Dag 1572

 

“… ons is almal van een Gees deurdronge …”

(1 Kor. 12:13, AOV)

 

Op Patmos het God die apostel Johannes gegun om (ook namens ons) die volvoering van die Dag van die Here te beleef, wanneer “Christus … alles en in almal” (Kol. 3:11) is.

Midde-in hierdie grootse ervaring sê Johannes: “En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.” (Op. 19:6). Let op – dit is ‘n “groot menigte”, “baie waters”, sterk donderslae”, alles in die meervoud, maar tog vorm dit net EEN stem. Dit is duidelik ‘n korporatiewe stem wat spreek as “een van siel, een van sin” (Fil. 2:2) – dit is onteenseglik die Christus wat nou spreek (2 Kor. 2:17)!

Dit is vir ons welbekende nuus dat die Heilige Gees as Boodskapper/Engel elke wedergebore gelowige bewoon; hulle liggame is sy tempel (1 Kor. 6:19). Wanneer van die korporatief van hierdie tempel gepraat word, word dit die Vader se huis (Joh. 14:2), God se gebou (1 Kor. 3:9), die nuwe Jerusalem (Op. 21:2), die tabernakel van God by die mense (Op. 21:3) genoem. Vanuit hierdie korporatiewe eenheid sal met een verenigde stem gespreek word, maar dit is nét moontlik as dié korporatiewe Liggaam één Gees het: “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam … ons is almal van een Gees deurdronge.” (1 Kor. 12:11-13).

As daar in Op. 22:8-9 oor hierdie engel se “voete” gepraat word voor wie Johannes neerval, kan die simboliese taal ons onkant vang, want dit lyk dan of hy as “mededienskneg” nie soseer die Heilige Gees kan wees nie, want ons stereotipiese idee van ‘n engel dwing die vergelyking tot inkongruensie. Maar voete, volgens The Complete Wordstudy Dictionary, beteken metonimies “the oriental mode of making supplication or of doing reverence and homage to a superior by prostrating oneself before him”. En die mededienskneg is bloot: “(a) ministrant of the same master” (Strong).

Die Stem van die korporatiewe Christus as boodskappers word deur die Gees as Boodskapper gerig. Duidelik is die engel van die boek Openbaring ‘n uiters geslaagde simbool van die lewende (rhema)woorde van God wat deur openbaringskennis bepaalde boodskappe bring! Daarom spel Ps. 104:4 (KJV) uit: “(God) maketh his angels spirits …” Die 1578-Geneva Bible van Martin Luther stel dit mooi as: “maketh his spirits his messengers”! ‘n Mens sou gemaklik die Engel in hierdie konteks kan voorhou as ‘n korporatief van rhema-woorde wat die boodskap van die Christus uitdra. Daarom praat Heb. 1:14 (KJV) van alle engele as “ministering spirits, sent forth to minister for them who shall be heirs of salvation”.  Ps. 103:20 spel dit eweneens uit: “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!” Ja, dit is “die Heilige Gees (wat) in elke stad kragtig getuig” (Hand. 20:23) – maar deur Sy Liggaam (1 Pet. 4:11). Dis dan glad nie vreemd nie dat Paulus in Gal. 4:14  sê: “julle het my ontvang as ‘n engel van God, ja, as Christus Jesus”!

  • Sela: Kan jy jouself bedink as “‘n engel van God, ja, as Christus Jesus”?
  • Lees: 19-21
  • Memoriseer: 20:23 (hoe mooi sinchroniseer dit!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: ‘n Weermag van Woorde