“you have not passed this way before”
(Jos. 3:4, AMP)
Die vorige drie Mannas was ‘n tipe intermezzo, so ‘n tussen-in aanbieding wat ons bietjie van die huidige gang van lering laat afwyk het, net om ‘n wyle te besin oor die proses van kennisverwerwing wat ons tans besig is om te ontgin. Bepaald is ons hier op ‘n nuwe pad, en sal ons sonder veel vrees vir teenspraak toe-eien dít wat God aan Josua in Jos. 3:4 (AMP) gesê het: “you have not passed this way before”.
Sedert die derde reformasie aangebreek het, met ander woorde die sewende dag ná Adam en die derde dag ná Jesus ‘n aanvang geneem het (Hos. 6:1-2), het daar volgens die profesie van Daniël ‘n vrystelling gekom van die woorde wat geheim gehou is, en die boek van die lewe wat verseël is; derhalwe sal die kennis as gevolg daarvan grootliks vermeerder (Dan. 12:4). Dit beteken ook dat ons manier van lees, dink en verstaan verander en verruim sal word. Vir die meeste gelowiges – wat vashou aan nét die tradisionele manier van Bybellees en eksegese doen – is die woord in Jes. 29:11-12 op ‘n ontstellende wyse waar: “al hierdie dinge (het) vir julle geword soos die woorde van ‘n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël. Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.” Ons leesmodusse moet grootliks aanpas om die nuwe openbaring verantwoordbaar te kan uitlees.
Dit is vir ons nou al baie meer moontlik om sonder huiwering die hele verhaal in Gen. 1-3 te sien as ‘n tipologie wat deur sy verhaalkonvensies die saadplot van die ganse evangelie wil verduidelik. Bepaald is dit meer en groter as die eenvoudige narratief oor die ongehoorsaamheid van die eerste mens. Wat met Adam gebeur het, het werklik gebeur, maar ook veral eksemplaries of tipologies gebeur, want sy verhaal is ook elke ander mens se verhaal. Adam staan vir wat die mens in wese is, hoe die mens is, waarom die mens is. Hy verteenwoordig die mens soos ons hom ken, met al sy vermoëns en kapasiteite en fakulteite.
Die verlangse voortydse onthou van die Tuin van Eden, dít wat in ons kollektiewe geheue oor die Paradys in die ooste nahuiwer, het deur die eeue heen in die dromende denke, mites, oorleweringe en geloofsverhale van alle groepe op die aarde in die geskiedenis teruggekeer en herkenbare weefseldrade nagelaat.
Daar is bepaald nie ‘n volk of nasie op die aarde wat nié die mens se oorsprong voorhou as ‘n vergange tydperk van reinheid, vrede, in harmonie met die natuur en in intieme verhouding met ‘n groter Wese nie. Die hiërogliewe van Egipte, die kleitablette van Assirië, die Edda van Skandinawië, die legendes van Tibet, die Sumeriese mitologiese verhaal van Enki en Ninhursag, die vertelling van die tuin van Hesperides in die Griekse mites, asook die oorleweringe uit Rome, het basies almal dieselfde primitiewe storielyn wat voorgehou word. Al word God in elke narratief anders benoem, en die eerste mense anders voorgestel, is dit onteenseglik afskynsels van dieselfde oerverhaal in die argetipiese psige.
Ons as gelowiges weet teen hierdie tyd al duidelik dat die Tuin van Eden nie ‘n konkrete plek met gps-koördinate êrens in antieke Mesopetamië of die eietydse Irak is nie. So ‘n plek is nog nooit fisies gevind nie, al is daar ‘n korrelasie met werklike riviere wat moontlik eens daar kon gevloei en hierdie magiese ruimte begrens het. Daar word vermoed dat twee van hierdie riviere vandag steeds vloei, maar binne hul oewers is daar helaas geen paradys te vind nie (ook in ag genome dat die vloed in die tyd van Noag uiteraard die topgrafie van die aarde en derhalwe die vloei van riviere ipso facto moes verander!). Geen ontdekkingsreisiger kan aanspraak maak dat hy hierdie mitiese simboliese ruimte opgespoor het nie. Daarbenewens is daar ook geen gevonde engelagtige wese met ‘n vlammende swaard wat die toegang tot hierdie heiligdom van God bewaar nie. Maar dit is van die uiterste belang dat ons verstaan wie of wat die gérubs is waarvan Gen. 3:24 praat, want dit/hulle hou ons uit die paradys / die tuin van Eden / die Nuwe Jerusalem / die hemele / die derde dimensie!
