Dag 1563

 

“… net so ook op die aarde …”

 (Matt. 6:10, AOV)

‘n Kenmerk van hierdie vyfde koninkryk waarin ons ons tans bevind, volgens Dan. 2:43 (KJV), is dat die yster en die klei “shall mingle themselves with the seed of men”. Albei groeperinge, die burgerlike én die geestelike, die erfenis van die ysterharde Romeinse reg én die sagte klei van die Christelike beskawing, sal geïnfekteer word deur die saad van mense, en hulself daardeur besoedel. Die evangelie word dus tot onbruikbaarheid vermeng met “vleeslike wysheid” (2 Kor. 1:12) – menslike gedagtes, filosofieë en oorleweringe. Daarom dat Paulus in 1 Kor. 2:13 pertinent die onderskeid tref: “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.”

Maak dit dus nou vir tyd en ewigheid vas – die hoofrede waarom God sy Seun aarde toe gestuur het, was om Sy koninkryk OP AARDE te vestig. Sy oorkoepelende doel en bloudrukplan is dat Sy koninkryk al die koninkryke van die wêreld tot niet sal maak en dat die ganse wêreld “die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God (sal) word, en die mag van sy Christus” (Op. 12:10). Waar sal Sy volmaakte wil geskied? Eenvoudig: “soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10). Laat geen ander saad van menslike teorie en persepsie meer in jou denkraamwerk toe nie.

Ons het die begrippe koninkryk van God en koninkryk van die hemele vroeër redelik uitvoerig behandel (kyk Manna Dag 1533-1543). Daarmee hoop ons dat Mannalesers al deeglik die vermengde vleeslike manier van dink en beredenasie oor die koninkryk van God te bowe gekom het. Daar is soveel vals idees, interpretasies, visioene, belewinge en ervaringe wat gelowiges gebruik om ‘n koninkryk te bedink en te konstitueer, maar dit korrespondeer glad nie met wat die Skrifte daaroor te sê het nie. Die hoofrede hiervoor is dat Jesus dit self, in sy verduideliking van wat die koninkryk van God is, deurgaans aan die hand van gelykenisse gedoen het. En omdat hierdie verhale oop tekste is wat dikwels nie simbolies een-eenduidig verklaar kan word nie, dui dit ontsettend baie fasette aan van wat en waar die koninkryk van God is, hoe dit funksioneer en wat ons moet doen om die koninkryk te sien en daarbinne te gaan. Helaas is baie van hierdie versinsels gebaseer op menslike ervarings of idees, of sogenaamde mistieke belewinge. Dit mislei baie mense wat weliswaar ‘n dieper soeke het na God en sy koninkryk, en hulle word deur verleidende geeste afvallig gemaak (1 Tim. 4:1).

Kortweg gestel – die koninkryk van God is die heerskappy van God – ‘n koninkryk word deur ‘n koning regeer. Jesus het verduidelik dat die openbaring van die heerskappy van God in die harte en lewens van gelowiges gestalte vind, in en deur mense, oor die ganse aarde en oor die ganse heelal. Hy moet allereers regeer in ons lewens. Die Koninkryk van God is God in Christus wat die totale skepping van God regeer; dit is “nuwe hemele en ‘n nuwe aarde” (2 Pet. 3:13), oftewel: ‘n nuwe geestelike orde en ‘n nuwe menslike spesie op aarde, vol heerlikheid, waarin die volheid van God woon.

Sela: Is jy reeds deel van daardie nuwe spesie?

  • Lees: 13-15
  • Memoriseer: 15:7
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde waarin

geregtigheid woon is … Jý