“laat hy wat lees, oplet …”
(Matt. 24:15, OAV)
Hierdie volgende drie Mannas wyk af van die oorkoepelende gesprek waarmee ons tans besig is, maar om ‘n spesifieke en gemotiveerde rede. Alhoewel min gelowiges dit ooit doen, is dit van groot belang dat ons soms moet stil staan en die prosesse waarmee ons die Bybel hanteer, van naderby bekyk. Dit beteken dat ons verantwoording moet doen van hoekom ons die Bybel lees soos ons dit wel lees, en waarom byvoorbeeld nie anders nie. Min mense reflekteer ooit op hulle leeswyse. Matt. 24:15 – “laat hy wat lees, oplet …”
Roger Pilkington, in sy boekie World Without End (p. 67), praat oor Gen. 1-3 en noem dit “this factual inadequacy of the Genesis concepts”. Hy verduidelik dat reg aan die begin van die Christelike era moes die ouer lering se verstaan van die skeppingsgebeure noodwendig geher-interpreteer word in die lig van die openingsverse van die evangelie van Johannes. Tot en met die formulering van Joh. 1 moes gelowiges noodwendig glo dat God ‘n eksterne universum tot stand gebring het, maar Johannes se diepliggende openbaring dat die skepping intern is – dat dit uit God ontwikkel het, deel was van God – het verstaanshorisonne en –vistas aansienlik geskuif.
In die huidige subreeks Mannas is ons besig om uit te vind wat die Bybel te sê het oor wat in die voortyd gebeur het. Indien dit moontlik is, sal ons derhalwe beter verstaan wat die volvoering van alle dinge is, wat moontlik in die toekoms lê, met ander woorde hoe alles in Jesus as die Ja en Amen byeenkom – “Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God …” (Op. 3:14). Sodoende leer ken ons op diskursiewe wyse “the Principle of God’s creation” (NJB), van begin tot einde.
Die woordjie diskursiewe in die laaste sin hierbo is nie maklik te vinde in enige woordeboek nie. Dis wel ‘n afleiding uit die welbekende woordjie diskoers, wat ons as ‘n deftiger sinoniem vir gesprek, of toespraak, voordrag of redevoering gebruik. In die sosiale psigologie word dit as term onderskei, en ons gaan dit as vertrekpunt uit hierdie dissipline fundeer, maar ons gebruik daarvan kom meer uit die filosofie asook die diskoersanalise en stilistiek (terreine in die taal- en literêre teorie). Interessant genoeg word dit bitter min in die Christelike teologie toegepas, maar dit is vir baie jare al ‘n begrip in Islam.
In die sosiale psigologie word ‘n benadering van Diskursiewe Psigologie gekenmerk deur spesifiek verbandhoudende temas wat ‘n mens vind in byvoorbeeld gesprek, teks en beeld. Laasgenoemde word voorgehou as ‘n lewende konstruksiewerf “wherein all such presumptively prior and independent notions of thought and so on were built from linguistic materials, topicalised and, in various less direct ways, handled and managed” (J. Potter, Representing Reality, p. 37). Dit klink na ‘n mondvol, maar dit is eintlik baie eenvoudig. As meganisme om uit te vind wat in ‘n ander persoon se psige aangaan, kan ‘n ondersoeker byvoorbeeld daardie ander persoon se taal, sy tekste, sy argumente of redenasies, sy ver-woording en ver-beelding van innerlike denkprosesse bestudeer, en daarin kan sekere wetmatighede en patrone uitgelees word wat veel van die persoon sê, soms selfs verklap. Op die oog af lyk dit of die leser of realiseerder van die teks (in die wydste sin bedoel) kreatief omgaan met die elemente in die konstruksiewerf van ‘n ander persoon se “teks”, maar hy/sy is bloot besig om wat potensieël daarin aanwesig is, sinryk byeen te groepeer sodat dit betekenisdraend is. Soms kan dit lyk asof die interpretasie vergesog is, maar as dit gemotiveerd is, met ander woorde implisiet in die teks is, en verantwoordbaar uitgewys is, dra dit onteenseglik betekenis en kan dit as hipotese voorgehou word wat moontlik die werklikheid, en/of waarheid representeer.
