Dag 1591-1593

 

“… sal die lig van die lewe hê …”

 (Joh. 8:12, OAV)

Ons verstaan nou deeglik dat die Beginne nie ‘n lineêre beginpunt in tydruimte was nie. Jesus, die Oorsprong se Naam, het verskeie ander Name, wat sy geskiedenis (His story) omskryf en verklaar, waar onder ook die minder bekende Naam Amen. In die geloofstradisie het ons geleer dat ‘n “Amen” bloot ‘n bevestiging is dat jy saamstem met die die een wat die getuienis lewer, of die een wat lering bring, of as akkoord van waarheid wat gespreek word. Maar binne hierdie verstaan is die Amen nie net ‘n woordjie wat aan die einde van ‘n gebed gebid word nie; dit is na regte eerder ‘n goedkeuring of endossement van die feit dat God in Jesus Christus sy woord bevestig met sy Wesensaard.

In 2 Kor. 1:20 spel Paulus hierdie waarheid uit: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.”

Die Ancient Hebrew Lexicon Bible beskryf die woordjie Amen in piktorale taal soos volg: “The pictograph m is a picture of water or other liquid such as blood, the n is a picture of a seed representing continuance. Combined these mean ‘blood continues’. Each species (kind) continues by passing its blood to the following generation, which comes from the parent. Also the idea of strength through the blood.”

Strong versterk hierdie betekenisruimte waarbinne ons Amen moet verstaan, as daar verduidelik word dat die grondslagwoord van amen is ‘âman, en hierdie Hebreeuse woordjie beteken “to build up or support; to foster as a parent or nurse … to go to the right hand … nurse, (-ing father)”. God is ‘n cherising, nurturing, tending Vader, en hierdie spesifieke Karakteraard het Hy volledig in Jesus, die Amen, vergestalt. Figuurlik vloei die Geesbloed van God in Jesus die Amen – Hy dupliseer en bevestig presies hierdie Karakteraard in sy nageslag deur die toegespitste sorg wat Hy bied. Sodoende verseker Hy verseker “blood continues”. Al verskil is nou dat die bloed wat as ’t ware voortgesit word in geestelike seuns nié die gekontamineerde bloed van die mens en die oordraagbare verganklikheid van die ondermaanse is nie, maar in werklikheid die lig van die lewe – “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” (Joh. 1:4).

Die boek Job (33:28-30) verduidelik dit treffend met ‘n merkbare ontsag by die spreker: “Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil (= doderyk of duisternis) ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig. Kyk, dit alles doen God, twee keer, ja, drie keer met ‘n mens om sy siel terug te bring van die kuil, sodat hy bestraal word met die lig van die lewe.” (Let spesifiek op: siel!) In hierdie lig (!) verstaan ‘n mens nou Ps. 36:9 amper vir die eerste keer: “in u lig sien ons die lig”, met ander woorde buite Hom kan daar géén lig of insig of verheldering (“enlightment”) wees nie. Daarom bid Dawid in Ps. 56:13 – “want U het my siel gered van die dood—ja, my voete van struikeling—om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe”.

Wanneer Jesus in Joh. 8:12  hierdie geheimenis aan sy volgelinge probeer verduidelik, stel Hy dit ondubbelsinnig: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Hierdie geheimenis is die kiemsel van die evangelie van Christus, en die primêre lewensbeginsel wat die Bruid, wat uit die voortyd geval het, insgelyks verloor het. Sela! Met die koms van die Patroonseun na Wie se Beeld ons herstel moet word, Hy, die Amen, “die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping” (Kol. 1:15), word ‘n ganse dinamiese herstelproses tot ewige (verlore) identiteit weer moontlik, want in Hom word óns ook Ja en Amen! Dit is ‘n herstel van “the integrity (= wholeness) of our original design” (2 Tim. 1:9, MB).

