Dag 156

“Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen julle bande waarmee julle die siele vang soos voëls …” (Eseg 13:20, OAV)

 

Ons het gister begin gesels oor die misleidings wat in die voorhof, daar “tussen die voorportaal en die altaar” (Eseg 8:16), voorkom. Niksvermoedende gelowiges word soms dáár aan vals horings en geestelike altare gebind deur mense wat hulle in die war wil bring “en die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal 1:7).

As 1 Jo 2:18 uitspel: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste …” is dit belangrik om te besef dat die voorvoegsel anti- nie dui op iets wat teen Christus is nie, maar iets wat in die plek van Christus is. Die antichris gee voor dat hy die Christus is (2 Thes 2:4). As iemand dus na die voorportaal van die geloof kom, is dit moontlik dat hy verlei kan word deur “verleidende geeste en leringe van duiwels” (1 Tim 4:1) om “’n ander evangelie” (2 Kor 11:4; Gal 1:6) te aanvaar en op grond daarvan derhalwe ‘n verkeerde altaar bedien. In hierdie Skrif gaan Paulus so ver as om te sê dat iemand “’n ander Jesus” verkondig.

In die Ou Testament word hierdie gevaarlike situasie mooi geïllustreer in Eseg 8. God neem die profeet en wys hom hoe “sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel” (vers 11), met ander woorde die geestelike leiers van die volk (Num 11:16; Luk 10:1), offers bring, maar “aan ‘n onbekende god” (Hand 17:23). “Then said he unto me, Son of man, hast thou seen what the elders of the house of Israel do in the dark, every man in his chambers of imagery?” (Eseg 8:12, ESV). In vers 16 bring Hy hom na die binneste voorhof van die huis van die HERE; en kyk, by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf en twintig man, met hulle rug na die tempel van die HERE en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste.” (In die volgende lering sal ons bietjie meer stilstaan by die spesifieke betekenis hiervan, maar dit dui ook op die wyer vals aanbidding wat in die kerk voorkom.) Die punt wat ons duidelik wil maak: “daar (is) onder julle valse leraars … wat verderflike ketterye heimlik sal invoer” (2 Pet 2:1).

 

  • Sela: Vra die Heilige Gees om sy lig te werp op jou insiële instap in die Koninkryk.
  • Lees: 2 Sam 9; Spr 13; Heb 7
  • Memoriseer: Heb 7:9-10
  • Vir dieper delf: Lees Henk Hanegraaf se boek: Christianity in crisis, maar vra vir onderskeiding terwyl jy dit doen en bid teen ‘n gees van kritiek.