Dag 1607-1608

 

“I led them with ropes of human kindness, with ties of love.”

 (Hos. 11:4, NLV)

 

Om dan terug te keer tot die vraag wat ons tans besig is om te probeer beantwoord: Hoe trek God mense na Hom toe? Die profeet Hosea (11:4) bied ‘n belangrike sleutel in hierdie saak: “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek …”

Hoe maklik ‘n vertaling met die beste bedoelings die sentrale boodskap van hierdie vers kan mis, is duidelik uit die volgende voorbeelde:

  • “I stretched them with the bonds of my affections …” (ABP)
  • “I led them with kindness and with love, not with ropes …” (CEV)
  • “I will draw them with the cords of Adam …” (DRB)
  • “I led them with leather cords, with leather ropes …” (NET)
  • “I led them with kindness and love. I did not lead them with ropes.” (NIRV)

[Gelowiges moet met die loop van tyd absoluut begin besef dat elke Bybelvertaling en –parafrase helaas in ‘n baie groot mate die teologiese perspektief van die vertalers oordra. Die oorspronklike teks word getint deur die iris van hulle lewensbeskoulike verstaan, by wyse van spreke. Ons moet onthou  dat vertaling, en veral parafrase, mensewerk blý, and much is lost in translation. (Probeer in elkeen van die voorbeelde hierbo die fout vind met die vertaling, sommer as ‘n selfoefening.)

Die volgende drie meer korrekte vertalings bied ‘n raker verwoording van die diepgang van hierdie vers:

  • “who was guiding them on through human means with reins made of love …” (CJB)
  • “that I was leading them with human ties, with leading-strings of love …” (NJB)
  • “I led them with ropes of human kindness, with ties of love.” (NLV).]

Die ganse boek van Hosea bied ‘n profetiese rede wat die evangelie van Jesus Christus in belangrike kernwaarhede en pragtige metafore uitbeeld. Die naam van die profeet, hôshêa‛, beteken in Hebreeus “verlossing” en word afgelei uit die yâsha‛ (Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions) waaruit ‘n mens duidelik die Naam van die Verlosser, Yashua, kan raaksien. Derhalwe kan ‘n mens Hosea duidelik tipologies sien as ‘n voorloper en verteenwoordiger van Jesus die Christus. Interessant is dat hy in Hos. 1:1 “die seun van Beëri” genoem word, en laasgenoemde se naam beteken “fountained” (Strong), of dan “my well or welling-forth” (Albert Barnes’ Notes on the Bible). Die fontein is in die Ou Testament duidelik ‘n simbool van “die HERE, die fontein van lewende water” en in die Nuwe Testament duidend op die Heilige Gees se manifestasie vanuit die Geesvervulde persoon, “‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Joh. 4:14).

Vandat Izak in Gen. 26:19 begin het om putte te grawe tótdat hy “‘n put met lewendige water”, ‘n fontein, gevind het, word die soeke daarna dwarsdeur die Bybel voorgehou. In Hoogl. 4:12 word die Bruid gekarakteriseer as “‘n geslote tuin, ‘n geslote bron, ‘n verseëlde fontein”, en in vers 12: “U is ‘n fontein van die tuine, ‘n put met lewende water wat van die Líbanon afvloei.” In Op. 7:17 lees ons van “die Lam wat in die middel van die troon is, (wat) hulle (sal) laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei”, en later in Op. 21:6 word Jesus die Christus “die Alfa en die Oméga, die begin en die einde” voorgehou as “die fontein van die water van die lewe”. In die laaste hoofstuk van die Bybel word die Fontein “‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam” (Op. 22:1)!

Lees ‘n mens in Génesis 7:11 van “die fonteine van die groot watervloed”, dan begin ‘n mens vermoed dat daar veel meer simbolies in fonteine skuil as wat ons op sigwaarde vermoed. Die verskuilde fonteine waaruit onder andere die primordiale waters gespruit het, of: die primordiale waters wat oorsprong aan die fonteine gebied het – ons weet nie presies watter scenario die ware oorspronklike toedrag van sake is nie – het onteenseglik dan te doen met die Bruid se korporatiewe identiteit.

In 2 Pet. 3:5 verduidelik die apostel dat mense moedswillig vergeet “dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord [Logos] van God”. Ons weet derhalwe uit Joh. 1:3  “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” Maar as die Christus as rhemawoorde toe reeds weggesteek was in Jesus, die Logos, moes alles eweneens alle dinge in en deur die Bruid in Christus geskep wees, en dan is die primordiale waters van Gen. 1:2 ‘n beeld van daardie identiteit. Heb. 11:3 (AMP) verduidelik dit soos volg: “By faith we understand that the worlds [during the successive ages] were framed (fashioned, put in order, and equipped for their intended purpose) by the [rhema] word[s] of God, so that what we see was not made out of things which are visible.” (My invoeging.)

Gen. 1:2 se verwysing na die primordiale waters (= Christus) met die Gees “hovering, brooding” (AMP) daaroor, laat mens onmiddellik met 2 Kor. 3:18 as agtergrond besef dat dit in wese “die Here (Jesus is) wat die Gees is”! Wat ‘n lieflike beeld van Jesus en sy Christus, reg aan die beginne toe alle dinge geskep is!

As ‘n mens dan begin let op die voorkoms van fontein in die Skrif, kom dit dikwels voor as iemand se lotsbepalinge gestalte kry, of daar ingrypende lewensbesluite gemaak word. Kortom – dit is bes moontlik dus ‘n simbool van skeppingsdoel of roeping. Net enkeles as voorbeeld:

  • “En die Engel van die HERE het haar by ‘n fontein in die woestyn gevind, by die fontein op pad na Sur …” (Gen. 16:7)
  • “Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: HERE, God van Abraham, my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak—ek staan hier by die fontein laat dit nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog ‘n bietjie water uit jou kruik drink … Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar gesê: Laat my tog drink!” (Gen. 24:42-43 & 45).
  • “En sy sê: Gee my tog ‘n geskenk; omdat u my na ‘n dor land versit het, moet u my waterfonteine gee. Toe gee hy haar fonteine op die hoogte en fonteine in die laagte.” (Jos. 15:19).
  • “En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.” (Joh. 4:6)

As ons Hosea tipologies sien as ‘n voorloper en verteenwoordiger van Jesus die Christus, en hy “die seun van Beëri” genoem word, oftewel “welling-forth”, is dit duidelik dat wanneer ons Hos. 11:4 as sleutel moet begin interpreteer, die skeppingsdoelposisie in Christus van die uiterste belang is. In die volgende Manna ontvou hierdie geheimenis.

  • Sela: Is jou fontein oop?
  • Lees: 6-11
  • Memoriseer: 11:3 (uitsonderlike sinchronisasie!)
  • Delf dieper: Ondersoek die geldigheid van die Bybelvertaling wat jy die meeste gebruik.