Dag 1564-1566

 

“die koninkryk van Christus”

 (Ef. 5:5, AOV)

Die vorige Manna is afgesluit met die volgende samevatting van wat ons kan verwag van die sesde koninkryk wat besig is om gestalte te kry, naamlik die koninkryk van Christus. Jesus het verduidelik dat die openbaring van die heerskappy van God in die harte en lewens van gelowiges gestalte vind, en deur mense, oor die ganse aarde en oor die ganse heelal. Hy moet egter allereers in ons lewens regeer. Die koninkryk van God is God in Christus wat die totale skepping van God regeer; dit is “nuwe hemele en ‘n nuwe aarde” (2 Pet. 3:13), oftewel: ‘n nuwe geestelike orde en ‘n nuwe menslike spesie op aarde, vol heerlikheid, waarin die volheid van God woon.

Die volgende twee verse van Daniël 2 skets die sesde koninkryk in Nebukadnésar se droom: “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.” (verse 34-35).

In verse 44 en 45 word Daniël se verklaring van hierdie sesde koninkryk gebied: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”

Miskien sal dit gepas wees om net enkele kommentare te maak oor sekere van die frases in die vier verse hierbo:

  • “sonder toedoen van mensehande” – Hierdie was duidelik ‘n suiwer Goddelike aksie. Sommige vertalings, soos byvoorbeeld die CEV, voeg in: “a stone was cut out of a mountain without hands”, maar dit is ‘n invoeging, nie deel van die oorspronklike teks nie. Die Aramese woord wat hier gebruik word, kan ook as “decree (by) set apart ones” (Perry Stone: Opening the Gates of Heaven: Walk in the Favor of Answered Prayer, p. 175) voorgehou word. Wat hier bonatuurlik gebeur, is onteenseglik ‘n koninkryk wat deur God in verbond met ‘n oorblyfsel gestalte kry.
  • “‘n klip losraak” – die woordjie vir “klip” hier is ‘eben, wat ook as rots vertaal kan word, soos byvoorbeeld die NIV, die NLT en die NLV Strong verklaar die Griekse ekwivalent, wat volgens die ABP lithos (= klip, nie rots nie) is, tóg as “metaphorically of Christ”. Simbolies en tipologies gesproke dui hierdie Rots op Christus (Matt. 16:16 & 18; Rom. 9:33; 1 Kor. 10:4). Interessant genoeg noem Samuel vir die Here in 2 Sam. 22:2-3 “my rots en my bergvesting en my redder; God is my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my verlosser …”. Kyk hoe die woordjies “rots” en “berg” hier herhaal word. ‘n Opening in ‘n rots wat uit ‘n groter rots gesny/gebeitel/gevorm is, gee aanleiding tot baie belangrike geestelike simboliek in die hele Ou Testament (Eks. 33:22; Hoogl. 2:14; Jes. 2:10 & 21), en dit pas netjies in die Nuwe Testament se beeld van Christus wat uit Jesus se wese gestalte kry, en uit die hoogte (geestelike realm) na die aarde neerdaal. Dit is presies wat die Nuwe Jerusalem of Bruid doen, volgens Op. 21:2 – “En ek … het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” Die Rots wat dus neerdaal na die aarde toe, is die Christus, en dit is derhalwe “die koninkryk van Christus” (Ef. 5:5) wat alle ander koninkryke tot niet sal maak.
  • “wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het” – Dit is belangrik om te sien dat die sesde koninkryk die vyfde koninkryk, ons huidige epog, tref. In ‘n sin is hierdie vyfde koninkryk ‘n kulminasie van al die vorige koninkryke wat van die begin af ontwikkel het, en is dit tans die heersende koninkryk op aarde. Dit is hierdie koninkryk van Christus wat die huidige koninkryk met geweld in besit neem (Matt. 11:12). Duidelik is dit nie net een groot kataklismiese trefslag waar dit ‘n oorname van die huidige koninkryk is nie, nee – soos al die ander oorgange van een koninkryk na ‘n ander is dit ‘n stelselmatige proses waarin die heerskappy vermeerder (Jes. 9:7).
  • “Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp” – Die woordjie “tegelykertyd” is ‘n ongelukkige keuse in die Afrikaans, soos ook byvoorbeeld met die ABP (“at once”). Dit moet eerder vertaal word met “were broken and crushed together”. The Complete WordStudy Dictionary praat tereg van hierdie aksie as nié eenmalig nie, maar as ‘n opeenvolging van “x times”. Let dan op dat die oorblyfsels van al hierdie vorige koninkryke saam tot niks gemaak word deur die koninkryk van Christus.
  • “sodat daar geen spoor van gevind is nie” – Anders as die vyfde koninkryk, waar daar duidelike vermenging is van Christelike beginsels, oorlewering en orde met paganistiese wêreldsisteme, maak die Woord dit duidelik dat daar niks van hierdie voorafgaande koninkryke in die koninkryk van Christus sal oorbly nie. Ons sal dus baie min van wat ons vandag ken in hierdie Teokratiese (Theos = God) koninkryk sien. Baie van die wette en wetmatighede wat ons leer ken het in die koninkryk van God sal egter steeds werksaam wees, maar sonder die vermenging waarmee ons huidige leefwêreld dit Dit sal ‘n kragtige lewenskrag wees wat soos ‘n tsunami van heerlikheid, vol genade en waarheid, die aarde oorspoel. ‘n Mooi beeld om dit mee te vergelyk, is te vind in Spr. 30:19, waar Salomo die dinge wat vir hom te wonderbaar is, opnoem, onder andere dan: “die weg van ‘n slang oor ‘n rots”. Net soos daar ná ‘n slang oor ‘n rots geseil het, geen spoor te siene is nie, sal daar in die koninkryk van die Rots geen spoor van “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Op. 12:10) meer gesien word nie! Die rede hiervoor is dat “Hy … genoem (word): Wonderbaar” (Jes. 9:6; Rigt. 13:18).