In die vroeë filosofiese werk van Michel Foucault het hy hierdie nosie van “teks” (in die wydste moontlike sin bedoel, ook as ‘n beskrywing van die somtotaal van dít wat in ‘n persoon se denkraamwerk bestaan) gebruik om te wys dat die outeur (skrywer of denker, of dan: logos) se intensies uit die teks gelees kan word, en wel dan op diskursiewe wyse. Die oorspronklike bedoeling kan agterhaal word deur na patroonmatige wetmatighede in hierdie “teks” te soek. Dit is met ander woorde nie eksplisiete verwysings, afgeronde verhale, kohesiewe, doelbewuste kommunikasie nie, maar verrassende, soms amper terloopse vondste binne die teks as konstruksiewerf. Foucault se voortdurende verwysing na “the being of language”, wat deur hierdie verhulde denkpraktyk gemanifesteer word, is volgens David Carroll “emblematic of a nostalgia for metaphysics” (in Paraesthetics: Foucault, Lyotard, Derrida, p. 15). Kortom: die teks demonstreer, ongevraagd, maar noodwendig, die outeur se wesensaard en geskiedenis, en veral sy gestaltegewing van die geestelike betekenis van die werklikheid. As die Outeur dan God is, en die teks ter sprake is die Bybel, is dit soveel méér as blote nostalgie ter wille van metafisika; dit word dan onteenseglik “a basement of thought, a mental infrastructure underlying all strands of knowledge” (Foucault, José Guilherme Merquior, p. 38) wat die Wesensaard, maar ook die geskiedenis en bloudruk (= toekoms) van God die Logos bevat.
In ‘n sin is dit dit wat Foucault dan ook bedoel met sy seminale frase: die argeologie van kennis. ‘n Teks is dus “n “counter-memory” (oorspronklik ‘n begrip wat Nietzsche gevestig het), “to recover what has been forgotten, to restore what has been lost, to perpetuate the presence or being of words” (https://archive.org/stream/michael-mahon-foucaults-nietzschean-genealogy-truth-power-and-the-subject/michael-mahon-foucaults-nietzschean-genealogy-truth-power-and-the-subject_djvu.txt, p. 183). Dit wat uit die teks herwin of verkry word, is derhalwe ‘n Beeld van die Outeur, en kan my en jou help om te verstaan wat die Oorsprong van alle dinge is.
In die teologie van Islam kom die begrip kalam voor, wat letterlik spraak (of diskoers) beteken. Ten grondslag van hierdie akademiese dissipline is die probleemstelling: of die Woord van God, soos hulle verstaan, vervat is in die Koran, en “can be considered part of God’s essence and therefore not created” (Majid Fakhry, A History of Islamic Philosophy, pp. xvii–xviii). Diskursiwiteit is volgens hulle dus ‘n inherente eienskap van die kenbaarheid van “an all-encompassing Reason” (wat Islam as Allah beskou). Sien asseblief (filosofies-teoreties) die ooreenkoms raak met wat ons die Christelike Logos noem.
Getransponeer na die Christelike teologie, is die vraag derhalwe noodwendig – is dit moontlik om God te (leer) ken deur sy Woord? G. Spykman, in sy boek Spectacles (pp. 11-12), onderskei dat die Woord ‘n drievoudige gestalte het, naamlik Skeppingswoord (in Génesis), vleesgeworde Woord (in Jesus), en Skrifgeworde Woord (in die Skriftuur van die Bybel). As die antwoord hierop dus ja is, is dit duidelik dat dit verkieslik deur ‘n diskursiewe leeswyse van die teks, hier die Bybel, gedoen moet word. Die tradisionele lees van die Bybel sal uiteraard ‘n veelheid beskouinge bring, wat nie noodwendig veel lig sal werp op die kenbare Wesensaard van God nie, en nie noodwendig sy geskiedenis en ewige plan sal openbaar maak nie. Dit beteken veral dat ons tradisionele manier van die Bybel verstaan nie genoegsaam ‘n verduideliking bied vir die verstaan van waarheen ons uitgeval het (Op. 2:5), of die weg waarmee ons daarheen moet terugkeer nie (Joh. 14:5). Sela.
Hierdeur is dit nou duidelik hoekom die meeste teoloë, én gelowiges, helaas nie die saadplot van God kan leer ken nie – want dit word geensins in ‘n afgeronde eenheid, perikoop of teksgedeelte aangebied nie. Dit moet uit die geheel (“die hele Skrif – 1 Tim. 3:16) uitgelees word deur diskursiewe tekspraktyke. Dit veronderstel ook dat daardeur die kenbaarheid van die Lewende God ook moontlik is. As ‘n mens verkeerd kan bid (Jak. 4:3), is baie wyses van Skrifuitleg ook noodwendig verkeerd. ‘n Mens kan jou nie beroep op die blote feit dat iets in die Skrif geskrywe staan nie, want dit kan maklik getroef word met: “Daar is óók geskrywe …” (Matt. 4:7). Woord kan Woord teenspreek. ‘n Diskursiewe lees van die Bybel het sekere leesbeginsels ten grondslag wat baie diskrepansies en sinlose gestryery (Joh. 6:52; Hand. 17:18) oor die Woord bes moontlik sal ophef. God vra tereg: “Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?” (1 Kor. 1:20). Hierdie geheimenis van diskursiwiteit is bepaald ook ‘n generatiewe kiemsel van die evangelie van Christus.
