“Bedink die dinge wat daarbo is …”
(Kol. 3:2, AOV)
In die vorige Manna is die Skrif uit Kol. 3:2 onder andere voorgehou, en dit is belangrik dat ons net ‘n wyle stilstaan by hoe om hierdie Skrif te verpraktiseer: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.”
In ‘n tyd toe dit met my baie sleg gegaan het, “op allerhande maniere verdruk; van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge” (2 Kor. 7:5), het God my deurgaans en aanhoudend, tot my groot frustrasie, nét één ding gesê: Bedink die dinge wat daarbo is. Vir maande het ek bedink en ondersoek wat dit mag beteken, want ek het nie geweet hoe om dit te bedink wat bo is nie! Wat presies is bo? En hoe bedink ek dit?
Jesus het ook met sy dissipels gepraat oor iets soortgelyk, wat vir hulle ewe moeilik was om te verstaan: “Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.” (Joh 14:2b-4).
Dit moes vir die dissipels baie verwarrend gewees het toe Jesus dít sê, want kort vantevore in dieselfde gesprek het Hy dit uitgespel: “Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie—so sê Ek nou ook vir julle.” (Joh. 13:33).
Ons weet duidelik Jesus het ‘n tydjie na sy dood opgevaar (Joh. 3:13; 20:17; Hand. 2:34; Ef. 4:8-10), maar soos ongelowige Thomas, die dissipel, is daar by mý ook groot onsekerheid as Jesus met soveel stelligheid beweer ek ken die weg na bo? Niemand het al opgevaar nie, weet ons uit Joh. 3:13 – “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.” Ken ons dus die weg? Nee, bepaald nie ek nie, ook nie Thomas nie – “Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” (Joh 14:5).
Hierdie geheimenis het groot verwarring in die Christelike denke deur die eeue veroorsaak, veral omdat teoloë nie die hele Joh. 14 verreken in die eksegese van hierdie saak nie. Jesus gee die volgende toeligting oor die misterieuse plek wat Hy gaan voorberei: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (verse 2 en 3). Maar verder aan in die gedeelte, in vers 23, maak Hy hierdie belofte: “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” Hierdie geestelike plek wat Jesus gegaan het om voor te berei, is nie ‘n huis in die hemel nie, weet ons darem nou al. Dit is duidelik eerder ‘n metaforiese ruimte in HOM! Onteenseglik sou Jesus opvaar en IN DIE GEESREALM ‘n plek of ruimte tot stand bring. Die woordjie “plek” is topos in Grieks, wat volgens Strong ook noodwendig metafories gebruik kan word, nie net fisies nie, soos byvoorbeeld in ‘n sin soos: jy het ‘n plek in my hart.
Salomo het al die geheimenis van hierdie weg waarna Jesus verwys, uitgespel, as hy in Spr. 15:24 sê: “The way of life is above to the wise …” (Spr. 15:24, KJV). In Fil. 3:14 (AMP) verklaar Paulus: “Christ Jesus is calling us upwards …” Dit maak ons “partakers of the heavenly calling” (Heb. 3:1, KJV); dis eweneens die “hoë roeping” waarvan Paulus in Fil. 3:14 praat.
Dit is daarom nie vreemd dat “the way of life” (wat gelyk gestel moet word aan Jesus – Joh 10:10 en 14:6) na bo is nie. 1 Kor. 1:30 spel dit mooi uit: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus …” Dink asseblief hieroor na – dit wys ook op die duidelike onderskeid wat getref moet word tussen Jesus Christus (die Seun van God, die Weg na bo), en Christus Jesus (die korporatiewe Liggaam van Christus onder die Hoofskap van Jesus). Maar deur Hom, Jesus Christus, is die Bruid in Christus Jesus! Jesus bevestig ons saam met die res van die Bruid in Christus, sê 2 Kor. 1:21. Murdoch se vertaling van hierdie vers stel dit raak: “Now it is God who establisheth us, with you, in the Messiah, and hath anointed us …”
Die soldatebruid sing nie: Voorwaarts Mars! nie, maar Opwaarts mars! Dis opwaarts, maar eindig nie in die hemel nie! Soos met Jakob by Bet-el (Gen. 28:12), is die bo-end van die leer in die hemel én die voetenent van die leer is ook in die hemel, al is dit op die aarde! Letterlik: soos in die hemele, so ook op die aarde (Mark. 6:10).
Die plek wat Jesus voorberei het, hierdie ‘ruimte’, is onteenseglik ‘n ruimte in Christus. Hierdie uitdrukking kom nie minder nie as 89 keer in die Nuwe Testament voor. As Paulus in Ef. 1:3 dan die gelykstelling maak: “in die hemele in Christus”, begin dit al duideliker word wat bedoel word met “die dinge wat daarbo is”. Net ‘n hoofstuk verder, in Ef. 2:6, word uitgespel dat die wedergebore gelowiges is “saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus”. MAAR hulle leef, beweeg en is nog steeds op die aarde! Dit is wat Petrus verduidelik in Hand. 2:30, waar hy hierdie skrikwekkende waarheid gee: God het ‘n belofte aan Dawid gegee, dat “wat die vlees betref, (hy) die Christus sou verwek om op sy troon te sit”. Ons weet vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërwe nie (1 Kor. 15:50), dus is daar ‘n geestelike troon waarop die Bruid sit in die hemele, daar bo, in Christus, terwyl hulle op aarde is!