Die Tuin van God wat in die Bybelboek Génesis beskryf word, is derhalwe nie ‘n fisiese ruimte nie, maar ‘n geestelike bewussynstaat. Dit is ‘n hoër wyse van funksionering as hierdie fisiese aarde waarin ons as mense in gebore is en waarin ons as gevangenes van tydruimte funksioneer. Dit is die oorspronklike staat waarbinne ons gefunksioneer het voor ons uitgeval het na hierdie aarde, of doderyk, wat ons die mens se habitat noem.
Eden verteenwoordig die mens in die teenswoordigheid van die lewende Skeppergod. Eden is die mens wat as heerser met die onbevlekte, onverganklike lewe van God in hom oor alle dinge heerskappy voer. Eden omvat die mens wat sondeloos, sonder siekte, pyn, verval, degenerasie en dood leef.
Tog is daar in hierdie perfekte tuin van Godmenslike heerlikheid die kiemsel, in die mens se wesensaard en in sy omgewing, wat tot sy val en verwydering van God kan lei.
Vreemd genoeg wás die mens in die tuin, maar hy was ook die tuin. Die Skrif verduidelik dit só in Gen. 2:8 – “Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in (die tuin van) Eden, in die Ooste en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee.” In die oorspronklike taal is dit nie “’n plek” (selfstandige naamwoord) nie, maar ‘n werkwoord “to appoint” (The Complete WordStudy Dictionary). Die mens was wese én omgewing, en het in alle opsigte met mekaar gekorrespondeer. Alle omstandighede wat die mens in hierdie omgewing omring het, was ook die werklikhede van sy diepste bewussynstaat, sy hart. Die oorspronklike mens met sy natuur, karakteristieke, vermoëns en potensiaal is wat ons ook in die Eden-ruimte verbeeld sien. Die eksterne omstandighede van die mens se omgewing klop met die mens se innerlike natuur, wat potensiaal het vir goed of kwaad, lewe of dood.
Die groot waarheid van die mens se oorspronklike bestaanstaat wat dus ook die Tuin van Eden omvat of bevat het, loop soos ‘n goue draad deur die ganse Bybel, van Génesis tot Openbaring. In die laaste boek van die Bybel word die Tuin van Eden uiteindelik die wonderbaarlike stad van God, die Nuwe Jerusalem, die stad wat ook óns, die Bruid van die laaste Adam IS (Op. 21:9-11). In Jes. 60:14 word dit profeties só in die vooruitsig gestel: “hulle sal jou noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel”.
In Op. 22, die laaste hoofstuk van die Bybel, lees ons hoe hierdie “stad van God” lyk – dit word allereers verduidelik as ‘n tuin, amper net soos in Génesis! Verse 1 en 2 spel dit uit: “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” Hier kom ‘n klompie dinge en detail by wat nie in die oorspronklike tuin van Eden was nie, maar die primêre en allerbelangrikste “item” van die paradys is steeds hier – die boom van die lewe.
‘n Mens behoort nou weer te vra, soos vroeër – hoe is hierdie boom getransponeer van die Tuin van Eden na die Nuwe Jerusalem? Nee, dit was nie! Die Tuin van Eden IS die Stad, die korporatiewe Liggaam van Christus waarin elkeen wat deel is van die Bruid, reeds woon! Dit is ‘n geestelike realiteit wat ook die koninkryk van God, of die koninkryk van die hemele, genoem word. Die opgestane Bruid is ‘n totaal nuwe spesie op die eeue-oue aarde, met ‘n ander nasionaliteit en burgers wat gehoorsaam is aan ‘n ander land se grondwet en wette (2 Kor. 5:17).