Ná ons nou gevaar het in baie teoretiese en teologiese vaarwaters kan ons nie nalaat om ook die Joodse teologiese tradisie by te haal nie. In Gal. 4:24 gebruik Paulus die diskursiewe leeswyse van tipologies lees eksplisiet as hy iets van die twee verbonde wil verduidelik: “Now this may be interpreted allegorically …” (ESV). Die Rotherham-vertaling stel dit as: “Which things, indeed, may bear another meaning …”, en die 1534-Tyndale Bible: “Which thinges betoken mystery.” Maar die Complete Jewish Bible vertaal dit die raakste as: “Now, to make a midrash on these things …”. Midrash is ‘n Joodse tradisie van diskursiewe tekseksegese wat bepaalde gebruiksvoorwaardes inspan (ek gebruik dr. Moshe Simon-Shoshan -Yeshivat Har Etzion se opsomming van rabbi Chazal se benadering https://mizrachi.org/midrash/ hiervoor):
- Omnibetekenis bedoel dat elke detail van die Bybelse teks betekenisdraend is. Aan elke woord, selfs letter, moet betekenis toegeken word. Die vreemde of ongewone veranderinge wat aan woorde gemaak word, moet verduidelik word. Stiplees is derhalwe noodwendig. Die herhaling van elemente, stories, uitdrukkings, skep betekenisvelde wat uitgelees moet word.
- Gapingvulling werk met die noodwendige leë ruimtes in taal. Alle narratiewe (verhale), alle poësie, alle drama, die drie hoofgenres van die letterkunde, werk met wat Wolfgang Iser genoem het “spaces of indeterminacy”. ‘n Skrapse styl, gedrongenheid, geknotheid, oorsigtelikheid, onvertelde gebeure, verswygings, metafore, en so meer, vereis voltooiing. Belangrik egter is dat daar nie ongemotiveerde inlegkunde moet plaasvind nie. Die teks is ‘n latwerk of matriks waar die ongesêde dikwels mee(r)sprekend(er) is as dit wat wél daar staan. Die Nederlandse digter Martinus Nijhoff het gesê: “Er staat niet wat er staat.”
- Afstandsgesprek werk nie met onmiddellike konteks nie. Alhoewel konteks uiteraard altyd belangrik as primêre eerste vlak van kommunikasie is, is dit van groot belang om te besef dat onderdele van die groter geheel oor afstande heen met mekaar kan kommunikeer. Ou en Nuwe Testament kan so met mekaar gesprek voer, of identieke uitdrukkings, parallelle verhale, en so meer, kan kragvelde van betekenis tussen hulle genereer. Hier onder resorteer twee spesifieke leesstrategieë:
- die tot versoening bring van teenstellende of selfs teenstrydige Bybelverse. Daar is menigte voorbeelde van teksgedeeltes in die Bybel wat lyk asof hul mekaar weerspreek – selfs in hierdie oënskoulike of opsigtelike diskrepansies setel daar ‘n dieperliggende betekenis. Baie ateïste sal dikwels sulke anomalieë voorhou om kwansuis die Bybel as die Woord van God te diskrediteer. Die Bybel is ‘n boek sonder enige onreëlmatigheid, derhalwe moet dit wat teenstrydig skyn te wees, versoen word binne ‘n groter/dieper/oorkoepelender konteks. Die sintetisering of integrasie van konflikterende tekste bring nuwe opwindende betekenismoontlikhede na vore.
- die uitlê van tematiese, linguistiese of komposisionele verbande. In die letterkunde word dit jukstaposisie of naasmekaarstelling genoem, en dit bring ‘n kreatiewe spanning tussen skynbaar onverwante gedeeltes en lig meestal ‘n onderliggende verband tussen onverwante gedeeltes. Soms kan ‘n goue draad tussen verskillende gebeure gesien word, maar dit vra dat tekste wat normaalweg nie met mekaar verband hou nie, in verhouding tot mekaar geplaas word, meestal met ‘n herhalende gegewe wat mettertyd simboliese waarde verkry. Soms is dit bloot ‘n herhalende frase of woord, soms ‘n stelwyse of vorm.
Onteenseglik behoort hierdie perspektief lesers se geestelike oë te open rondom ons eietydse konvensionele wysheid wat die Bybelse teks toemaak, helaas nie open nie. Volgens Gen. 1:2, AMP) – oor die lewende konstruksiewerf, sweef steeds die “hovering, brooding” Gees van God.
- Sela: Probeer toepassings kry vir enkele van die leesstrategieë hierbo genoem.
- Lees: 3-6; Fil. 1-4; Kol. 1
- Memoriseer: 1:17 (hoe uiters gepas!)
- Delf dieper: Lees een van die tekste hierbo.