Dag 161

 

“soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword”

(1 Kor 4:13, OAV)

Die volgende vals ketting wat ons aan die vals horing van gebruikersgeloof vasmaak, is wat vryweg algemeen die prosperity gospel genoem word. Die uitgangspunt van hierdie beweging is: “that health and prosperity are promised to all believers, and are available through faith”. Ons ken almal die slogans: “What I confess, I possess” en “Name it, claim it, frame it.” Daar bestaan soveel argumente en studiestukke oor hierdie saak, en dis geensins ons doel om in die debat betrokke te raak nie. Uiteraard is daar veel in die werk van Kenyon, Hagin, Dollar, Copeland en Hinn wat baie mense deur die loop van jare geseën het, en die doel is nie om die baba met die badwater uit te gooi nie, maar dit is van die uiterste belang dat ons dui op die uiters gevaarlike slaggate van hierdie benadering.

Op grond van ‘n persoonlike openbaring van Jesus (soos gedokumenteer in die boekie How to write your own ticket with God) formuleer Kenneth Hagin ‘n “formula of faith”. Die misleiding begin vir my hier. Die Koninkryk van God werk NOOIT met formules nie. Soveel mense word gelok na die glamour and glitz van geloofsglansfigure op televisie waar oorvloed in materiële terme, voorspoed in alle fasette van jou lewe en genesing wat altyd ‘n waarmerk is van jou geseënde bestaan as gelowige voorgehou word. Die lewende getuienisse en dramatiese beeldmateriaal voer jou dikwels weg na ‘n hemelse utopia van geestelike verwagting.

Die presumption ten grondslag van hierdie teologie is die vangstrik. Waar pas Paulus, byvoorbeeld, in as hy in 1 Kor 4:11-12 sê: “Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond, en swoeg ons deur met ons eie hande te werk.”? En in 2 Kor 11:25: “Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring – dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.”

Heb 11:37 klink vir my finaal die doppie van hierdie teologie as van die geloofshelde gesê word: “Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel …” Maar God sy dank wat ons ten spyte van omstandighede altyd laat triomfeer in Christus (2 Kor 2:14). Inderdaad: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.” (Ps 34:19).

Pasop dat jy nie deur hierdie doktrine na die Koninkryk gelok is nie!