Streng gesproke is dit dít wat die skape of seuns van Sy regterhand ontvang: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” (Matt. 25:34). Hulle is – simbolies gesproke – die Benjamin-saad, the sons of the right hand. (Benjamin beteken in Hebreeus: “son of the right hand”.)

Toe die hoëpriester in Mar. 14:61 vir Jesus die miljoendollarvraag vra: Is U die Christus?, antwoord Hy onomwonde: “Ek is.” [Moet nie die historiese verwysing van God se (voltooide onvoltooide) Naam as “Ek is” (Eks. 3:14) hierin miskyk nie.] En dan verduidelik Hy baie eksplisiet die nuwe bedeling wat gaan volg waarbinne die EK IS in die koninkryk van Christus gestalte gaan kry: “En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God (= Christus – 1 Kor. 1:24) sien sit en (sien) kom met die wolke van die hemel.” (Hieroor het ons in die Manna al veel geskryf, en dit is belangrik dat dit gelees word binne daardie eksegeses en verduidelikings – gaan lees weer Mannas Dag 87, 500, 575 – 577, 578-580, 1095 en 1157 – 1158.)

As Paulus in 2 Tim. 1:8 aan Timótheüs, sy geestelike seun in die geloof (vers 2) skryf oor “die evangelie na die krag van God”, verwys hy onteenseglik na die evangelie van Christus (1 Kor. 1:24). Hy spel uit dat ‘n mens jou nie vir hierdie partikuliere (persoonlike / private) evangelie moet skaam nie, presies soos wat hy in Rom. 1:16 dit uitgespel het: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” In die daaropvolgende verse in 2 Tim. 1:9-10 word gespesifiseer hoekom hierdie evangelie van Christus partikulier is, en nie ‘n grys algemene evangelie is nie: “(hier)die evangelie … wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is, maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning(s) van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie …” Uit hierdie Skrifgedeelte moet ons ‘n paar sake benadruk:

