“… die mag van sy Christus …”
(Op. 12:10a, AOV)
Ons getroue Mannalesers sal miskien al die leeu se kloutjie by die lam se oor bring oor waarom ek die afgelope klompie aflewerings so uitvoerig oor die krag van rhemawoorde in gemeenskap geskryf het. Uiteraard was dit ‘n voorbereiding vir die oorhoofse subtema waarmee ons tans besig is, en waarvan die prentjie op die mashoof duidelik nog steeds in hierdie tyd die beeld is wat koning Nebukadnésar in ‘n droom gesien het, en wat die profeet Daniël verklaar het met die oog op “wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar” (Gen. 49:1).
Vanaf Manna Dag 1541 is daar uitvoerig geskryf oor die verklarings van hierdie belangrike droom deur die verloop van die geskiedenis. Daar is oor die vyf opeenvolgende wêreldse koninkryke geskryf wat deur die droombeeld van Nebukadnésar voorgestel is. Die laaste koninkryk wat dit verbeeld, is die “voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei” (Dan. 2:33).
Die vyfde koninkryk, ‘n onverenigde “verenigde nasies”, sou volgens die profeet se uitleg steeds gedeeltelik die wesensaard van Rome se ysterharde onverbiddelikheid behou, maar sou vermeng raak met ‘n totaal ander substans: bros kleigrond. Die beeldsimbool se voete word derhalwe voorgehou as yster gemeng met klei, en Dan. 2:41 spel uit “dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees”. Vers 42 noem “’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ‘n gedeelte sal bros wees”. In die vorige Mannas is uitgewys dat hierdie verdeelde koninkryk van tien groeperinge oorkoepelend as Europa bekend staan. Die simboliek van die yster en die klei dui op ‘n vermenging van burgelike mag en Christelike heerskappy. Deur die beeld wat koning Nebukadnésar gesien het, het God reeds vir ons uitgespel hoe Hy die Christelike geloof gaan grondves binne burgerlike heerskappy, maar dit sou helaas nie suiwer wees nie, maar gekontamineer en vermeng.
Die laaste aardse koninkryk – waarvan ons tans histories gesproke deel is – is ook ‘n aardse koninkryk wat erg verdeeld is, maar waar daar die intense strewe is om dit onder een wêreldse hoof/organisasie/regering te verenig. MAAR minder nog as met die vorige vier koninkryke is dit absoluut onmoontlik om hierdie koninkryk te verenig, want yster en klei kan per definisie nie mekaar aankleef nie! Volgens hierdie profesie KAN daar nie ‘n eenwêreldregering wees nie!
Vanaf Manna Dag 1553 is die uitnemender weg aangetoon oor hoe “die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword (het), en die mag van sy Christus” (Op. 12:10a), en hoe dit eventueel die kennis van die evangelie van Christus oor die ganse aarde gaan vermeerder. Dit is onteenseglik duidelik dat hierdie heerlike proses setel in die geheime krag van die rhemawoorde van Christus en hulle gemeenskap met mekaar! Die sesde koninkryk wat koning Nebukadnésar gesien het, verklaar hierdie nuwe bedeling.
- Sela: Probeer peil wat hierdie sesde koninkryk gaan wees.
- Lees: 7-9
- Memoriseer: 7:6
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Jý is ‘n Wonderteken van die Heerlikheid
van God aan die Einde van die Tye