Die ander verspieders het fisies dieselfde land gesien, maar hulle kon nie raak sien, insien, dieper sien, nie, en derhalwe wou hulle nie ingaan in God se belofte nie.

Die beloofde land stel tipologies die Christus voor, “the visible image of the invisible God” (Kol. 1:15, KJV). Die Bruid word geroep om te leer om Christus te bewoon soos die Beloofde Land! Dit beteken daar is geweldige berge, dieptes, groot uitdagings, enorme reuse, maar dit is deel van die pakket om ons erfdeel in besit te neem. Desnieteenstaande bly die belofte van God staan: “Want die HERE jou God bring jou in ‘n goeie land, ‘n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ‘n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ‘n land van olieryke olyfbome en heuning; ‘n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ‘n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het.” (Deut. 8:7-10).

Maar baie gelowiges bedink aardse dinge (Fil. 3:19). In Kol. 3:2 stel Paulus dit onomwonde: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Jesus vermaan Petrus met die woorde: “jy (bedink) nie die dinge van God … nie, maar die dinge van die mense” (Matt. 16:23). Ons word geroep om die dinge van God, die hemelse dinge, die dinge daarbo te bedink. Kol. 3:1-4 verduidelik dit baie mooi: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.”

Let op die vooropstelling van Christus, nie minder nie as vier keer in hierdie perikoop nie! As ons verstaan dat die derdedimensiegelowige nie net in Jesus opgestaan het uit die dood (die poort tussen eerste en tweede dimensie) nie, maar ook in Christus opgestaan het uit die dood (die poort tussen tweede en derde dimensie), sal ons meer begryp van die verborge lewe wat Hy deur elkeen in die Bruid uniek gestalte gee. Dáárdie Christuslewe moet openbaar gemaak word (“unveil” word). Jy moet dit kan “sien” voor jy kan ingaan (Joh. 3:3 & 5), maar die meeste gelowiges kan nie ingaan nie, “omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie” (Matt. 13:13). As jy nié verligte oë van die verstand het nie, sal jy gefokus bly op aardse gebeurlikhede, en God se groter plan nie raaksien nie. En dan noodwendig alarmisties en vreesagtig wees oor al die wêreldgebeure: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms (“parousia”) van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit …”

Een van die belangrikste implikasies daarvan as gelowiges reikhalsend na die sogenaamde wederkoms uitsien en hulle voorbereiding vir die versinde gebeure wat volgens hulle nog moet plaasvind voor dan, is dat hulle toekomsgefokusheid hul nie vandag laat leef as die dag van sy verskyning, “vandag as julle sy stem hoor” (Heb. 3:7), nie. Jesus was baie beslis hieroor: “Kwel julle dus nie oor môre nie …” (Matt. 6:34). “The LORD’S mercies … are new every morning” (Klaagl. 3:22-23). Ons moet mekaar hieroor vermaan “so lank as dit vandag genoem word” (Heb. 3:13), anders wag ek en jy tevergeefs vir die volvoering van ‘n roeping. Roeping kry gestalte soos wat jy vandag gehoorsaam is aan die stem van die Here. In die Skrif word dit voorgehou as die simboliese “sewende dag”, die dag van die Sabbatsrus van God, die dag van rus waarin AL DIE WERKE VOLBRING IS, maar dit is onteenseglik nét vandag. Jou roeping kan nét vandag volbring word.

Hierdie waarheid sal nie net geweldige implikasies hê vir die ontvouing van jou roeping nie – dit het ook radikale implikasies vir jou eskatologiese siening. (Gaan lees weer Manna Dag 1055.)

Dus – kom weg van diegene wat jou laat voed op preke, boodskappe, artikels, geheime verslae, openbaringe, bekendmakings van die gevaarlike toestande wat die wêreld bedreig, politieke onstuimighede, menslike intriges, krisisse van epedemiese proporsies, ekonomiese insinkings en die val van geldstelsels, samesweringsteorieë, uitwysings van antichriste, veral as dit te doen het met Israel en die Verenigde Nasies, politieke leiers en die pous, enige bespiegelinge oor die merk van die bees, gedwonge implantasies en gevolglike beheer en breinspoeling, die stand van planete en sterkonstellasies, aardbewings, aardverwarming, fratsgolwe, die toename van oorloë of aardbewings, boewery en georganiseerde misdaad, groeiende dwelmgebruik, die wegraping, die groot verdrukking, die skrikwekkende toename van terreur, die bedreiging wat Moslems inhou, en geheime Joodse organisasies, en Sataniste (veral die wat by Centurion se waterorrel byeenkom, as dit nog enigsins bestaan), geestelike sensasiesoekers wat voed op die dooier van vrees, geestelik gemaskerde mense wat as eindtydpredikers ‘n goeie lewe maak uit profetiese twak, wat menige gelowiges beheks.

Hierdie sterk laaste woord is Paulus s’n, nie myne nie – “You poor and silly and thoughtless and unreflecting and senseless Galatians! Who has fascinated or bewitched or cast a spell over you …?” (Gal. 3:1, Amp). Jy ken die boom aan sy vrugte – they spread a negative report!  Job (24:13) sê: “Sulke mense behoort by die vyande van die lig: hulle ken nie die weë daarvan nie en bly nie op die paaie daarvan nie.” Elders stel Paulus dit ook sterk: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.” (1Tim. 6:3-5).

Laat elke ware seun van God wat wedergebore is uit die lewende hoop (1 Pet. 1:3) net hierdie vrae antwoord – is daar in enige van bogenoemde lysie hierbo enige LEWE? Laat die bestudering daarvan jou meer groei in jou identiteit in Christus, en in jou intimiteit met God? Help dit jou om die dinge daarbo te bedink? Beklee dit jou met Christus? Bring dit bevryding en waarheid in jou lewe tot stand? Verander dit jou na die beeld van God? Vul dit jou met Goddelike wysheid, geestelike insig en verstand, geregtigheid, vrede en vreugde in die Heilige Gees? Voeg dit ‘n aks by jou volle grootte in Christus, jou outoriteit? Weef dit jou mantel? Is dit waar, maar nie noodwendig die Waarheid nie? Jes. 52:2  – “Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!

  • Sela: Wat op hierdie lysie hierbo glo jy nog? Hanteer dit!
  • Lees: 7-12
  • Memoriseer: 7:28
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Vals Konstrukte – Leef jy in ‘n Geestelike

Illusiewêreld?