“… dit is tyd om die HERE te soek …”
(Hos. 10:12, OAV)
Tans ondersoek ons die profeet Hosea tipologies en verklaar ons hom as ‘n voorloper en verteenwoordiger van Jesus die Christus, veral as gevolg van die direkte verband wat sy naam het met Yashua, die Verlosser van die wêreld, en die Versoener van alle dinge, “bringing many sons into glory” (Heb. 2:10, AMP). Sela weer hieroor. Voorts – as “die seun van Beëri”, oftewel “welling-forth”, is dit duidelik dat wanneer ons Hos. 11:4 as sleutel moet begin interpreteer, is die skeppingsdoelposisie in Christus van die uiterste belang.
Mannalesers sal onthou dat ons besig is om beslag te gee aan die begrip soeke. In Hosea se belangrike profetiese woord gebruik hy hierdie begrip dikwels; trouens dit word ‘n sleutelbegrip om sy tipologieprofesie te begrond. Verlede keer het ons na die bydrae van Hos. 3:5 gekyk wat hierdie soeke belig het, en uitgewys dat die gevolge daarvan lei tot ‘n openbaring van die goedheid van God in die laaste dae.
In verskeie verse in Hosea word die verkeerde soeke uitgespel, ‘n soeke na ander minnaars (Hos. 2:7), of false comfort (Hos. 5:15), of ‘n soeke na (vals) godsdienstige offers (Hos. 5:6). Soos Hos. 7:10 dit saamvat – “en ondanks dit alles soek hulle Hom nie”, want “(they) seek after falsehood” (Ps. 4:2, ASV). Onthou die woorde van Jesus in Matt. 6:23 – “Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” Dit is absoluut moontlik dat ‘n gelowige homself mislei (Gal. 3:6) in sy soeke, en dat sy soeke na God eintlik net ‘n poging van die dwingende bevrediging van ‘n eie behoefte is. Dit is eweneens moontlik dat jou hart mislei kan wees in die proses van hierdie soeke, en dan sê Jak. 1:26 dat die godsdiens van so ‘n mens tevergeefs is. Soos Hos. 6:5 dit stel – hulle sal “heengaan om die HERE te soek, maar Hom nie vind nie. Hy het Hom aan hulle onttrek.” Dit is ‘n afgryslike gedagte.
Die laaste Skrif uit Hosea waarby ons wil stilstaan, is die belangrike Hos. 10:12 – “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle ‘n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.”
Geregtigheid staan dus absoluut sentraal ten opsigte van soeke. Onthou die sleutelskrif van Matt. 6:33 – “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Hierby sluit Jes. 64:5 ten nouste aan: “U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen …” Dus – by die geregtigheid moet daar baie beslis vreugde aanwesig wees – immers: “die koninkryk van God is … geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14:17).
Daar sal baie beslis eers gekyk moet word na wat hierdie kernbegrippe in wese beteken, voordat ons by ‘n goeie verklaring van Hos. 10:12 kan uitkom.
- Sela: Probeer beslag gee aan jou verstaan van die woordjie ‘geregtigheid’.
- Lees: 1 Pet. 3-5
- Memoriseer: 1 Pet. 5:7
Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Word ‘n Leraar van Geregtigheid