  • Die evangelie van Christus sluit uiteraard die ander twee dimensies se evangelies in, nie uit nie. Die evangelie van redding en die evangelie van die koninkryk van God het ontvou en ontsluit in die evangelie van Christus. Jesus het nie net gekom om ons te red nie, maar ook om ons te roep (Rom. 9:11; Ef. 1:18; 2 Tim. 1:9; 2 Pet. 1:10). Ons is dus gered én geroep.
  • Ons roeping is uitsluitlik “sy eie voorneme” en is uit Sy oogpunt vas en seker sonder enige teenprestasie van ons kant af, alhoewel ons dit uit ons oogpunt moet vasmaak (2 Pet. 1:10).
  • Al was die uitverkiesing en roeping “van ewigheid af”, is dit nie deel van ‘n grys tydloosheid wat ons as ewigheid probeer definieer buite-om ons tydruimtelike bewussyn nie. Die BBE noem dit mooi: “This life was made certain before eternal time.”
  • Nou is ‘n sleutelwoord in hierdie perikoop – die manifestasie waarna hier verwys word, is nie in die verlede óf noodwendig in die toekoms nie, maar NOU. (Die Message vertaal dit byvoorbeeld verkeerdelik as: “But we know it now.”) Jesus se verskynings gebeur nie net sedert ons die kennis daaroor opgedoen het nie. Daar was immer verskynings van Jesus sedert sy opstanding uit die dood (Hand. 1:3), maar selfs daarvóór het Jesus as die Engel van die Here in ‘n preinkarnasiestaat verskyn (Hand. 7:30). Nou kan ook vertaal word as “henceforth”, maar die van nou af aan is bepalend.
  • Die ganse spektrum van God se voorneme (“purpose” – KJV) word nou openbaar gemaak deur die verskyning(s) van ons Verlosser. Dit beteken uiteraard elke persoon se belewenis van Jesus se verskynings vanDAG laat hom/haar in heerlikheid transformeer van heerlikheid tot heerlikheid na dieselfde Beeld van die Prototipe Seun (2 Kor. 3:18). Jesus is bepaald “‘n lig tot verligting … en tot heerlikheid” (Luk. 2:32). In wese word hierdie proses van afstemming tussen jou en jou Verlosser die absolute grondslag van dit wat ons heiligmaking sou noem. Heiligmaking (“to be set apart for God’s purposes”) is derhalwe allereers individueel gedetermineer, alhoewel dit ook ‘n korporatiewe funksie het.
  • Die woordjie in Grieks vir voorneme of purpose is die woord prothesis, wat benewens voorneme ook veelseggend genoeg toonbrood beteken! In Manna Dag 73-111 het ons uitvoerig gekyk na die tipologiese betekenis en toepassing van die tafel met toonbrode in die tabernakel. Daar is verskeie aspekte waarmee ons ‘n verband kan lê, maar dit is nie nou nodig nie, en sal later bepaald aan bod kom. Hierdie toonbrood word “the bread of presence” (Eks. 25:30), “bread of ordering” (1 Kron. 9:32), “holy bread” (1 Sam. 21:1-6) of “the continual bread” (Num. 4:7) genoem. In metaforiese verband dui die toonbrood op Jesus as die Brood van die Lewe (Joh. 6:48), maar Hy word verteenwoordig deur die twaalf toonbrode, wat weer simbolies dui op volmaakte geestelike outoriteit (voorgestel deur byvoorbeeld die twaalf seuns van Jakob, die twaalf stamme, die twaalf waterfonteine van Elim, die twaalf dissipels, die twaalf apostels, die twaalf poorte van die Nuwe Jerusalem, en so meer). Binne hierdie God-geordende groepering word die teenwoordigheid van God verseker! Dink bietjie na hieroor – Jesus het Homself uitgedeel in menigvuldige voorafbedenkte (uitverkore) onderdele, waarvan die totaliteit Sy daarwees waarborg! Maar meer – in die vorming van die kollektief word aan elke individuele onderdeel ‘n unieke identiteit toegeken, wat God se voorneme illustreer. Hierdie voorneme/“purpose” getuig dat dit volgens God se volmaakte wil vooraf georden en geskik is tot volmaaktheid, en wanneer dit só manifesteer, is Sy teenwoordigheid noodwendig in hul midde (Matt. 18:20; Mark. 3:3; Luk. 24:36; sien ook Manna Dag 1567-1569).
  • Die verskyning(s) van Jesus die Christus het ‘n geweldige belangrike funksie – dit maak die dood tot niet. Sela asseblief oor hierdie belangrike waarheid! Alhoewel Jesus met sy opstanding die dood oorwin het, is die laaste vyand wat vir die gevalle, maar verloste mens vernietig moet word, die dood (1 Kor. 15:26). In vers 54 stel Paulus dit só: “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.” Dus – Jesus het onteenseglik die dood oorwin, maar ek en jy maak deur die verskynings van Jesus in ons lewe die dood tot niet, “ooreenkomstig die belofte van die lewe wat in Christus Jesus is” (2 Tim. 1:1).
  • Deur die evangelie van Christus word die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring IN ons. Sodoende vermeerder die lig IN ons, sodat Ef. 5:8 beslag kry: “vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here”.

Jesus was bepaald “die lig van die wêreld”, maar dit word getransponeer na die Bruid toe – hulle verkry nou “die lig van die lewe” (Joh. 8:12). Nou word Matt. 5:8 waar, in Jesus se eie woorde: “Julle is die lig van die wêreld.”. Hierdie geheimenis is die kiemsel van die evangelie van Christus, en die primêre lewensbeginsel wat die Bruid, wat uit die voortyd geval het, verloor het.

  • Sela: Beleef jy die verskynings van die Here Jesus?
  • Lees: 3-6; Ef. 1-2
  • Memoriseer: 1:4 (hoe gepas!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: DNA van God: Lig