Dag 1582-1584

 

“… ‘n blye boodskap … in die groot vergadering …”

 (Ps. 40:9, OAV)

Lank, lank gelede, voor daar lig op die aarde geskyn het, of enigiets tot stand gekom het, het God sy heerlike plan aangaande die skepping en die verlossing van Sy geesseuns, wat in Christus tóé reeds uitverkore was, bekend gemaak. Sy uitverkiesing van ons tot seunskap en sy bloudruk van die vervolmaking van alle dinge het lank voor die sondeval gebeur!

Elke rhema-identiteit in Christus is ‘n unieke skepping, een-van-‘n-soort woord wat uit die hart en mond van God na die aarde gestuur is met ‘n baie bepaalde doel. Jy is sonder enige teenprestasie van jou kant af vooraf uitgekies, totale guns gegee “in Hom”, soos Ef. 1:4 dit stel – “Hy (het) ons in Hom uitverkies … voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees”. Lánk voor jou geboorte is jy persoonlik gekies om “immeasurable and unlimited and surpassing greatness” (Ef. 1:19, AMP) van Hom te ontvang. Hierdie staat van uitverkiesing is die slotsom van die “ewige evangelie” (Op. 14:6) waaroor ons nou reeds lank uitvoerig skryf.

Een van die treffendste gelykenisse wat hieroor handel, is die baie bekende parabel in Luk. 15:11-32, oor die verlore seun. Lukas 15 is die ‘verlore en gevind’-hoofstuk in die Bybel – ons kry hier ‘n verlore skaap, ‘n verlore penning en ‘n verlore seun. In die laasgenoemde storie is daar eintlik twee verlorenes – een wat gebly het en een wat gegly het.

Die vader in die verhaal wys heen na “God, die Vader” (Joh. 6:27). Die ouer seun wat tuis gebly het, verteenwoordig die ou orde, “die Fariseërs en die skrifgeleerdes” (Luk. 15:2) wat aan oorlewering en tradisie vasgeklou het (Matt. 15:6), en nie kon glo dat God ‘n nuwe weg open nie, “die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het” (Heb. 10:20). Hy het gekies om binne die veilige koesterruimte van godsdiens te bly. Die jonger seun verteenwoordig hier die seun wat uitverkies en geroep is tot grootheid. Aanvanklik is hy rebels en eiesinnig, en kom tot ‘n val, en ONTHOU dan dat hy ‘n Vaderhuis het, en keer terug tot die huis, die tafel en die outoriteit van sy regmatige posisie. Ons kan saam met 1 Joh. 3:1 en al die verlore seuns uitroep: “Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons seuns van God genoem kan word!”

Luk. 15:20 noem vyf karakteristieke aksies van die Vaderhart van God wat ons as die verloopte, uitverkore seuns weer in ons plek terugkry: “En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.” (Later dalk meer hieroor.) Paulus verduidelik die frase toe hy nog ver was in Ef. 2:13 mooi as: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom …” Die vorige vers spel hierdie geestelike afstand of agterstand of toestand netjies uit: “(dat ons) in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld”.

In daardie veraf ‘tyd’ het God en sy Seun ‘n ewige verbond gesluit waarby ek en jy ook ingesluit was, maar sonder dat ons dit enigsins gekies het! Hierdie “ewige verbond” (Heb. 13:20) bewerk vir die uitverkorenes “’n ewige saligheid” (Heb. 5:9) en maak dit moontlik om ons “volmaak in elke goeie werk (te maak), om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus” (Heb. 13:21). Sela asseblief ‘n tydjie oor die geweldige implikasies hiervan. Die Message vertaal dit pragtig as “provide you with everything you need to please him, make us into what gives him most pleasure”. Dit wat jy in die voortyd uit God se vrye wil en keuse ontvang het, is die somtotaal van alles wat tans nodig is om Hom IN JOU volledig gestalte op aarde te gee. Dit is interessant dat hierdie woordjie sum, of die Afrikaanse somtotaal, se wortelwoord Hoof is. Jesus is die Hoof in wie alles reeds saamgevat is – Hy is die slotsom van alles. Kol. 1:19 (AMP) stel dit só: “it has pleased [the Father] that all the divine fullness (the sum total of the divine perfection, powers, and attributes) should dwell in Him permanently”. En hierdie volheid is rééds in Christus IN elkeen van die Bruid. Dit is van die uiterste belang dat ons derhalwe presies “weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Kor. 2:12), want daar is baie gelowiges wat as gevolg van totale onkunde dié genade van God helaas tevergeefs ontvang het (2 Kor. 6:1).

