Dag 1600-1602

 

“dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees”

 (Joh. 17:21, OAV)

Ons Mannalesers sal dalk begin wonder hoekom die voorstelling van die beeld wat Nebukadnésar in ‘n droom gesien het, steeds bo-aan die Manna geplaas word. Onthou – ons het in detail deur al vyf die aardse koninkryke gewerk, en elkeen histories gekarteer. Daarna het ons begin om die sesde koninkryk, naamlik die ewige koninkryk van Christus (Ef. 5:5; 2 Pet. 1:11; Op. 1:9), te beskryf. Om hierdie koninkryk te verstaan waarin en waardeur alle dinge voltooi moes word, moes ons ‘n verkenning maak van die voortyd, aangesien ons weinig kennis daaroor het, en dit nie in een spesifieke gedeelte van die Bybel uitgespel word nie. Om hierdie rede moes ons gaan kyk na ander maniere hoe om die Bybel eksegeties te lees, en in die laaste Manna het ons van hierdie leesstrategieë toegepas en tot verstommende insigte gekom oor hoe alles van die voortyd en volvoering van alle dinge ineenvou soos in ‘n voeg. Algaande leer ons, soos Sheila Cussons dit so raak in die gedig ‘Verheerliking’ verwoord:

… maar nou

wanneer Hy praat weet ons hoe sonder nate is sy woord

en dat Hy self ‘n wit vuur naatloos een is met sy heelal.

Die vorige Manna is afgesluit met drie temas wat vra dat dit verder ondersoek word, naamlik die belangrikheid van die tuin as metafoor, die rol van die gérubs voor die paradys en die rol van die primordiale (voorskepping-) waters. Ons leer ken ook God as “die Openbaarder van geheimenisse” (Dan. 2:47), en inderdaad: hy wat soek, sal vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word (Matt. 7:8). Dit bly ‘n superbelangrike waarheid – “To conceal a matter, this is the glory of God, to sift it thoroughly, the glory of kings.” (Spr. 25:2, NJB).

Moet asseblief nie die groot waarheid wat hier weggesteek is, miskyk nie: “To conceal a matter” = (THIS IS) “the glory of God”. Die woordjie “a matter”, of soos die meeste ander vertalings dit noem, “a thing”, is die Hebreeuse woord dabar, wat in Grieks die woordjie logos is.

[Die manifestasie van die Bruid kon eers geskied na die manifestasie van Jesus in vleeslike gestalte, en wel toe die Bruid uit sy sy gestalte gekry het. Die hele verstaan van Logos en Rhema, van Jesus en sy Christus, is dus ‘n Nuwe Testamentiese fenomeen. Die woordjie woord in die Ou Testament is dus nie so ‘n klinkklaar verdeling soos in die Nuwe Testament nie. Die Hebreeuse dinamiese ekwivalent van logos in die Ou Testament is dabar, en vir rhema is dit millah. Tog dra albei die woorde (en enkele ander, soos omer) die gene van die ander, omdat beide Jesus en sy Christus nog in ‘n pre-inkarnasiestaat was met die gebruik van die woordjie woord.]

In die lig hiervan sou ‘n mens Spr. 25:2 eksegeties ekwivalent op een van vier wyses kon vertaal:

  • Dit is die heerlikheid van God om die LOGOS te verberg, die heerlikheid van konings om die LOGOS na te speur.
  • Dit is die heerlikheid van God om die LOGOS te verberg, die heerlikheid van konings om die RHEMA na te speur.
  • Dit is die heerlikheid van God om die RHEMA te verberg, die heerlikheid van konings om die LOGOS na te speur.
  • Dit is die heerlikheid van God om die RHEMA te verberg, die heerlikheid van konings om die RHEMA na te speur.

Neem gerus ‘n tydjie om die verskille van elke stelling hierbo in jou gees te oorweeg – dit het geweldige implikasies! Die feit dat al vier moontlik is, en tog so ingrypend van mekaar verskil, beteken net een ding – maak nie saak van watter hoek, kant of perspektief jy dit benader nie – die einddoel van alle dinge is die vereniging van alle dinge. En – die aktiewe proses wat dié proses onderlê en rig, is die feit dat daar gesoek moet word!

Die geestelike fondasie van elkeen van bogenoemde interpretasiemoontlikhede is Jesus se merkwaardige gebed in Joh. 17:21 – “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees”. Die grondslag van verborgenheid en die gepaardgaande soeke is ontsaglik belangrik vir die herstel van die heerlikheid. Sela hieroor.

2 Thes. 1:10 praat van “wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges”, maar meer korrek is die DBY-vertaling: “when he shall have come to be glorified in his saints”. Die “hoop op (die herstel van die) heerlikheid” van Kol. 1:27 word moontlik gemaak deur die “verborgenheid” van “Christ in me”.

