Dag 1603-1605

 

“hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is

en ‘n beloner is van die wat Hom soek”

 (Heb. 11:6, OAV)

 

Nog ‘n paar belangrike gedagtes oor die stuwende krag van OM TE SOEK. In die laaste Manna is dit as die aktiewe agens geëien wat die proses om die heerlikheid oor die aarde te laat kom, onderlê en rig. Soeke is die meganisme waardeur die herstel van die heerlikheid gestalte kry – dit vorm die grondslag van die verborgenheid van die voortyd! Gerald L. Schroeder skryf in sy openbarende boek, The Science of God: “Millennia passed before humankind discovered that energy is the basis of matter. It may take a few more years before we prove that wisdom and knowledge are the basis of, and can actually create, energy which in turn creates matter.” (Inleiding, p. ii).

As ‘n mens oor hierdie verreikende stelling nadink, besef jy dat in Einstein se bekende formule, E = mc², is daar ‘n geheimenis wat meebring dat onsigbare energie getransponeer kan word tot sigbare materie! As Christus “die krag en die wysheid van God” (1 Kor. 1:24) is, asook die “kennis van God” (2 Kor. 10:5), en dit word deurdrenk met Geesenergie, is dit absoluut moontlik dat hierdie wysheid en kennis, wat bestaan in verborgenheid, voorbeskik is om fisiese materie op die aarde te kan word, materie vol heerlikheid! Dit is presies wat 1 Kor. 2:7 ook dan uitspel: “Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid …”

Om te soek na wat A.W. Tozer so mooi the pursuit of God genoem het, is dus van baie groter belang as wat ons enigsins vroeër besef het! Bes moontlik gebeur dit as “die kennis … vermeerder” (Dan. 12:4), as ons “die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom” (Ef. 1:17) ontvang. Die soeke na God is derhalwe miskien een van die belangrikste misverstane onderwerpe in die oorgrote meerderheid gelowiges se lewens.

Uit Rom. 3:11 het ons egter hierdie skrikwekkende waarheid geleer: “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.” Hoe kan die mens dan enigsins God soek, is dan ‘n noodwendige vraag – net as die Gees van God die inkubasieruimte word waarbinne iemand afgesonder word. Dán word dit die krag (= Christus – 1 Kor. 1:24) wat in ons werk”.

       Heelparty Skrifte spel hierdie wetmatigheid van OM TE SOEK en die dramatiese gevolge daarvan in mooi besonderhede uit. Ons haal ‘n klompie tekste aan wat spesifieke inligting oor dié Goddelike proses detailleer:

  • “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.” (Deut. 4:29)
  • “Want omdat julle in die begin nie by was nie, het die HERE onse God teen ons uitgebreek, omdat ons Hom nie gesoek het soos dit behoort nie.” (1 Kron. 15:13)
  • “Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.” (1 Kron. 16:11)
  • “… die wat die HERE soek, het geen gebrek aan enigiets nie” (Ps. 34:10)
  • “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.” (Mal. 3:1)
  • “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:33)
  • “… sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie …” (Hand. 17:27)

 

Die CEV-vertaling bied die vorige vers soos volg aan: “God has done all this, so that we will look for him and reach out and find him. He isn’t far from any of us …” Dit is dus baie belangrik om vir alle mense uit te spel dat dit moontlik is om Hom wél te vind. Dit is baie interessant dat die woordjie “aanraak” hier gebruik word. Dit is tog mos baie duidelik dat ek as vleeslike mens nie Hom as Geeswese kan aanraak nie!

In 1 Kron. 28:9 word dit bevestig: “As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind …” (Let wel: “If you shall seek Him, He shall be found by you.” – ASV). Ook 2 Kron.15:15 spel dieselfde uit: “En die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het met hul hele hart gesweer en met hul hele wil Hom gesoek; en Hy het Hom deur hulle laat vind, en die HERE het hulle rus verskaf rondom.” (ASV: “they sought Him with all their desire. And He was found by them”). Dit is belangrik dat die indirekte rede hier gebruik word as stylvorm, want dit benadruk dat God toelaat/sorg dat Hy gevind word!

Tog is daar een baie spesifieke voorwaarde wat die soekproses ten grondslag lê: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan (= soek), moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:6).

Baie mense voel dit is onregverdig dat Jesus in Joh. 6:44 sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie …”, of soos die Amplified Bible dit stel: “attracts and draws him and gives him the desire to come to Me” (AMP). Wat nou, argumenteer hulle, as Jesus jou nie trek nie?

