Dag 1606

 

“Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie …”

 (1 Joh. 4:8, OAV)

In die vorige Manna het ons geleer dat God op sy eiesoortige wyses alle mense na Hom toe trek. Ons het dit afgesluit met ‘n ontsaglik belangrike vraag: hóé doen Hy dit; hoe trek Hy mense na Hom toe?

Dit wat alles wáár is van God “omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:19), bring ‘n groot verborgenheid mee, want sy wesensaard – wat liefde is – kan dit onmoontlik op enige ander wyse bekend maak as in en deur die liefde. Ons moet die stralingsenergie van 1 Joh. 4:16 meer in diepte ondersoek: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” As God liefde IS, IS liefde metafories gesproke ook God. Daarom is die enigste wyse waarop God ALLE mense na Hom toe trek, nie deur kennis van Hom nie, maar deur liefde, deur “die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Ef. 3:19).

In sy boek, Met die leë hande van geloof (oorspronklik gepubliseer as True Spirituality), maak Francis Schaeffer hierdie belangrike opmerking: “God word in sy skeppingsaktiwiteite slegs deur sy karakter beperk.” (p. 86). As God se karakteraard dus eksplisiet uitgespel word as liefde, word Hy duidelik dan ook daardeur beperk; dit wil sê Hy kan nie anders as om deur sy wesensaard mense te trek nie, want immers is die liefde van alle dinge die grootste (1 Kor. 13:13). Ons kan egter nie hierdie liefde kwalifiseer volgens ons eie definisies en voor- en afkeure of eie denkkonstruksies of menslike nadenke daaroor nie, want die meeste gelowiges dra bepaald nie die ongekontamineerde liefde van God (Joh. 5:42) in hulle nie. Geloof, byvoorbeeld, werk volgens Gal. 5:6 nét deur die liefde! Dit is ‘n skrikwekkende waarheid wat mens maklik kan ontglip, maar wat enorme implikasies het vir ons geloofswandel. Sela! Ook die uitspel van ‘n analoë waarheid: dit is nét as jy “in die liefde gewortel en gegrond is” dat Christus deur die geloof in jou hart kan woon (Ef. 3:17)! Jy kan net “in liefde die waarheid betrag” (Ef. 4:15). Waarlik, 1 Joh. 4:8 se sweeping statement bied veel vir elke gelowige om oor te besin: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie.”

Dit wat ons in ons lewens as die liefde ag, dit waarlik op die proef gestel word (2 Kor. 8:8), sal openbaar dat ons “sonder natuurlike liefde is” (Rom. 1:31), om nie eens te praat van “die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 8:39) is nie.

Liefde is helaas nie net ‘n keuse nie, maar ‘n manifesterende staat van ware wedergeboorte, weliswaar dié waarmerk van die goddelike natuur. Gaan lees weer Manna Dag 1379-1391 waarin daar gepoog is om die liefde soos God dit bedoel het te omlyn.

Om weer terug te keer tot die vraag wat ons besig is om te probeer beantwoord, naamlik hoe trek God mense na Hom toe?, wil ek verwys na C.S. Lewis, wat in sy aangrypende boek: Surprised by Joy, praat van “the steady, unrelenting approach of Him whom I so earnestly desired not to meet” (p. 78). ‘n Raker beskrywing van die soeke-proses tussen God en mens kan jy kwalik elders kry.

  • Sela: Is die liefde ‘n manifestasie van ware wedergeboorte in jou lewe?
  • Lees: 3-5
  • Memoriseer: 3:7-8
  • Delf dieper: Lees een van die boeke hierbo genoem.