Wanneer daar ‘n inmekaarvou is van “die verborgenheid van God” en “my tabernakel”, soos Job 29:4 dit stel, manifesteer die heerlikheid van God IN my. Die woordjie verborgenheid in Hebreeus is die woordjie sôd, wat in die piktorale oorsprong van die woord beteken: “a level place, foundation” (Ancient Hebrew Lexicon of the Bible). Dus, die fondasie van eenheid, te wete: ek in jou, jy in my, ons in Jesus, Jesus in God, God in ons, is die bakermat wat God beskik het. Dit kry beslag as ons Hom begin soek. Terselfdertyd is Hy besig om my en jou te soek! In 1 Sam. 13:14 word gesê: “Die HERE het vir Hom ‘n man na sy hart gesoek …” Die hele evangelie word gemotiveer uit Luk. 19:10 – “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” In Joh. 4:23, waar Jesus praat oor die Heilige Gees wat in die mens sal kom bly, wys: “die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.” Dus, in sy volle manifestasie soek God jou. Oor die proses en prosedures van hóé Hy jou soek, wáár Hy jou soek, of watter besonderhede en verdriet daar ook al rondom die soektog is, is deel van die verborgenheid van God, en nie iets wat ons noodwendig die omvang van weet nie. Watter in detail-bemoeienis God met die mens het, blyk byvoorbeeld uit ‘n Skrif soos Deut. 1:33, en laat jou besef hoe min jy weet van Sy onvermoeide pogings: Hy verduidelik aan Israel in die woestyn dat dit Hý is “wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ‘n plek uit te soek om julle laer op te slaan, snags in die vuur om julle te laat sien op die pad waar julle langs moes trek, en bedags in die wolk (was)”.

Met dít in gedagte, is dit nou baie maklik om die verband in te sien hoekom parousia, of die verskynings van die Here Jesus, so belangrik is, en dat ons Hom deurentyd op hierdie wyse moet verwag! Trouens – Hy verskyn oorwegend aan diegene “wat Hom verwag” (Heb. 9:28); “he shall appear to the ones awaiting Him” (ABP).

Die mens se hooftaak en -funksie is derhalwe om God te soek. Jy soek Hom nie omdat Hy weg is, of noodwendig nié te vinde is nie, maar omdat soeke die proses is waardeur die herstel van die heerlikheid gestalte kry – dis die grondslag van die verborgenheid van die voortyd! Tog is die skrikwekkende waarheid wat die Skrif ons voorhou, in die Ou én die Nuwe Testament:

  • “Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom … nie, en hulle soek nie die HERE van die leërskare nie.” (Jes. 9:13)
  • “hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie” (Jes. 31:1)
  • “en tog bekeer hulle hul nie tot die HERE hulle God nie, en ondanks dit alles soek hulle Hom nie” (Hos. 7:10)
  • “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.” (Rom. 3:11; Ps. 14:1-3).

Hierdie realiteit laat mens weer eens besef dat as gevolg van hierdie feit die mens onmagtig is om God te kan ken. Jy kan Hom nie soek as Hy jou nie gesoek het nie! Besef die absolute genade wat reeds hierin opgesluit lê. Soos met die donker primordiale waters van die Beginne, kon daar niks uit hierdie “abyss” (ABP) gegenereer word om lig te wees of lig te word nie – dit het die Gees van God gevra om oor die waters te beweeg – “The Spirit of God was moving (hovering, brooding) over the face of the waters.” (AMP).

Saam met die profeet Jesaja (40:12-14) kan mens inderdaad vra: “Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal? Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?” Eintlik is die antwoord hierop ‘n retoriese vraag – alle inisiatief het uit en deur God gekom.

Maar hoe kan die mens dan enigsins God soek? Dis duidelik – net as die Gees van God die inkubasieruimte word waarbinne iemand afgesonder word. Vir die dissipels verduidelik Jesus in Joh. 14:4 dat hulle reeds die weg ken terug na God toe – “En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.” Die dissipel Thomas is egter eerlik as hy antwoord dat hy en die res nié weet nie: “Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” (vers 5). Hierdie verborgenheid spel uit dat ons die pad terug na die voortyd inderdaad wel ken – maar vergeet het! Die gedeelte vanaf vers 6 tot 9 is so welbekend dat ‘n mens die ware betekenis daarvan nie raaksien nie: “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.”

Volgens Strong dui die woordjie “lank” in die vers hierbo glad nie op die drie-en-‘n-half jaar wat die dissipels Jesus geken het nie, maar slaan dit onteenseglik op vastness: long, many, much. Om te verstaan dat Jesus die Weg is, die Waarheid én die Lewe is om te verstaan Hy is “‘n voorbeeld van alles wat … in die gees” (1 Kron. 28:12) is, “‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge” (Heb. 8:5).

Verstaan dan die belangrikheid – hoe God Homself ten volle in sy Seun voortgeplant het, en Hy het die Voorbeeld geword, “die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping”, “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is … alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” (Kol. 1:15-17). Daarna het Hy die Gees van God aan die twaalf dissipels oorgedra (Joh. 20:22). Benewens die feit dat die dissipels/apostels dit ontvang het, was daar 70 wat uitgestuur is wat ongetwyfeld die Heilige Gees ontvang het, asook die 120 mense wat byeen was met die uitstorting van die Heilige Gees, asook die 3000 mense wat toegevoeg is tot die ekklesia (Hand. 1:15; 2:5; 2:41). Daarna, deur handoplegging, is die Gees van God oorgedra en in menslike tabernakels gevestig, tot vandag toe.

Wat is dus die Weg waarmee ons terugkeer na God toe, en hoe soek ons Hom derhalwe? Die antwoord lê in Ef. 3:20 – “aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag (= Christus – 1 Kor. 1:24) wat in ons werk”. Die profesie van Eseg. 38:16  het dramaties waar geword: “Aan die einde van die dae sal dit wees …sodat die nasies My kan ken as Ek My in jou … voor hulle oë as die Heilige laat ken.”

  • Sela: Probeer die laaste paragraaf internaliseer.
  • Lees: 2 Thes. 2-3; 1 Tim. 1-6; 2 Tim. 1
  • Memoriseer: 2 Thes. 2:1 (wat sou hierdie Skrif in die konteks hierbo beteken?)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Geheimenis van die Inkarnasie