Voordat enige mens of uitverkorene ‘n voet op hierdie aarde gesit het, is daar ‘n ewige verbond gesny waarmee ons niks te doen gehad het nie, maar wat alles met ons te doen het! Jy is gepredestineer om ‘n enorme oes te ontvang waarvoor jy géén enkele saadjie gesaai het nie. Inderdaad, in die woorde van Jesus: “Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie.” (Joh. 4:38). Hy het ons oorvloedig geseën “met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld” (Ef. 1:3-4).

Hierdie ewige verbond tussen Vader en Seun word in teologiese terme soms interteïsties genoem (‘n begrip wat Arnold Farquharson in sy Strategic Planning from God’s Perspective – the Vision, p. 78 baie mooi beeldend verduidelik), met ander woorde, ‘n vaste ooreenkoms, verbintenis of verbond wat tussen twee van die Persone van die tradisionele Drie-eenheid geskied. (Dié siening is egter nie onproblematies nie, maar vir eers is dit ‘n term wat ‘n moeilike begrip verduidelik, al verwerp ons dit later.) Die teoloog Steven Everett verduidelik interteïsties soos volg: “Nevertheless the fulfillment of the Inter-theistic Covenant is based upon the integrity of God’s heart and His commitment to keep His own agreement … Jesus signed and secured the Inter-theistic Covenant and sealed it with His own blood; and then, He left it as His last will and testament, which gives it finality. Everyone knows that legally once the testator dies the will is unchangeable. The certainty of truth is that God will get exactly what He wants, with nothing lacking. And remember, truth is the original information conceived in the heart of God and spoken as the living, breathing Word of God.” (http://www.stepheneverett.net).

Een van die kragtigste demonstrasies van hierdie interteïstiese verbond is te sien in die lewe van Abraham. In Gen. 15:5-6 lees ons: “Daarop lei Hy hom (= Abram) uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” In vers 8 vra Abram: “Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” God vra dan vir Abram ‘n bepaalde offer wat hy moet bring, en dan staan daar in vers 17: “En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.” Hierdie teofaniese manifestasies kan soos volg verduidelik word:

  • die rokende oond (“smoking furnace” – KJV) is ‘n manifestasie van God die Vader. Skrifvoorbeelde ter ondersteuning daarvan is Eks. 19:18, Deut. 29:20, 2 Sam. 22:9, Ps. 144:5 en Jes. 6:4);
  • die vurige fakkel (“a burning lamp” – KJV; “a flaming torch” – ACV) is ‘n manifestasie van Jesus die Seun, die “Lig van die wêreld” (Joh. 8:12). Skrifvoorbeelde ter verdere ondersteuning daarvan is Eks. 27:20, Ps. 119:105, Jes. 9:2, 62:1, Mal. 4:2, Matt. 4:14-16, Luk. 2:32, Joh. 1:4-9, 3:19, 9:5 en Hand. 26:23.

As daar in die Nuwe Testament in Heb. 6:13-14 oor hierdie gebeurtenis gerapporteer word, is dit ‘n absoluut veelseggende bekendmaking: “Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy, omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by Homself gesweer en gesê: Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën en jou grootliks vermeerder.” Hierdie word in Gen. 15 gerapporteer ten opsigte van die aanvanklike verbond – in die oorspronklike verbondsluiting is daar egter geen sprake daarvan dat God by Homself gesweer het nie (dit gebeur eers veel later, meer as 33 jaar daarna, as Abraham bereid is om vir Isak te offer). Tydens hierdie epogmakende gebeurtenis, gerapporteer in Gen. 22:15-18, word die handelende Persoon die Engel van die Here, oftewel Jesus, genoem! Gen 22:15-17: “Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.”

