“Smaak en sien dat die HERE goed is …”
(Ps. 34:8, OAV)
Uit die vorige Manna: As ons Hosea tipologies sien as ‘n voorloper en verteenwoordiger van Jesus die Christus, en hy “die seun van Beëri” genoem word, oftewel “welling-forth”, is dit duidelik dat wanneer ons Hos. 11:4 as sleutel moet begin interpreteer, die skeppingsdoelposisie in Christus van die uiterste belang is. In hierdie Manna ontvou dié geheimenis verder.
Mannalesers sal onthou dat ons besig is om beslag te gee aan die begrip soeke. In die profeet Hosea se belangrike woord gebruik hy hierdie begrip dikwels; trouens dit word ‘n sleutelbegrip om hierdie tipologieprofesie te begrond. Byvoorbeeld, in Hos. 3:5 – “Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae.”
Ons weet nou al wat presies beteken “die laaste van die dae”, dat dié epog ‘n aanvang geneem het met Jesus se opvaart na die hemele en kort daarna die uitstorting van die Gees van God, oftewel Jesus se (weder)koms na die aarde. (Gaan lees weer Manna 1340-1341.) Voorts – in Manna 1537-1539 is uitvoerig verduidelik wat die implikasies is vir die Bruid in terme van die troon van Dawid, dat alle wedergeborenes in Christus Jesus geroep is om op die troon van die koninkryk van God te sit.
Daar sal ook in hierdie proses ‘n openbaring kom oor die goedheid van die Here. God het ‘n enorme probleem met mense wat tussen-in dink, wat lou is, en nie koud of warm is nie (Op. 3:15-16). Onthou die duidelike waarskuwing van Sef. 1:12 – “En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.” Die droesem van ongeloof, die sorge van die lewe, hardheid van hart, ongehoorsaamheid, die aaklige nagevolge van die mens se sondigheid en ‘n onvermoë om te verstaan wat die wil en plan van God is, veroorsaak dat ons – soos Eli (1 Sam. 4:18) – “dik word op ons afsaksel”, en nie God se goedheid kan verstaan of insien nie. Dit is hoekom Dawid in Ps. 34:8 ons uitnooi: “Smaak en sien dat die HERE goed is …” Daar is ‘n bepaalde rykdom in sy goedheid (Rom. 2:4) wat ons nog geensins ken nie.
2 Pet. 1:3 lê ‘n duidelike verband tussen roeping, heerlikheid en God se goedheid: “He has called us to receive his own glory and goodness!” (NLT). Dit word onteenseglik bevestig deur die versoek van Moses in Eks. 33:18 aan God: “Laat my tog u heerlikheid sien.” In vers 19 lees ons hoe dit gestalte gekry het: “And God said, I will make all My goodness pass before you …” (AMP). Die kennis van die heerlikheid wat oor die hele aarde moet kom (Hab. 2:14), is onteenseglik ‘n kennis van sy goedheid!
Daar is veel meer hieroor te sê, maar ons sal eers later weer uitkom by wat hierdie karakteristieke eienskap van God is, en die volvoering daarvan deur wat Hy doen, as ons dit in groter detail bespreek.
- Sela: Is dit jou oortuiging dat God nét goed is?
- Lees: 12-13; Jak. 1
- Memoriseer: 1:17 (let op hierdie sinchronisasie!)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws oor die goedheid van God: Elkeen wat Bid
ontvang – Die Gebed van die Geloof