Dag 1570

 

“Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar …”

 (1 Kor. 2:10, AOV)

Ons is tans besig om te ondersoek hoe die kennis van die evangelie van Christus gaan vermeerder en versprei, as deel van die sesde koninkryk van Christus wat besig is om op die aarde gestalte te kry. Spesifiek neem ons Op. 14:6 onder die loep: “En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.”

Dit is belangrik dat ons spesifiek let op die engel wat in die boek Openbaring in die eerste hoofstuk Jesus se engel (“sy engel”) genoem word, en in die laaste hoofstuk, waar Hy aan die woord is, “my engel” genoem word. Uiteraard is hierdie ‘n baie spesifieke engel of boodskapper, en duidelik nié ‘n gewone menslike boodskapper nie. Hier belangrik is dat hierdie engel, soos alles anders in die boek, op sigself óók ‘n simbool is (soos alles anders in die simboliese boek).

As Jesus in sy pre-inkarnasiestaat 56 keer in die Ou Testament “die Engel van die Here” genoem word (bv. in Gen. 16:7; Num. 22:25), die Boodskapper wat ook as “die Engel van die Verbond” (Mal. 3:1) bekend staan, is dit baie maklik om die Heilige Gees ook as ‘n Boodskapper of Engel te sien, want die Here Jesus IS ook die Gees (2 Kor. 3:18).

Die maklikste en duidelikste verduideliking van hierdie engel is te vinde in Op. 22:16 – “Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig.” Duidelik het die engel wat hier ter sprake is ‘n spesifieke opdrag of missie, naamlik om die openbaring van die Christus aan die gemeentes te bring. Die noodwendige vraag wat hierop volg, is natuurlik – Wie is die een wat Jesus gestuur het om die dinge rondom/oor/van Homself, die openbaring van Jesus die Christus, aan die wêreld bekend te maak? Die antwoord is eenvoudig, volgens Joh. 16:7 & 12-15: “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur … Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.”

Net voor hierdie gesprek, het Jesus in Joh. 15:26 die volgende gesê: “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.” Dit word mooi in reliëf gestel deur 1 Pet. 1:12 – “Aan hulle is geopenbaar … wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is.” Paulus vat dit raak saam in 1 Kor. 2:9-10 & 12: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Ons het … die Gees wat uit God is (ontvang), sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.”

  • Sela: Weet jy wie is die spesiale boodskapper van Jesus?
  • Lees: 13-15
  • Memoriseer: 15:8 (hierdie is die antwoord tot die vraag hierbo)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Wat die Heilige Gees in jou Doen, en wat

Hom in jou Blokkeer