Hieruit kan jy absoluut duidelik sien dat die interteïstiese beskouing moeilik te verdedig is, want Deut. 6:4 dui onteenseglik aan: “die HERE onse God is ‘n enige HERE”, ‘n uitspraak  wat Jesus onomwonde herhaal in Mark. 12:29. Jesus se uitspraak in Joh. 10:30 is steeds die misterie van die menigvuldige eenheid van die Godheid wat nie deur die teologie so eenvoudig verduidelik kan word nie. Jesus sê tog duidelik: “Ek en die Vader is een.”

Tog kom die teofanie van die Vader en die Seun in twee verwante, maar verskillende manifestasies voor – ‘n rokende oond en vurige fakkel. Sien tog net raak – dit is twee onderafdelings van dieselfde manifestasie, want die lidwoord ‘n ontbreek by vurige fakkel (absoluut korrek so vertaal deur Brenton’s English Septuagint – die Engelse weergawe van die Hebreeuse Bybel in Grieks). Dit is dus: ‘n (rokende oond en vurige fakkel)! Hierdie bevinding laat my altyd dink aan die bekende aanhaling van Annie Dillard: “We wake, if we ever wake at all, to mystery …”

Om net weer die goue draad van hierdie Manna uit te lig – daar is in die ewigheid ‘n verbond gesny, wat Hoofsaaklik gehandel het oor die volvoering van die algehele en oorkoepelende doel van God met alle dinge (Ef. 1:10). Daardie ewige verbond is in die voortyd tydens ‘n byeenkoms of vergadering, met hierdie spesiale agenda, gesluit. Daardie agenda spel God se plan in twee hoofagendapunte uit: die skeppingsdoel van die Seun as Eersteling van alle dinge, en die daaruitvoortvloeiende gestaltegewing van die Liggaam van Christus. Ps. 40:9 beskryf hierdie allerbelangrike gebeurtenis: “Ek het ‘n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig …” In die daaropvolgende vers praat hy wéér oor die vergadering: “U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; van u trou en u heil (= verlossing) spreek ek; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie”.

Die woordjie evangelie beteken in die Grieks “goeie nuus”. Ons weet God het Jesus gesalf “om ‘n blye boodskap te bring” (Jes. 61:1). Die “blye boodskap van die woord van die Here” (Hand. 15:35), ‘n strategie van God se verlossingsplan, die Goeie Nuus, is op hierdie vergadering verkondig. Ook in Ps. 22:22, die psalm wat profeties na die detail van Jesus se lewe heenwys, praat daarvan dat Jesus: “wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys”. God is in hierdie vergadering, en duidelik is Jesus in hierdie vergadering, maar Jesus se broers (Rom. 8:29; Heb. 2:11), oftewel sy Bruid (Op. 21:2), is weliswaar óók daar, IN HOM!

In Heb. 10:7 &5 verklaar Jesus: “Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God … U het vir My ‘n liggaam berei.”. Hier word die twee agendapunte van die ewige verbond in die vergadering van die voortyd uitgespel. Sela.

In Job 9:33 (NIV), die oudste historiese boek in die Bybel, word die versugting gemaak: “If only there were someone to arbitrate between us …” Jesus, the Son, rose to the challenge. Toe Hy in die tuin van Getsémané met God worstel, en Hy smekend bid: “My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” Jesus praat uiteraard hier van die beker van die nuwe testament of verbond (Luk. 22:20; 1 Kor. 11:25), wat Jesus se skeppingsdoel was. Hy het immers in hierdie vergadering van die voortyd gesê dat Hy aarde toe kom om God se wil te doen. Jesus het in die voortyd al geweet wat voorlê, want Hy is volgens Op. 13:8 (NIRV): “the Lamb whose death was planned before the world was created”.

In die volgende Manna sal ons die drade van hierdie geheimenis heerlik saamknoop.

  • Sela: Verstaan dat jou roeping en verkiesing ten nouste saamhang met hierdie vergadering in die

voortyd.

  • Lees: 1 Kor. 5-13
  • Memoriseer: 1 Kor. 11:25
  • Delf dieper: Lees een van die boeke/artikels hierbo genoem.