Dag 1571

 

“… geopenbaar is deur die Gees …”

 (Ef. 3:5, AOV)

Uit die vorige Manna moet dit nou vir alle lesers duidelik wees – die Boodskapper of Engel van Jesus waarvan die boek Openbaring praat, is sonder vrees vir teenspraak die Heilige Gees. Hierdie misterie van die evangelie van Christus geskied deur die bemiddeling van die Heilige Gees: “dat Hy … deur ‘n openbaring bekend gemaak het … die verborgenheid van Christus …  wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees” (Ef. 3:5). Die boodskap van die ewige evangelie word primêr gebied deur die Boodskapper (of Aggelos) – Hy leer ons alle dinge aangaande Christus, die openbaring van Christus, die dinge wat kom en nog moet gebeur, en die grootse waarheid van Kol. 3:11 – “Christus is alles en in almal.”

Sommige mense mag dalk wonder dat as God se ewige doel, naamlik “om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Ef. 1:10), in Jesus neerslag gevind het, hoekom is iemand anders as Hý enigsins nodig om hierdie openbaring te vestig? Waarom was dit enigsins nodig om die Heilige Gees ná Jesus se opvaart na die aarde toe te stuur om die konsep van die Christus aan ons openbaar te maak? As Jesus in my bly (Joh. 15:4), en Sy koninkryk is binne-in my (Luk. 17:21), waarom stuur Jesus dan sy Boodskapper om te getuig oor die dinge aangaande Hom? Dit is bepaald ‘n ontsaglike misterie.

Die dissipels wat drie-en-‘n-half jaar saam met Jesus geloop en geleef het, het uit sy mond baie geleer, maar helaas min verstaan. Al het hulle hom gevolg en liefgehad, was die detail van God se plan en die gestaltegewing van God se koninkryk op aarde nie vir hulle duidelik nie. Hulle het as vissermanne nie die Skrifte geken soos die Joodse seuns verplig was om te doen nie, maar God het hulle by die naam gekies om deel te wees van die vestiging van sy ewige evangelie. Hulle het nie noodwendig ten volle begryp waarom Hy moes sterf nie, ook nie wat hulle moes doen ná Hy verdwyn het uit die grafkelder nie, asook wat die geweldige implikasies van sy opstanding uit die dood behels het nie. Die persoonlike kontak met die Meester was nie genoeg om hulle in stand te hou om die Weg te volg nie – hulle het soos Thomas nie eens geweet waar die Weg is nie: “Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” (Joh. 14:5). Al het hulle Hom liefgehad, was hulle verligte oë van die verstand (Ef. 1:18) nie geopen om te kon insien in die grootse, misterieuse voltrekkende plan waarvan hulle deel was nie. Matt. 13:13 was waar van hulle: “(dat) terwyl hulle sien, (hulle) nie sien nie, en terwyl hulle hoor, (hulle) nie hoor of verstaan nie”.

Eers nadat hulle met die Heilige Gees vervul is, kon hulle dieper verstaan en groter insig verkry. Die Boodskapper van Jesus, die Heilige Gees, kon nou aan hulle die verborgenhede begin verklaar en hulle herinner aan alles wat Hy vir hulle gesê het (Joh. 14:26). Vlees en bloed kon nie die openbaring van die Christus vir hulle bied nie (Matt. 16:17). So ook met Paulus, al was hy ‘n hoogsgeleerde man in die teologie van die Bybel, het hy absoluut niks van God se agenda verstaan nie, totdat die skille van sy oë geval het en hy met water en met die Heilige Gees gedoop is. Eers daarna het hy dadelik Christus in die sinagoges verkondig (Hand. 9:17-20).

  • Sela: Besef jy hoe allerbelangrik is wedergeboorte en dat jy met die Gees vervul moet word?
  • Lees: 16-18
  • Memoriseer: 17:3
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Waarmerk van Ware Wedergeboorte