  • “die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het”- die oorspronklike klip (Jesus) word ‘n Rots (die Christus), en die kennis van hierdie evangelie van heerlikheid/Christus sal eventueel die totale aarde vul (Hab. 2:14).
  • “in die dae van dié konings” – Dit is belangrik dat die akuutteken op dié raakgesien word; in Engels word dit meestal vertaal as “these kings” (KJV) [liefs nie “those kings”, soos byvoorbeeld die ASV dit voorhou nie], verwysende na die konings van die vyfde koninkryk. Met ons wyer verstaan van “konings” is dit byvoorbeeld nie net monarge, koningshuise, staatshoofde, en so meer nie, maar ook spreekwoordelike konings van die markplein, die politieke leiers, die magnate en sosiale meningsvormers, en almal wat invloed het en mag uitoefen oor ander mense. Synde dat hierdie vyfde koninkryk ook uit Christelike leiers bestaan, en dat hulle ‘n enorme invloed uitoefen op die besluite wat wêreldwyd geneem word, word hulle ook as konings in hierdie bedeling getakseer. Dit is dan belangrik om in te sien dat al hierdie konings, SONDER DAT HULLE DIT WEET OF DOELBEWUS BEPLAN, hulself opstel téénoor die Christus: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde.” (Ps. 2:2).
  • “die God van die hemel” – Hierdie frase kom 22 keer in die Ou en die Nuwe Testament voor. Ons moet onthou dat die woordjie hemel nooit as enkelvoud in die ganse Bybel gebruik word nie, maar altyd in die meervoud: die hemele – dit verseker grootliks dat ons nie die hemel as ‘n plek sien daar bo nie. In ‘n Skrif soos Gen. 24:3 word “die God van die hemele” byvoorbeeld saam gebruik met die frase “die God van die aarde”, en dit is ‘n belangrike gelykstelling, alhoewel dit tog wel ‘n onderskeid tref. Ons sou dit ook kon noem: die God van die fisiese realiteit en die God van die geestelike realiteit. Die feit dat “die God van die hemele” hier spesifiek uitgehef word, stel voorop dat die aksie om die koninkryk van Christus te vestig uit die geestelike realm (= die hemele) geskied, nie uit aardse inisiatiewe nie. Op die aarde word eventueel aan ‘n ewige koninkryk gestalte gegee. Dan. 7:27 stel dit pragtig: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.” Let mooi op – die koninkryk van God of die koninkryk van die hemele word nou “hulle koninkryk”, of dan – die koninkryk van Christus (Ef. 5:5)!
  • “die heerskappy van (die koninkryk van Christus) sal aan geen ander volk oorgelaat word nie” – Hierdie sesde, en laaste, ewige koninkryk word beheer deur “die volk van die heiliges van die Allerhoogste” (Dan. 7:27). In 1 Pet. 2:9-10 word presies verduidelik wie hierdie volk is: “julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is”. Aan hulle wat uiteindelik sal oorwin, belowe Op. 2:26-27 “sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf”. God gee aan sy Seun, maar veral aan sy Gesalfde, dit wil sê die gesalfde Hoof én die gesalfde Liggaam, die Christus, nasies as erfdeel en die eindes van die aarde as besitting (Ps. 2:8). Dit is soos Jes. 60:3 profeteer: “En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.” Ps. 72:11 vat dit in ‘n neutedop saam: “Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien.”
  • “(die koninkryk van Christus) sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak” – Dit is baie moeilik om onsself in te dink aan ‘n nuwewêreldsisteem wat totaal los is van die oorleweringe van al die koninkryke en spesifieke heerskappye wat dit voorafgegaan het. Alles wat ons in ons huidige samelewing ken, het uit een van die voorafgaande koninkryke gestalte gekry, alles. Hierdie Skrif spel dit uit dat alles wat in en deur hierdie koninkryke tot stand gekom het en die bakermat van ons denk- en leefwêreld vorm, verbrysel sal word “en daar ‘n einde aan maak” (“it shall … consume all these kingdoms” – ACV).

Uit die eksegeses en verbandleggings hierbo is dit veel duideliker oor presies hoe die kennis van die evangelie van Christus oor die aarde gaan vermeerder en versprei. Om dit nog beter te verstaan, kyk ons in die volgende Manna spesifiek na die volgende baie opwindende vooruitskouing wat Op. 14:6 ons bied: “En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.”

  • Sela: Verstaan jy presies wat hierdie ewige evangelie is?
  • Lees: 16-21; Hand. 1-3
  • Memoriseer: 17:10 (kyk na die geweldige implikasies van hierdie vers!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: God se Geheime Wapen om al die Nasies te

bereik