[Alle verse in die ganse Bybel moet altyd in die reliëf van die res van die Skrif geplaas word. Ons het ‘n geneigdheid om telkens ons geestelike argumente te probeer staaf met ‘n chapter and verse-ingesteldheid, en dan hierdie Skriftuurlike bewys as ‘n een-eenduidige waarheid te probeer aanbied. Dit is belangrik om te onthou dat “die hele Skrif” (2 Tim. 3:16) deur God gegee is, nié “elke” Skrifgedeelte nie (“All Scripture” – ALTNT; nie “Every Scripture” – ACV nie; geheel en al nié: “Everything in the Scriptures is God’s Word.” – CEV). Daar is duidelik dele in die Bybel wat nié enigsins God se wil is nie, byvoorbeeld die vriende van Job se vermaninge aan hom. In Job 42:7 sien ons dit eksplisiet: “En nadat die HERE Job toegespreek het met hierdie woorde, sê die HERE aan Élifas, die Temaniet: My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.” Dit is belangrik dat gelowige lesers van die boek Prediker weet dit is geskryf deur ‘n man wat sy hoë skeppingsdoel en roeping verloor het, en dat veel van wat in hierdie Bybelboek aangebied word, uit hierdie nihilistiese perspektief gelees moet word. Nog ‘n baie goeie voorbeeld is die vers in 2 Sam. 24:1 – “En die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam, en Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: Gaan tel Israel en Juda.” Die presiese selfde geleentheid word ook in 1 Kron. 21:1 aangebied, en dan word daar stellig die volgende beweer: “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.” Wie was dit nou – God of Satan? Die Treasure of Scriptural Knowledge sê tereg oor hierdie parallelle verse: “This verse, when read without reference to any other part of the word of God, is very difficult to understand …” Hieruit vloei ‘n baie belangrike beginsel ten opsigte van die lees en verstaan van die Bybel – die Bybel is ‘n oop teks, nie ‘n geslote teks nie, en derhalwe gaan dit oor die interpretasiemoontlikhede wat oopgemaak word, en nie noodwendig toegemaak word nie, met ander woorde die Skriftuur is ‘n lewende konstruksiewerf, “to recover what has been forgotten, to restore what has been lost, to perpetuate the presence or being of words” (Foucault se woorde). Die enkele leesmodusse wat ons in Manna Dag 1594-1596 aangetoon het, het ons diskursiewe tekspraktyke genoem, en is wyses waarop ‘n teks óópgemaak word. Dit is in teenstelling met teologiese denke wat dikwels die Bybelteks wil afsluit en tóémaak, en derhalwe noodwendig vereng. Dit bring veral mee dat die Bybel nie soseer ‘n morele voorskrif is nie, maar ‘n “grace-laden mystery” – Brennan Manning: The Ragamuffin Gospel, p. 205).]

As ons nou moet verstaan hoekom Jesus in Joh. 6:44 sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie …”, en ons wil argumenteer wat gebeur dan nou as Jesus jou nie trek nie, is dit van groot belang dat ons ander Skrifte teen die grein van hierdie een moet verreken. Byvoorbeeld, Rom. 2:11 – “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.” (Hierdie spesifieke frase word frekwent in die Skrif herhaal, in Deut. 10:17; Matt. 22:16; Luk. 20:21; Hand. 10:34; Gal. 2:6, Ef. 6:9; Kol. 3:25; 1 Pet. 1:17, onder andere). God is nie ‘n aannemer van die persoon nie, met ander woorde Hy behandel alle mense gelyk en het, gemeensaam gesproke, nie witbroodjies nie. Jesus word prontuit genoem die Regverdige (Hand. 7:52; 22:14; 1 Joh. 2:1), en een van God se Name is inderdaad DIE HERE ONS GEREGTIGHEID (Jer. 23:6). As God dan almal dieselfde behandel, is dit dus onmoontlik vir Hom om nié ALLE mense te trek nie. Ons ken Joh. 3:16 uit die hoof: “Want so lief het God die wêreld gehad …”, nié net die uitverkorenes nie! God het sy Seun “vir ons almal oorgegee” (Rom. 8:32), en Hy het Homself “gegee … as ‘n losprys vir almal” (1 Tim. 2:6). In Jesus se eie woorde het Hy die volgende eenvoudige waarheid uitgespel in Joh. 12:32 – “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”

Dit is dus absoluut duidelik – “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Pet. 3:9). En dan dié doodskootskrif waarteen niemand verweer het nie: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.” (Tit. 2:11). Hy het alle mense getrek na Hom toe. Punt. Alle mense.

Hierdie misterie verdiep egter dermate, nie net dat Hy alle mense roep nie, maar ook dat Hy die offer van alle mense geword het sodat hulle ten volle met God versoen kan word. 1 Kor. 15:22 maak een van die gevaarlikste stellings in die hele Bybel: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word …” Hierdie waarheid laat die meeste van ons Gereformeerde en Charismatiese sekerhede verkrummel. Ons het geen benul van dié onversadigbare liefde van hierdie God nie. Die Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw het in die gedig ‘Die Profeet’ (in Die Halwe Kring) gesê: “Hy wat alles eis / en nimmer vind versadiging”. Brent Curtis & John Eldredge skryf in The Sacred Romance (p. 97): “God has pursued us from farther than space and longer ago than time. Our romance is far more ancient … God has had us in mind since before the Foundations of the World. He loved us before the beginning of time, has come for us, and now calls us to journey toward him, with him, for the consummation of our love.” [Later veel meer oor hierdie opsienbarende geheimenis van 1 Kor. 15:22.]

Maar die vraag bly steeds staan – hóé doen Hy dit; hoe trek Hy mense na Hom toe?

As alles wat ons in die paragrawe hierbo beskryf het van God wáár is, “omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:19), kan dit onmoontlik op enige ander wyse geskied as deur die liefde. Ons keer hierdeur terug na die ontsaglike belangrike doel van alle dinge – om in God verenig te word. 1 Joh. 4:16 is so welbekend, dit verhelder ons helaas nie meer nie: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” As God liefde IS, IS liefde ook God. Daarom is die enigste wyse waarop God ALLE mense na Hom toe trek, nie deur kennis van Hom nie, maar deur liefde, deur “die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Ef. 3:19). Die Ou-Testamentiese profeet Hosea (11:4) hou die sleutel: “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek …”

  • Sela: Wat sou die implikasies wees van die laaste Skrif?
  • Lees: 2 Tim. 2-4; Tit. 1-3; Fil. 1; Heb. 1-2
  • Memoriseer: 2:11 (hoe mooi is hierdie sinchronisiteit nie!)
  • Delf dieper: Lees een van die boeke hierbo genoem.