“Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by
die eindes van die wêreld hulle rhemawoorde.”
(Rom. 10:18, AOV)
Ons is tans besig om na te speur presies hoe die kennis van die evangelie van Christus gaan vermeerder en versprei, as deel van die sesde koninkryk van Christus wat besig is om op die aarde gestalte te kry. Op. 14:6 is die Skrif wat ons probeer uitpluis: “En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” Verskeie fasette van hierdie vers is al in die vorige Mannas ontgin en in wyer perspektief gestel.
Dit behoort nou duidelik te wees dat die Boodskapper van Jesus, die Heilige Gees, in en deur die Liggaam van Christus werk en spreek om die kennis van die evangelie van die heerlikheid op die aarde te vestig. Joh. 3:34 verduidelik dat hierdie Seun, Jesus, “wat God gestuur het, spreek die woorde van God”. Hierdie woordjie woorde is rhema, met ander woorde enersyds die tongval van die Een wat skep deur te spreek, maar ook dat Hy deur hierdie “smaller utterances” Christus-identiteite gestalte gee. In Manna Dag 1406-1408 is hierdie waarheid in groot diepte oopgeskryf, en het ons daar uitgewys die doelbewuste konstruksie van die poiēma, of dan: gedig, is DIE BRUID, die een wat “lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efes. 5:30) is, die individue wat deur Hom lewe ingeblaas is. Daardie “lede” of “asemteue” van Christus is elkeen ‘n uniek-eie, kunstig gemaakte (Ps. 139:15) woord in die groter gedig, wat Jesus is. Die volheid van Wie Jesus is, het Hy uitgedeel in ‘n menigvuldige hoeveelheid onvervangbare woorde wat elkeen iets van Hom, die Hoof, openbaar, en aan sy heerlike Vorm op die aarde gestalte gee.
As ons dan in Op. 14:6 lees van die Boodskapper wat in die hart/middel van die geestelike realm (= hemele) die ewige evangelie van Christus verkondig aan alle bewoners van die aarde, kán dit nét geskied deur die rhema-woorde – “Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld.” (Ps. 19:4). Paulus haal hierdie Psalm later aan wanneer hy in Rom. 10:14 begin verduidelik: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” ‘n Gestuurde met ‘n spesifieke boodskap is ‘n BOODSKAPPER of ENGEL! Die Bruid word ‘n mandaat gegee om met hierdie boodskap oor die aarde te beweeg. “Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die rhemawoord van God. Maar ek sê: Het hulle miskien nie gehoor nie? Ja, seker! Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle rhemawoorde.” (Rom. 10:15-18). En soos Jesus dit self uitgespel het in Joh. 8:47 – “Die wat uit God is, luister na die rhemawoorde van God.”
- Sela: Besef die ontsaglike krag wat vrygestel word deur hierdie nuwe skeppings van God!
- Lees: 22-24
- Memoriseer: 22:9 (wat kan jy uit hierdie vers by die lering hierbo toevoeg?)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Uitverkiesing: Jou woord verhul in Sy
Woord