Dag 1613-1614

 

“… die koninkryk van God is … geregtigheid …”

 (Rom. 14:17, OAV)

Uit Rom. 14:17 leer ons “die koninkryk van God is … geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14:17), en het ons besluit ons moet eers kyk na wat hierdie kernbegrippe in wese beteken. Op die oog af lyk dit voor die hand liggend, maar as jy die betekenis probeer vasmaak, besef jy gou dit is moeilik om die begrippe onder ‘n definisie te probeer laat tuiskom.

Geregtigheid (righteousness) word deur die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible eenvoudig verklaar as “straight”, met ander woorde nie pervers of krom nie. In Manna Dag 840 is die woordeboekinskrywing van ‘perversie’ onder andere gebruik om te sê dit is: “To turn from the right; to corrupt.” (Webster). Die etimologiese betekenis is besonder beeldend – dit wat reguit is, word deur perversie krom gemaak. Daar is dikwels ‘n gees van perversie agter die proses om geregtigheid teen te staan of ontdaan te maak. Die gees van perversiteit beroof enige saak, terrein of aksie van sy bedoelde (“reguit”) aard, en verdraai dit, voeg valse waarde, betekenis of konnotasie daaraan. Dit ontneem dinge en mense hul bedoelde skeppingsdoel. Hierdie gees roof die waarheidskarakter en die bedoelde wesensaard van die bestaan van dinge en mense.

Daarbenewens veroorsaak die gees van perversiteit dat reg en geregtigheid teengewerk word, vals getuienis opgewek word, die gang van die wet of standaard (openlik of subtiel, altyd berekend) afgebreek word. Hierdie gees laat homself ook geld om die natuur en die natuurlike aard van dinge te perverteer, en dit anders, opgesmuk, verdraai of onnatuurlik te maak. Deur hierdie geperverteerde beïnvloeding gaan die persoon op ‘n syspoor, ‘n afdraaipad, ‘n verkeerde koers, en mis derhalwe só sy skeppingsdoel en roeping. Ons het heelwat hieroor in die opvolgende Mannas geskryf.

God omvat absolute geregtigheid – Hy is “totale geregtigheid” (Rom. 3:5), of “die volheid van geregtigheid” (Job 37:23); daarbenewens is dit ook een van God se Name, Jehovah-Tsidkenu (Jer. 23:9), en dit is derhalwe een van sy wesenseienskappe (Ps. 71:19). Die grondslag van geregtigheid is regverdigheid, en dit omsluit sy karakter: “Die HERE is genadig en regverdig, en onse God is ‘n ontfermer.” (Ps. 116:5). In sy handelinge met die mens sal “die heilige God … Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid” (Jes. 5:16), oftewel: sy regverdigheid (Ps. 11:7; Eseg. 18:5; Rom. 3:26). Jer. 9:23 spel dit omonwonde uit dat “God nét “goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde” doen. Dit is dan eenvoudig te verstaan dat die Vader as “Regverdige Vader” (Joh. 17:25) aangespreek word; Jesus Christus as “die Regverdige” (1 Joh. 2:1); en een van die prominente aspekte van die vrug van die Gees, geregtigheid (Ef. 5:9) is. Die ACV hou Rom. 8:10 voor as: “the Spirit is life because of righteousness”!

In Deut. 32:4 besing Moses “die Rots”, en sê dan dat die Rots “righteous and true” is. Uit Rom. 10:4 weet ons nou al Christus is die Rots. Christus is dus ook dienooreenkomstig “regverdig en reg”. Met dit in gedagte is 1 Kor. 1:30 ‘n absolute sleutel: “Maar deur Hom [God] is julle [nou] in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.”

Wanneer in Luk. 1:17 gepraat word oor die gees van Elia wat vrygestel gaan word met die onthoofding van Johannes die Doper, is een van die drie vooropgestelde dinge wat hierdie korporatiewe gees bewerk spesifiek om “die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges” te bring. Hieruit kan ‘n mens aflei dat God se groot premie op gehoorsaamheid (1 Sam. 15:22) dikwels nie nagekom word nie, en as gevolg daarvan kan gelowiges nie die gesindheid van regverdiges bekom nie. Die gees van Elia fasiliteer hierdie uiters belangrike faset van die Bruid van Christus.

Uit 1 Joh. 2:29 word dit duidelik dat alle mense in ongeregtigheid gebore is (Ps. 51:5; 58:3; Job 14:4; Rom. 5:12), maar dat wedergeboorte – en nié net redding as sodanig nie – die kapasiteit tot geregtigheid in gelowiges tot stand kan bring: “As julle weet dat Hy regverdig is, dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is.”

Daar is dikwels ‘n misverstand oor die feit dat Jesus se geregtigheid óns as sondaars se geregtigheid word, en dat dit ‘n volmaakte, finale offer is. Dít is waar ten opsigte van redding, en word ook spesifiek genoem die geregtigheid wat uit die geloof is. Rom 9:30-32 verduidelik dit mooi: “Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot.”

Die voorgeskrewe wetmatigheid van die wet in die ou verbond het behels wat Deut. 6:25 voorhou: “En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.” MAAR dit verander reeds in God se werkinge met ons geloofsvader, Abraham – vir wie Hy die vooruitskouing gegee het: “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (Gen.15:6). Ten spyte daarvan dat Jesus die enigste moontlike geregtigheid aan ons as die gevalle mensdom kan bied, en Hy ons geregtigheid word, vra die nuwe verbond geloof, wat God tot geregtigheid reken (Rom. 4:5). Onthou: “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6).

Hierdie geregtigheid geld egter slegs ten opsigte van REDDING. Daarna moet die Bruid beklee word “met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8).  Hieroor het Jes. 61:10 reeds geprofeteer: “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel—soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.” Op die gehoorsame lewenswandel laat God “geregtigheid en lof … uitspruit” (Jes. 61:11).

Soos geregtigheid uitspruit en vermeerder in die Liggaam van Christus, kom “die nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet. 3:13), tot stand. Die nuwe hemel is die nuwe geestelike denke, “the mind of Christ” (1 Kor. 2:16, ASV), en die nuwe aarde is die liggaam vol heerlikheid waarvan jy korporatief met die wedergeboorte deel word. As jy inderdaad “honger en dors na die geregtigheid”, sal jy bepaald “versadig” (Matt. 5:6) word.

In 1 Joh. 3:7 word hierdie baie belangrike stelling gemaak: “wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is”. Die Bruid verwerf met ander woorde hierdie karaktereienskap van geregtigheid en regverdigheid, en sal derhalwe “die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee” (2 Tim. 4:8), ontvang.

  • Sela: Dra jy reeds die kroon van geregtigheid, vandag?
  • Lees: 2 Pet. 1-3; 1 Joh. 1-3
  • Memoriseer: 1 Joh. 3:6
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Beklee jou met Geregtigheid –

                               Die Priesterkleed van Ware Outoriteit