Terug na die frase: Bedink die dinge wat daarbo is. Die sleutel tot die begrip hiervan, lê in Kol. 3:1 – “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.” Let mooi op – “die dinge daarbo” = “waar Christus is”! Dus – bo is die plek waar Christus is! Die daaropvolgende twee verse spel duidelik die implikasies daarvan uit: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” (Kol. 3:2-3).
[Met die doop in water, die poort tussen die eerste en die tweede dimensie, sterf die gelowige, maar staan dan op uit die dood in Jesus. Kol 2:12 sê dit duidelik: “omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het”. Daarom dat Tit. 3:5 daarvan praat dat ons gered is “deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees”. Die wortelwoordjie vir “bad” in Grieks is louō, wat volgens Strong beteken: “to bathe (the whole person …)”. Daarna volg die doping met die Gees van God, deur handoplegging (Hand. 8:17-18; 9:17; 19:6). Met die doping in Christus, die poort tussen die tweede en die derde dimensie, sterf die gelowiges in Christus, en staan op uit die dood in Christus, soos Heb. 10:20 dit stel: “die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees” (= sy Liggaam). Die ERV vertaal dit mooi as volg: “We enter through a new way that Jesus opened for us. It is a living way that leads through the curtain–Christ’s body.” Die GW-vertaling stel dit só: “The curtain is his own body.” So ook byvoorbeeld die NIV: “the curtain, that is, his body”. Let op – die eerste poort is sterwe en opstanding in Jesus, die tweede poort is sterwe en opstanding in Christus.]
Rom. 6:3-5 spel dit uit: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding …” Dit is deur hierdie proses dat ons verborge lewe IN CHRISTUS geopenbaar word: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” (Kol. 3:4). Dít is wanneer jy jouself IN CHRISTUS BEVIND.
Hoe bedink ek dan die dinge wat daarbo is? Ons moet dit wat “in die hemele in Christus” (Ef. 1:3) is, bedink. Benewens die feit dat ons Hom, die Hoof moet bedink, onthou wat Kol. 3:3 sê: ons “lewe is saam met Christus verborge in God”, moet ons dus ook die Christus, of dan die Liggaam, die rhema-woorde, bedink. Die doping in Christus het dit vir ons moontlik gemaak om die rhema-woorde saam met ons te dra, dit is “naby jou”, “in jou mond en in jou hart” (Rom. 10:8). Ons moet derhalwe “elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:5).
As ek en jy verstaan dat ons “geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus” (1 Kor. 1:9), én vir “gemeenskap met die liggaam van Christus” (1 Kor. 10:16), word sódoende beslag gegee aan die ewige lewe (Joh. 17:3), sodat ons “die ewige lewe as iets blywends” (1 Joh. 3:15) IN ONS kan hê, “sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus” (1 Joh. 1:3) – “dan het ons gemeenskap met mekaar” (vers 7)! Immers – “ons almal saam (is) een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar” (Rom. 12:5). Dis ‘n mondvol, maar bedink dit, asseblief! Op hierdie wyse word jy met Christus beklee (Gal. 3:27).
In die baie belangrike lering van Dag 1130-1133 is hierdie konsep van “een Liggaam” of dan een Brood, wat uit verskeie brokkies brood (= Manna) bestaan, verduidelik. Vanaf Joh. 6:32 begin Jesus in beeldryke detail vir hulle te verduidelik dat Hy Jesus, die Brood van die Lewe is, noem dit die “hele brood”, die Volheid, die Logos, die Total Utterance. Maar Hy begin hulle al sensitiseer en leer dat Hy ook terselfdertyd, as die ander kant van dieselfde munt, die Christus is, en bestaan uit ‘n menigvuldige ander stukkies manna, brokkies van die totale Brood, die rhema-woorde, the small utterances making up the Total Utterance! In die lig daarvan is dit nou ook duidelik dat die liggame van die individuele gelowiges ook een eteriese geestelike liggaam vorm. Paulus hou in 1 Kor. 10:16-17 “die liggaam van Christus” voor as “een brood”, en spel hy uit: “ons (is) almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood”. Hy praat nie soseer van die enkele koringbrood wat vir die nagmaal gebruik word nie, maar van die ge-fuse-de eenheid van die verskeie fisiese liggame IN ‘N NUWE SUBSTANS of vorm.
As ons van mekaar eet, soos wat die nagmaal simbolies voorhou met die eet van die brood (1 Kor. 11:24), dan is die brokkies brood/manna bloot heenwysend na die realiteite van die Christus-identiteite wat ons verinnerlik. Ons kan dit net doen deur die woorde in Christus te bedink!
Paulus noem hierdie geheimenis in Ef. 3:8 “die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus”, en in die volgende drie verse verklaar hy wat dit presies inhou: om “vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, sodat nou deur die gemeente (= ekklesia) aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid (= Christus – 1 Kor. 1:24) van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het (“which He purposed” – ASV) in Christus Jesus, onse Here”. Sodoende kan Christus IN my leef (Gal. 2:20). En soos ‘n mens dink, so is hy (Spr. 23:7).
Dus – “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader, omdat ons weet van julle verkiesing, broeders wat deur God bemin word.” (1 Thes. 1:2-4). Begin “onophoudelik nag en dag” die rhema-woorde van Christus bedink, as jy jouself herinner aan die ongeveinsde geloof wat in hulle is (2 Tim. 1:3-5). Onthou Joh. 15:7 – “As julle in My bly en my (rhema-)woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”
- Sela: Begin om rhema-woorde te bedink.
- Lees: 13-21
- Memoriseer: 13:35
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Ontsaglike krag van Rhema-woorde in
gemeenskap