Tog is daar ‘n merkbare verskil tussen die Tuin van Eden en die Nuwe Jerusalem wat ons deeglik moet insien. Génesis beskryf die Beginne, en Openbaring beskryf die Volvoering. Ek skryf albei begrippe spesifiek met hoofletter, want albei begrippe is name van Jesus die Christus, die Ja en die Amen. In die Beginne was daar ‘n doelgerigte plan en bloudruk van God se ewige voorneme – “All this is proceeding along lines planned all along by God and then executed in Christ Jesus.” (Ef. 3:11, MSG). Planned and then executed. Die boek Openbaring is ‘n ryk tapisserie waar al die goue drade van hierdie heilsgeskiedenis deur tipologie, simbole, profesieë, beloftes en vooruitskouings ingeweef word. Die ganse voorafgaande Skrif word in hierdie openbarende teks opgeneem en verweef tot ‘n tipe virtuele toer van Goddelike intensie. Dit beskryf op Meesterlike wyse die fyn detail van God se heerlike verlossingsplan, sy voorafbepaalde volhoubare ineenknoping van alle dinge.
Maar in die Nuwe Jerusalem is ‘n paar dinge anders as in die Tuin van Eden, want “die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:4). Inderdaad is dit die Voltooier se proklamasie: “Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.” (vers 5). In die volgende vers kondig Hy dan offisieel en dramaties aan: “Dit is verby!” Dit maak Hom onteenseglik die “Finisher [bringing … to maturity and perfection]” (Heb. 12:2, AMP). Dit is Sy aard om te finish – onthou Sy woorde aan die kruis: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30).
Ons kan dus onteenseglik uitsien na die voleindiging van die huidige epog. Duidelik slaan hierdie voleindiging op God se voltooing van alle dinge volgens God se bloudruk. Maar mens en aarde se diepliggende verbondenheid word ook op soortgelyke wyse gedemonstreer. Gelowiges kan dus ook, soos Fil. 1:6 dit stel, “hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus …” Die Amplified Bible spel dit nog mooier uit: “developing … and perfecting and bringing it to full completion in you”. Dit is wat Ef. 4:12 (Webster) bedoel met “the perfecting of the saints”. [Onthou net: die “dag van Jesus Christus” is VANDAG met sy verskyning, nie eendag se sogenaamde wederkoms nie.]
In Manna Dag 1419-1421 het ons uitvoerig oor hierdie twee bome in die Tuin van Eden lering gegee aan die hand van Op. 22:2 – “In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies”. Vers 14 spel uit dat oorwinnende gelowiges (“that overcometh”) die reg op die boom van die lewe verkry as hul ingaan deur die poorte in die stad. Die waarheid weet ons nou – die boom het nie verskuif nie – die boom is steeds in dieselfde tydruimte. In die Nuwe Jerusalem OP DAARDIE GEPROJEKTEERDE TYD EN RUIMTE is egter géén sprake van ‘n boom van kennis van goed en kwaad nie! Dit beteken dat in daardie habitat van Mens se funksionering die middelmuur van skeiding tussen siel en gees verwyder is. Die negatiewe gevolge van die vrug van die verbode boom het ‘n nuwe aanskyn verkry! Die KENNIS van goed en kwaad wat die mens met die eet van hierdie boom verkry het, is nou vervang met die KENNIS van die heerlikheid. Dit alles gebeur “in ons harte” (2 Kor. 4:6), wat as gevolg van die sondeval verdonker het, verhard het, onbesnede geword het. Hierdie “verborge mens van die hart” (1 Pet. 3:4), wat bedrieglik en verdorwe en onkenbaar was (Jer. 17:9), het nou vir altyd verander. In die Nuwe Jerusalem is geen natuurlike lig van son of maan nie, “want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp … En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, … En bedags want nag sal daar nie meer wees nie…” (Op. 21:23-25). Vroeër WAS ons duisternis, NOU is ons die lig (Ef. 5:8).
En onmiddellik bring dit ons by Gen. 1:2 – “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed …”
- Sela: Probeer die implikasies verstaan van die laaste paragraaf.
- Lees: 2-4; 1 Thes. 1-5; 2 Thes. 1
- Memoriseer: 2:10 (hoe uiters gepas!)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Geheimenis van die Herstel van die
Heerlikheid oor die hele Aarde